Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Women Crush Wednesday’ by die Universiteit Stellenbosch
Begin: 15/08/2018, 18:00
Einde: 15/08/2018, 19:00
Kontak:RSVP : Natasha Coltman - 0218083690
Plek: University Museum

UITNODIGING

'Women Crush Wednesday' by die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) Museum, die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut en die Transformasiekantoor in vennootskap met Michigan-staatsuniversiteit nooi jou hiermee graag na 'n gesprek met Tiffany D Caesar, PhD-kandidaat in Afro-Amerikaanse en Afrikastudie aan Michigan-staatsuniversiteit. Haar praatjie sal handel oor Phyllis Ntantala-Jordan, 'n Suid-Afrikaanse uitgewekene in Detroit, en die teenapartheidsbeweging. Kholofelo Molangwane, 'n student aan die Universiteit Stellenbosch, sal as fasiliteerder optree.

Datum:  15 Augustus 2018

Tyd:       18:00

Plek:      Universiteitsmuseum, Ryneveldstraat 52, Stellenbosch

 

RSVP: Natasha Coltman by 021 808 3691 of ncoltman@sun.ac.za

Peuselhappies sal ná die gesprek bedien word.

 

Phyllis Ntantala-Jordan: Suid-Afrikaanse uitgewekene in Detroit en die teenapartheidsbeweging

Tiffany D Caesar, 'n PhD-kandidaat in Afro-Amerikaanse en Afrikastudie aan Michigan-staatsuniversiteit, sal oor Phyllis Ntantala-Jordan se lewe in Detroit gesels. Tiffany het in die Mthatha-navorsingsbiblioteek van die Nelson Mandela-museum in die Oos-Kaap die eerste keer met Phyllis se verhaal kennis gemaak. Swart aktivisme in Detroit tussen 1960 en 1980 het 'n omgewing vir Suid-Afrikaanse uitgewekenes help skep weens die hoogs gepolitiseerde klimaat en die algemene verset teen apartheid onder die swart gemeenskap daar. Die gesprek sal draai om die Suid-Afrikaanse uitgewekene Phyllis Ntantala-Jordan, 'n ma, opvoeder, vakkundige, skrywer en teenapartheidsaktivis. Weinig is oor haar ervaring in Michigan geskryf, hoewel sy in 1976 die boek An African tragedy: The black woman under apartheid deur die swart radikale uitgewer Agascha Production in Detroit die lig laat sien het. Hierdie historiese en kulturele gesprek dien as 'n brug tussen Mama Phyllis se lewe in die Transkei en haar lewe in Michigan, in die besonder Detroit, en bied meer agtergrond oor haar politieke en persoonlike ervaring daar. Die praatjie sal toon hoe die swart gemeenskap en instellings in die Verenigde State, soos die Departement Swart Studie aan Wayne-staatsuniversiteit, direk daartoe bygedra het om pan-Afrikaanse omgewings te skep waarin Suid-Afrikaanse en ander Afrika-uitgewekenes kon woon, werk en bowenal betoog vir hulle menseregte onder koloniale bedelings soos apartheid. Tiffany verken tans geleenthede om haar werk te publiseer in vaktydskrifte wat op Afrikakultuur, swart vroue en aktivisme konsentreer.

 

Biografie van Tiffany D Caesar

Tiffany D Caesar is 'n PhD-kandidaat in Afro-Amerikaanse en Afrikastudie aan Michigan-staatsuniversiteit in East Lansing, Michigan, Verenigde State. Sy spesialiseer in Stedelike Opvoeding en haar navorsingsbelangstellings sluit in Afrikavroue as opvoedkundige leiers in Suid-Afrika en die Verenigde State, Afrikagesentreerde onderwys, vrouebewussyn, pan-Afrikanisme en swart kultuur. Daarbenewens neem sy deel aan inisiatiewe ter bewaring van kultuurerfenis in die Verenigde State en Suid-Afrika. Sy het al met Michigan-staatsuniversiteitsmuseum, die US Museum en die Nelson Mandela-museum saamgewerk aan opvoedkundige programme en internasionale vennootskappe. Tiffany is ook 'n kultuurerfenisgenoot van die projek “Ubuntu: Museums and Communities Connect", wat voortgaan om kultuurerfenisvennootskappe tussen die Verenigde State en Suid-Afrika te skep. As vasberade kampvegter vir die gelykheid en burgerregte van swart mense, het sy boonop 'n kinderboek getiteld Where Is Bobby? gepubliseer in reaksie op hardhandigheid deur die polisie in die Verenigde State. Die hoofstuk “African women leaders of African centered education: A portraiture of mothering, pan-Africanism, and nation-building in Africa" uit haar pen verskyn ook eersdaags in die boek New frontiers in the study of the global African diaspora: Between uncharted themes and alternative representation (MSU Press, word in 2018 uitgegee).