Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Volhoubaarheidsfokus vir Junie: Videokonferensie-opsies

Spaar op meer as een vlak deur gebruik te maak van een van die baie bekostigbare videokonferensie-opsies wanneer jy vergaderings met kollegas op Stellenbosch, Worcester en selfs oorsee moet hou. 

Die voordele daaraan verbonde om videokonferensie-tegnologie te gebruik, oortref die ongemak van die kopskuif wat benodig word om jouself te leer hoe dit werk.

Die feit dat jy nie nodig het om te reis nie, spaar tyd. 'n Uurlange vergadering op Stellenbosch neem maklik drie ure uit jou program vir die dag as jy die reistyd na en van die vergadering in ag neem. Omdat jy nie in die verkeer hoef te sit nie, is jou spanningsvlakke ook laer en gesonder.

Verder is dit duidelik dat hierdie opsie ook geld spaar as jy in ag neem dat daar minder slytasie op die voertuig is en die brandstofverbruik laer is.

Die verreikendste voordeel is egter die feit dat daar minder skadelike koolstofgasse vrygestel word deur motors (nog steeds 'n groot bydraer tot koolstofgasse en lugbesoedeling) en vliegtuie (verantwoordelik vir 4-9% van die totale klimaatsveranderingsimpak van menslike aktiwiteite). So dra jy daartoe by om ons lieflike planeet te help bewaar.

VIDEO: Ontdek saam met David Wiles, IT-bestuurder by Gerga, verskillende bekostigbare videokonferensie-moontlikhede wat kan help om die afstande wat ons reis te verminder.