Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees 2022
Begin: 01/07/2022, 09:00
Einde: 10/07/2022, 18:30
Kontak:Fiona Grayer - 0218082358
Plek: Konservatorium Building, Stellenbosch University

​Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees is weer terug op die verhoog en vind van 1 tot 10 Julie in die Konservatorium, Universiteit Stellenbosch plaas. Kaartjies vir die aandkonserte is nou by Webtickets te koop en besoekers word aangeraai om vroegtydig te bespreek, omdat die Covid-19-regulasies nog van krag en sitplekke in die Endler Saal nog dienooreenkomstig beperk is.

Op 1 Julie begin die eerste konsert met werke van Arvo Pärt en Peteris Vasks.  Die violis Daniel Rowland, wat op publieke aanvraag weer na Stellenbosch toe kom, is by hierdie geleentheid die solis. 'n Bach-Hip Hop stel, wat eietydse uitvoeringspraktyke op vars en nuwe wyse kombineer, sowel as Mendelssohn se laaste strykkwartet maak die tweede helfte van die konsert uit.

Van 2 tot 6 Julie kan besoekers uitsien na werke van o.a. Max Bruch, Amy Beach ('n wonderlike stuk vir fluit en strykorkes met Demarre McGill as solis), Strawinskij (die beroemde L'histoire du soldat), Brahms, Ravel en Franck. Na 'n besonder moeilike tyd vir die uitvoerende kunste as gevolg van die Covid-19-inperkings, waartydens ons drie gevierde komponiste, Peter Klatzow, Allan Stephenson en Thomas Rajna verloor het, sowel as die legendariese violis Ivry Gitlis, die tjellis Alexander Buzlov en die ikoniese beskermhere van die SIKMF, Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu en Denis Goldberg, sal vanjaar se fees aan hierdie persone hulde bring en hul bydraes op gepaste wyse deur middel van musiek eer.  Daarmee saam gaan 'n fokus op hergeboorte, vasberadenheid en kontinuïteit. In hierdie gees baseer Kathy Tagg haar opdragwerk Please Dream: In his words op aangrypende toesprake wat Desmond Tutu op verskeie tye van sy lewe gelewer het.

In die aandkonsert op 7 Julie word Moscheles se Concertante vir fluit, hobo en orkes met Demarre McGill en Dwight Parry as soliste aangebied, asook Tartini se Duiwelstrillersonate met die violis Alissa Margulis, Solima se Violoncelles Vibrez! (Maja Bogdanović en Peter Martens is die soliste) en Johan Mackey se virtuose trompetkonsert Antique Violences met Marco Silva as solis.

In die uitvoerings van die Feessimfonieorkes (8 en 10 Julie), wat deur Berhnhard Gueller gedirigeer word, tree Alissa Margulis (viool), Kyril Zlotnikov (tjello), Luis Magalhães (klavier) en die hoofklarinettis van Berlynse Filharmoniese Orkes, Wenzel Fuchs as soliste op.  Die Feeskonsertorkes word deur Xandi van Dijk gedirigeer en speel werke van Beethoven en Sibelius, sowel as 'n gebed vir die Oekraïne deur Valentin Silvestrov en Peter Louis van Dijk se parodie Beethoven or Bust, met Nina Schumann aan die klavier.

Die Kamermusiekfees se webwerf https://www.sicmf.co.za bevat volledige besonderhede oor die onderskeie konsertprogramme sowel as biografiese inligting oor die fees se gevierde internasionale personeel.