Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Neem asseblief deel aan kultuur en klimaatsopname

​Alle US-personeellede word genooi om aan die Universiteit se kultuur- en klimaatsopname deel te neem. Met dié opname wil die US om gehalte- en bedryfsredes die bestuur se voornemens met personeel se opvattings vergelyk. 

Om sukses te behaal in die US se voortgesette strewe na uitnemendheid, relevansie en ’n beduidende sosiale impak, soos in die Institusionele Voorneme en Strategie (IVS) bepaal, maak ons staat op ons mense – veral ons personeellede en ons studente. In geïntegreerde verslagdoeningstaal praat ons van ons “menslike kapitaal”. Daarom is dit belangrik om ’n institusionele klimaat van begrip, waardering, verdraagsaamheid teenoor verskillende kulture en oortuigings, en gedeelde waardes te ontwikkel. 

Waarom die opname? 
Die US streef daarna om ’n voorkeurwerkgewer en ’n toonaangewende universiteit te wees deur voortdurend die werksomgewing vir al sy personeellede – akademici sowel as professionele, administratiewe en steundienspersoneel – te verbeter. Deur die personeelopname oor US-kultuur en -klimaat bied die Universiteit alle personeellede ’n geleentheid om na te dink en hulle menings uit te spreek oor ’n aantal belangrike sake wat hulle as werknemers raak. Die resultate/bevindinge van die opname stel die leierskap van die Universiteit ook in staat om deur middel van ’n omvattende en gestruktureerde program te bepaal watter kernuitdagings ’n nadelige uitwerking op personeel het, en dít dan die hoof te bied. 

Vrywillige deelname 
Let asseblief daarop dat u deelname aan hierdie opname heeltemal vrywillig is. Tog sal die US nie sonder u deelname die haakplekke kan uitstryk nie. Daarom vra ons u om alle vrae so openhartig en eerlik moontlik te beantwoord. Hierdie opname is ‘n geleentheid om die Universiteit belangrike terugvoering te gee oor hoe u voel oor kernkwessies wat u as personeellid raak.

Vertroulikheid, naamloosheid en onafhanklikheid 
Wees ook gerus dat u antwoorde geheel en al vertroulik en naamloos sal wees. Dít beteken dat die Universiteit nie enige antwoorde met enige bepaalde personeellid sal kan verbind nie. 

’n Ekstern gekontrakteerde, onafhanklike diensverskaffer doen die opname namens die US. Die diensverskaffer het die aanlyn platform vir die opname ontwikkel, en dien ook as gasheer van die domein en webtuiste. U personeelnommer en 'n oop Inetkey word benodig om by die skakel
www.susurvey.co.za toegang tot die opname te verkry. Lynbestuurders word versoek om alle personeel wat nie in die uitvoering van hulle pligte toegang het tot epos en die internet nie, in te lig dat hulle spesiale reëlings kan tref om die opname te voltooi met me Adele Josias (adelej@sun.ac.za of 021 808-2867) by die afdeling Menslike Hulpbronne.