Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
16de Internasionale Konferensie oor Kliniese Etiek en Konsultasie

Die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is as gasheer vir die 16de internasionale jaarkonferensie oor kliniese etiek en konsultasie (ICCEC) aangewys. Die konferensie vind van 31 Maart tot 3 April 2020 by die Spier-konferensiesentrum buite Stellenbosch plaas. Aangesien dít die eerste keer sal wees wat die ICCEC op die Afrikavasteland gehou word, is die tema “Beyond borders: Exploring new frontiers” besonder gepas. Teen ’n agtergrond van kulturele kompleksiteit en diversiteit, sal die konferensie kliniese etiekuitdagings ondersoek wat grense versit en denke verskuif.

Kliniese etiek, ’n onderafdeling van mediese etiek, gaan oor die analitiese, gestruktureerde soeke na oplossings vir etiese dilemmas en die ondersteuning van besluitneming en beleidsontwikkeling. Tegnologiese vooruitgang in kliniese sorg by lewensaanvang en -einde, tesame met hulpbrontekorte, bring etiese besluitnemers dikwels voor moeilike strikvrae te staan. Tegnologie en kunsmatige intelligensie skep boonop nuwe etiek- en regsuitdagings op die gebied van biotegnologie.

Gesondheidsorgberoepslui moet by diverse omgewings met veelvuldige kulturele en maatskaplike kontekste aanpas. Die migrasie van pasiënte en gesondheidswerkers oor landsgrense heen het ’n interessante etiese kompleksiteit in die kliniese omgewing tot gevolg. Daarbenewens hou die gesondheidsorgomgewing unieke uitdagings vir interseks- en niebinêre personeellede, studente en pasiënte in.

Die Sentrum hoop dat die konferensie ’n voorspraakfunksie sal vervul om die ontwikkeling van kliniese etiek en konsultasie in gesondheidsorgomgewings oor die hele vasteland te fasiliteer en aan te moedig.

Die subtemas van die konferensie is soos volg:

o Diverse filosofiese benaderings tot kliniese etiekkomitees

o Herkoms en migrasie

o Kliniese etiek, die reg en die samelewing

o Etiese konflik by lewensaanvang en -einde, en kulturele pluralisme

o Ontluikende tegnologieë en kliniese etiek

o Kliniese etiekdilemmas oor gendergrense heen

Gesondheidsorgwerkers en -vakkundiges, bio-etiekkenners, regskenners, beleidvormers en gesondheidswetenskapvennote wêreldwyd sal die etiekuitdagings verbonde aan die verskillende temas interessant vind. Die organiseerders sien uit na ’n uitruiling van idees sowel as nuwe en diverse sienings oor kliniese etiek, wat deelnemers sal aanspoor om hulle gemaksones te verlaat en verskeie filosofiese stelsels te verken wat kliniese etiekbesluite in verskillende wêrelddele beïnvloed. Dít is veral relevant namate geografiese grense al hoe makliker oorgesteek word en migrasiepatrone wêreldwyd kulturele diversiteit en etiekuitdagings meebring.

Afrika is ’n besonder diverse vasteland – sowel geneties as kultureel. Soos die res van die wêreld, is ons ook deel van die Vierde Industriële Revolusie, en sal ons dus ook die uitdagings verbonde aan hierdie digitale omwenteling in gesondheidsorg en kliniese etiek moet hanteer. Ons nooi kollegas om vir die konferensie te registreer en opsommings vir plakkate, mondelinge voorleggings of simposiums in te dien by www.iccec2020.co.za/.

Die sluitingsdatum vir die indiening van opsommings is 18 Oktober 2019.​