Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skakel in vir die jongste nuus oor jou kampus

​Dit is nou selfs nog makliker om goed op die hoogte te bly van interessante nuus oor Fasiliteitsbestuur. Luister elke Woensdagmiddag om 14:15 na MFM (92.6 FM) vir inligting oor wat die afdeling doen om Universiteit Stellenbosch se kampusse die heel beste kampusse vir studeer en werk te maak.

"Ons het aan die begin van April met die reeks onderhoude begin en reeds belangrike aspekte uitgelig, soos sekuriteit op ons kampusse, die noodsaaklikheid van waterbesparing en ook wat ons doen om te verseker dat die fisiese ontwerp van al ons geboue en fasiliteite in die behoeftes van al ons studente en personeel voorsien," sê Nicolette van den Eijkel, hoofdirekteur van Fasiliteitsbestuur.

"Dit is belangrik om met studente en personeel te kommunikeer en hulle te betrek by wat ons doen, aangesien die fisiese omgewing hul daaglikse aktiwiteite en welsyn op kampus raak. Dit gaan nie net oor hul eie gerief nie, maar ook oor die fisiese en volhoubare omgewing waarin hulle funksioneer."

Moenie bekommerd wees as jy nie Woensdagmiddae kan inskakel nie. Fasiliteitsbestuur plaas ook skakels na die radio-onderhoude op hul webblad, vir ingeval mense die lewendige onderhoude misloop. Om na die onderhoude wat reeds gevoer is, te luister, klik asseblief hier: http://www0.sun.ac.za/fasiliteitsbestuur/rubrieke.htm