Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alkohol in US-studenteverblyf

Tydelike verbod op die verbruik en verhandeling van alkohol in US-koshuise en PSO-huise

Verlede jaar was vir baie van ons studente en die leef-en-leer-gemeenskappe op ons kampusse ʼn moeilike een, aangesien daar ʼn aantal tragiese en betreurenswaardige gebeure plaasgevind het. Mens dink onmiddellik aan twee voorbeelde. In die eerste geval het ʼn eerstejaarstudent, wat in ʼn koshuis gewoon het, gesterf nadat die moeilike besluit geneem is om sy lewensondersteuningstelsels af te skakel. Hy is gehospitaliseer nadat hy vermoedelik geaspireer het. Die spesifieke omstandighede wat tot sy dood bygedra het is onduidelik. Maar daar was spekulasie dat hy baie alkohol ingeneem het, sowel as gerugte dat een of ander drinkspeletjie, ritueel of koshuistradisie betrokke was. Die tweede voorbeeld is iets wat die afgelope paar maande baie in die nuus was en aan die US, nasionaal en wêreldwyd in die kollig bly: geslagsgebaseerde geweld. Met ander woorde die seksuele aanranding, teistering en verkragting van vroue deur mans.

In 'n onlangse kommunikasie aan die Matie-gemeenskap het die Universiteit Stellenbosch (US) se Raad geslagsgebaseerde geweld ten sterkste veroordeel en die voortgesette interaksie tussen bestuur en studente oor hierdie onderwerp verwelkom. Die Raad het ook sy bekommernis oor alkoholmisbruik onder studente uitgespreek en alle belanghebbers versoek om meer te doen om die probleem te bekamp. Dis nou ons beurt om na vore te tree, eienaarskap te neem en te besluit hoe ons die probleme gaan hokslaan wat ons leef-en-leer-gemeenskappe onveilige en nie-verwelkomende plekke vir baie van ons studente en nuwelinge maak.

In ʼn poging om die kwessie van alkoholmisbruik onder studente te takel, het die US se Rektoraat besluit dat die verhandeling van alkohol in koshuise en hul 'klubs' afgeskaf sal word. In die lig van hierdie besluit moet die Koshuisreëls, wat die gemeenskapsriglyne vir die US se leef-en-leer-gemeenskappe vervat, hersien word – spesifiek daardie afdelings wat oor die gebruik van alkohol in koshuise handel. Dit moet gedoen word om die Rektoraat se besluit in die reglement te reflekteer en sal oor die komende paar maande plaasvind, en teen die middel van 2020 afgehandel wees.

Hoe bring ons die idees van ʼn drank- of fuifkultuur en geslagsgebaseerde geweld by mekaar uit? Daar is ʼn hoofstuk in die joernalis en outeur Malcolm Gladwell se jongste boek, Talking to Strangers (2019), wat juis dit doen. Die hoofstuk se titel is “The Fraternity Party" en hierin ontleed Gladwell die verband tussen ʼn drankkultuur op kampusse en seksuele aanranding. Hy kry sy gevallestudies in die VSA en VK, maar sy argument is ook op Suid-Afrika van toepassing. Dit is veral relevant vir gesprekke oor alkoholmisbruik en geslagsgebaseerde geweld aan die US. Wat veral interessant is van Gladwell se hoofstuk, is die inligting wat hy – gesien sy navorsing – oor die impak van alkohol aanbied. En oor drankgebruik by universiteite ... veral die fuifkultuur.

Die kritikus Emily Yoffe het in die tydskrif Slate geskryf: “Let's be totally clear: Perpetrators are the ones responsible for committing their crimes. Because – and here's the clincher – 'our drunken, blacked-out selves are not the same as our sober selves.' And that applies to men and women. If you are drunk, you are vulnerable – because of what you might do or of what might be done to you. We are not saying gender-based violence takes place because of alcohol abuse; or worse, that being drunk is an excuse for your behaviour. What we are saying is that alcohol abuse is wrong and gender-based violence is wrong. And we have a problem with both." Gladwell verwys na die fuifkultuur onder studente en ander jongmense in die VSA en VK. Ons het in Suid-Afrika ook so ʼn probleem, ook hier op ons eie kampus. 

