Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
OLA-seminaar: ʼn Sluitsteenprojek om die entrepreneurs- en ander noodsaaklike vaardighede van studente
Begin: 11/05/2023, 12:45
Einde: 11/05/2023, 14:00
Kontak:Lucinda Lücks - (021) 808 3717
Plek: Room 3008, Faculty of Education (GG Cillié Building)

Jy word uitgenooi om die volgende kwartaallikse OLA-seminaar van die Afdeling Leer- en Onderrigverryking by te woon.

Spreker:  Dr Albert Strever (Departement Wingerd- en Wynkunde, Fakulteit AgriWetenskappe) (OBU-genoot, 2022-2023)

Onderwerp:   ʼn Sluitsteenprojek om die entrepreneurs- en ander noodsaaklike vaardighede van studente in uitgesoekte AgriWetenskappe-departemente te versterk

Datum:           11 Mei 2023

Tyd:     12:45-1

4:00

Plek:    Kamer 3008, Fakulteit Opvoedkunde (GG Cillié-gebou)

*Slegs in persoon; beperkte sitplekke beskikbaar
RSVP: Lucinda Lücks, llucks@sun.ac.za of (021) 808 3717

Biografie van spreker

Dr Strever is ʼn senior dosent in die Departement Wingerd- en Wynkunde in die Fakulteit AgriWetenskappe en koördineer die innovasie- en entrepreneurskapswerksaamhede van die fakulteit. Hoewel hy in wingerdkunde gespesialiseer het en steeds daarin klasgee, het sy werk met die bevordering van nuwe sake-idees en ontwikkeling in landbou saam met InnovUS, Launchlab en ook in die Winetech-innovasiekomitee, gelei tot die ambisie om in entrepreneurskap en innovasie-tegnologie-integrasie in hoër onderwys te spesialiseer. Dit het gelei tot sy inskrywing in 2022, saam met die eerste inname van studente vir die magistergraad in ingenieursbestuur (MIB-), aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Strever is tans deel van die OBU-genootskapsprogram (Onderrigbevordering op Universiteit).

Opsomming van seminaar

Dr Strever se OBU-genootskapsprojek (2022-2023) fokus op die identifisering van maniere waarop entrepreneurs- en ander toekomsnoodsaaklike vaardighede tot ʼn sluitsteenprojek geïntegreer kan word. Die projek is ontwerp om ʼn gerigte strategie in die Fakulteit AgriWetenskappe te ontwikkel, wat voldoen aan die eise wat gestel word deur die voorbereiding van studente vir die wisselvallige, onsekere, komplekse en dubbelsinnige (VUCA-) omgewing waaraan hulle as graduandi blootgestel sal word. Hoewel sommige departemente in die fakulteit reeds beperkte blootstelling aan entrepreneurskap en ander verwante aspekte bied, is daar ʼn steeds groeiende behoefte aan ʼn omvattende en gerigte strategie, ook in ooreenstemming met die Universiteit se huidige Spelwisselaarprojekte. Die projek behels ook interaksie met ander fakulteite om uit hulle ervaring te leer en het ʼn praktykgemeenskap in die Fakulteit AgriWetenskappe aangevoor om aan hierdie behoefte te voldoen. Die oogmerk is om ontwrigting van die huidige kurrikulums tot die minimum te beperk, terwyl ʼn gedeelde hulpbronbasis vir onderrig, leer en assessering met betrekking tot entrepreneurskap en verwante bevoegdhede ontwikkel word. Die projek het reeds suksesvolle verandering aan een departement se moduleraamwerk bewerkstellig om die sluitsteenbeginsel te implementeer en word tans oor die drie studiejare van die BScAgric (Wingerd- en Wynkunde) ‑program toegepas.

Die projek se pogings word ook aangevul deur ʼn navorsingsopdrag in bedryfsingenieurswese, wat daarop gemik is om ʼn 'radar' vir bevoegdhede en tegnologieë wat op landbou betrekking het, te ontwikkel. Hierdie opdrag sal ook kortliks bespreek word.

Bronverwysings