Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aanbieding: Beter maniere om die leesbaarheid van tekste in Afrikaans te bepaal
Begin: 08/11/2018, 14:30
Einde: 08/11/2018, 16:00
Kontak:Jeanene Olivier - 021 808 2167
Plek: Room 3008 (Education Faculty, GGC building)

Op pad na beter maniere om die leesbegrip van tekste in Afrikaans te bepaal

Leesbaarheidsformules word dikwels gebruik om te bepaal hoe moeilik dit is om ʼn gegewe teks te verstaan. Tot nou is vier leesbaarheidsformules vir Afrikaans ontwikkel: twee deur Van Rooyen (1986), een deur McDermid Heyns (2007) en een deur McKellar (2008). In ʼn onlangse studie het ek saam met Rose Richards en Liezl van Zyl van die US Taalsentrum die geldigheid van hierdie vier formules vergelyk aan die hand van bestaande Afrikaanse tekste uit 'n populêre tydskrif en enkele regeringsdokumente.

Eerstens is elke teks gemeet aan die eienskappe wat in die vier leesbaarheidsformules ingesluit is. Daarna is vir elke teks vyf verskillende sluitingstoetse (cloze tests) ontwikkel om werklike teksbegrip te assesseer.  Altesame 149 Afrikaanse deelnemers op verskillende opvoedingsvlakke het elk 'n stel van twee sluitingstoetse voltooi.

Op grond van die sluitingstoetsuitslae en die data oor die tekseienskappe kon die akkuraatheid van die voorspellings wat die bestaande vier formules vir Afrikaans oplewer, gemeet word. Slegs die McKellar-formule het voorspellings opgelewer wat beduidend korreleer met werklike verstaanbaarheid soos gemeet met die sluitingstoetse. Hierdie formule het egter eintlik ook maar swak gepresteer. (Vir meer inligting, sien ons artikel in Stellenbosch Papers In Linguistics Plus, 53: http://cjpublications.nl/Jansen_et_al_2017.pdf) Ons konklusie was dat die vier bestaande formules vir Afrikaans geen werklik goeie hulp bied vir skrywers wat hulle tekste verstaanbaar wil maak vir die teikengroep wat hulle probeer bereik nie. Daar is dus ruimte vir nuwe, liefs geoutomatiseerde maniere om die leesbegrip van tekste in Afrikaans te bepaal. 

In hierdie aanbieding sal ek ons ondersoekmetodes bespreek,  met die fokus op die sluitingstoetse wat ons gebruik het. Ook word ons nuwe geoutomatiseerde, en ook reeds getoetste leesbaarheidsformule vir Afrikaans voorgestel. Ten slotte sal ek bespreek hoe ons beplan om die geldigheid van ons nuwe formule nog verder te gaan toets.