Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
DIE FEL OMSTREDE KROON VAN EDWARD II EN GAVESTON
Begin: 13/06/2023, 19:30
Einde: 24/06/2023, 22:00
Kontak:Ulrike Vorndran - 0210012958
Plek: Stellenbosch University Adam Small Theatre Complex; 15 Victoria Street, Stellenbosch

DIE FEL OMSTREDE KROON VAN EDWARD II EN GAVESTON deur Tom Lanoye, België se mees befaamde skrywer en dramaturg wat onlangs sy première by die KKNK gehad het, sal binnekort by die US Adam Small se Laboratorium Teater in Stellenbosch te sien wees.

Die teaterstuk spog met ʼn groep sterbelaaide akteurs: Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Rolanda Marais, André Roothman, Wilhelm van der Walt en Caleb Payne.

Hierdie opwindende werk, is losweg gebaseer op Christopher Marlowe se EDWARD II van 1594. Marlowe self het heerlik herskep aan die tragiese Koning Edward II van Engeland wat na ʼn morsige bewind in 1327 van die troon geset is en daarna deur sy adellikes vermoor is.

Die vraag ontstaan: wat beteken dit om ʼn kroon te moet dra en hoe versoen jy jou eie behoeftes met die verwagtinge van die adel en die gepeupel, asook dié van jou vrou en kind? 

Edward I lê op sterwe en hoop dat sy kroon aan sy kleinkind kan gaan in stede van sy seun wat hy minag as gevolg van dié se verhouding met sy jeugvriend, en nou ook banneling, Gaveston. Maar Edward II word gekroon as koning en Gaveston word ontban en die liefde gedy tot die ontsteltenis van die adel en die bevolking. 

Ná ʼn voorval waarin die aartsbiskop publiek ontmasker vir wat hy werklik is, word hy weer verban, wat die situasie in ʼn politieke en persoonlike krisis laat ontaard.

In hierdie meesterlike aanpassing van Tom Lanoy, waarvan sy taal as ʼn spetterende vuurwerk beskryf is, (Litnet, Marijke Coornaert) kyk hy vlymskerp na die liefde, mag, keuses, kinders, komplekse verhoudings en die plek van die indiwidu binne die samelewing onder die gewig van ʼn baie swaar kroon. 

Die Skitterende pêrels in die kroon is die ses akteurs: Edwin van der Walt as Edward II, Beer Adriaanse as Gaveston en die ligbringer, Rolanda Marais as Koningin Isabella, Caleb Payne as die kroonprins, André Roothman as ou koning en ou Mortimer en Wilhelm van der Walt as jong Mortimer. Saam hef hulle mekaar op, daag mekaar uit en is in grootsheid aan mekaar gewaag. (Marijke Coornaert, Litnet)

Teater wat jou opnuut laat besin laat oor wat nou eintlik die pilare van ʼn beskaafde samelewing sou wees. (Laetitia Pople, Die Burger)

DIE FEL OMSTREDE KROON VAN EDWARD II EN GAVESTON is te sien van 13 tot 24 Junie 2023. Regie en ontwerp is deur Marthinus Basson, musiek deur David Wolfswinkel en beligting deur Nicolaas de Jongh.

Hierdie is ʼn projek van CECO in samewerking met RAMINIDAM en NOVIEGUIDE en die begin van kwartaallikse drama-aanbiedings by die US Adam Small Teaterkompleks.

Vir meer informasie en kaartjie verkope kliek hier.​