Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suiker en stres: hier kom moles
Begin: 06/03/2018, 18:30
Einde: 06/03/2018, 19:30
Kontak:Wiida Fourie-Basson - 021 808 2684
Plek: Die Plataan Kafee, Sasol Kunsmusuem
​Wat is die verband tussen suikerinname, stres en die verhoogde voorkoms van kanker, hartsiektes, diabetes, osteoporose, artritis en neurodegeneratiewe siektes soos Alzheimer se siekte en Parkinson se siekte?

Met hierdie Science Café Stellenbosch  by Woordfees, gesels Dave Pepler met vier spesialiste oor die kommerwekkende toename in lewenstyl siektes wêreldwyd en veral in Suid-Afrika. Die sprekers is die internasionaal-erkende endokrinoloog Dr Graham Ellis, verbonde aan die Helderberg  Kliniese Navorsingsentrum. Dié sentrum is 'n affiliaat van Synexus, een van die wêreld se grootste multi-nasionale maatskappye wat fokus op kliniese studies en die doeltreffendheid van nuwe medisynes. Die ander sprekers is Prof Resia Pretorius, Prof Anna-Mart Engelbrecht en Dr Theo Nell, almal verbonde aan die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe.

Maar dit gaan nie net by gesels bly nie. Lede van die gehoor kan na afloop van die gesprek 'n vingerprik-toets doen wat hul bloedglukose-vlak en lipied profiel bepaal. Die uitslag van dié vingerprik sal aandui of 'n individu pre-diabeties is en vir opvolg bloedtoetse moet gaan of nie. Die toets word deur 'n klinieksuster gedoen en deelnemers moet 'n toestemmingsbrief invul.

Daar is ook 'n geleentheid om bloed te skenk en sodoende deel te word van die kontrole-groep in 'n navorsingsprojek oor bloedstolling en diabetes. Prof Pretorius is op soek na bloedmonsters van gesonde individue bo 40 om dit te kan vergelyk met dié van individue met gediagnoseerde diabetes. Menige werknemer by die US het al 'n paar buisies bloed gaan skenk om dié navorsing te ondersteun! Die nodige etiese klarings is in plek, en elke invididue sal volledig ingelig word en 'n toestemmingsvorm teken voordat hulle mag bloed skenk.

Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om openbare gesprekke oor wetenskaplike kwessies aan te moedig en dit in 'n taal wat almal kan verstaan. Volg ons op Facebook of stuur 'n epos aan sciencecafe@sun.ac.za