Ons is geregverdig daarin om woedend te wees oor geslagsgebaseerde geweld en deur dit te bestry bou ons aan ʼnregverdiger samelewing. Die Universiteit veroordeel geslagsgebaseerde geweld en die bestuur het reeds met studente in gesprek getree wat teen hierdie euwel mobiliseer. Ons het ʼn bruikbare memorandum van die US Beweging Teen Geslagsgebaseerde Geweld ontvang en breedvoerig gereageer. Daar is teen die einde van verlede jaar vier vergaderings gehou en ons bring saam werksgroepe op die been wat verskillende aspekte van geslagsgebaseerde geweld sal takel.

Om die meeste uit hierdie tydperk te haal, waarin ons die Koshuisreëls hersien en herbesin oor die manier waarop ons met alkohol in ons koshuise en PSO's wil omgaan, het die Afdeling Studentesake besluit dat geen alkohol in die US-studenteverblyf of op sy perseel verbruik word mag nie. Dit geld vanaf 1 Januarie 2020 totdat die Koshuisreëls hersien is en die onderskeie gemeenskappe op nuwe bepalings ooreengekom het. Sodra die reëls hersien is, sal hierdie beginsels in die Dissiplinêre Kode vir Studente opgeneem word. Die Universiteit sal teen enige koshuis of individu optree wat daaraan skuldig bevind word dat hulle hierdie verbod oortree.

Kortom:

  • Vanaf 1 Januarie 2020 mag geen alkohol in die US-studenteverblyf of op sy perseel verbruik word nie. Alkohol mag nie in koshuise gestoor word nie en die vertoon van leë bottels of blikkies, wat as alkoholiese drank herkenbaar is, word nie toegelaat nie.
  • As alkohol in studenteverblyf gevind word, sal dit gekonfiskeer en vernietig word.
  • Die stoor en gebruik van alkohol in studenteverblyf sal as 'n koshuisdissiplinêre saak hanteer word en herhaalde oortredings word 'n sentrale US studente-dissiplinêre aangeleentheid.
  • Hierdie reëls bly in plek totdat daar ooreengekom is oor nuwe koshuisreëls wat die drinkkultuur positief omvorm. Die nuwe reëls moet daarop gemik wees om 'n kultuur te skep waar die bloedalkoholinhoud van diegene wat alkohol verbruik nie 0,08% oorskry nie.

In ʼn onlangse gesprek met kampusgemeenskapsleiers, het prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, gesê dat alle koshuise na regte proaktief na hul onderskeie kulture, tradisies en grondwette behoort te kyk en dit teen die US se waardes meet. “Wat is ons vyf waardes? Uitnemendheid, deernis, aanspreeklikheid, respek en billikheid. (In Engelse praat ons van ECARE.) Als wat ons doen behoort met hierdie waardes belyn te wees." De Villiers het bygevoeg “[d]ie term 'verantwoordelike alkoholgebruik' is op sigself nie nuttig om die gebruik van alkohol te reguleer nie. Dis veral die geval wanneer alkoholgebruik die sosiale norm is en daar nie ʼn duidelike, universele begrip is van wanneer iemand die grens na onverantwoordelike gebruik oorsteek nie." 

Ons moedig al ons studente aan om die meeste uit hierdie geleentheid te put. Raak saam met die Afdeling Studentesake betrokke by hierdie onderwerp en praat oor hoe jy sou wou hê die leef-en-leer-gemeenskappe in koshuise en PSO-huise met alkohol moet omgaan. Ons verwelkom ʼn tydperk van betrokke gesprekvoering met ons studente waar ons saam sal praat oor maniere om hierdie probleme hok te slaan, sodat ons leef-en-leer-gemeenskappe vir almal veilige en verwelkomende ruimtes kan wees.

Dr Choice Makhetha
Senior Direkteur: Studentesake