Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Belangrike kennisgewing vir US-personeel: Internasionale reis

Personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) word vriendelik versoek om op die volgende besluit te let wat op 12 Junie 2020 deur die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) geneem is:

Daar is 'n verbod op alle internasionale passasiersvlugte, behalwe vir vlugte wat deur die Minister van Vervoer goedgekeur is vir die repatriasie van Suid-Afrikaanse burgers uit die buiteland en vir die verwydering van buitelandse burgers uit Suid-Afrika (Staatskoerant, 30 Mei 2020, nr 43375).

Volgens aanduiding sal internasionale vlugte vir sakedoeleindes eers onder vlak 1 hervat word. Totdat daar dus 'n verandering in nasionale regulasies rakende internasionale reis vir sakedoeleindes aangekondig word, word die internasionale reisverbod tot 30 Oktober 2020 verleng. Dit sal na verwagting gedoen word met inagneming van nasionale skattings oor infeksiekoerse (met 'n hoogtepunt wat in Augustus–September verwag word). Personeel word dus aangeraai om nie vir enige buitelandse konferensies gedurende die tweede semester te registreer of hulself tot enige internasionale reis te verbind alvorens daar nie groter sekerheid is oor wanneer Suid-Afrika na vlak 1 sal beweeg nie.

Inligting oor plaaslike vlugte sal na die volgende IKBV-vergadering bekend gemaak word.