Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrika se regbank moet meer verteenwoordigend wees
Outeur: Prof Nicola Smit
Gepubliseer: 22/03/2023

​​Internasionale Dag vir Vroueregters is onlangs (10 Maart) gedenk. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times het prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, geskryf dat ons ons daartoe moet verbind om die nodige strategieë en planne te ontwikkel en inwerking te stel, insluitende die uitwissing van hindernisse, om die vooruitgang van vroue in regterlike regstelsels en verwante gebiede te verseker.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Nicola Smit*

Internasionale Dag vir Vroueregters (na aanleiding van 'n 2021-resolusie van die Verenigde Nasies) is onlangs (10 Maart) gedenk om die volle en gelyke deelname van vroue op alle vlakke van die regbank te bevorder.

Voorspraak vir die bevordering van vroue in geregtelike regsstelsels wêreldwyd is noodsaaklik indien ons gelykheid, volhoubare ontwikkeling, vrede en demokrasie wil bereik. Dit stem ook ooreen met die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling, veral ten opsigte van gendergelykheid en die bemagtiging van alle vroue en meisies.

'n Belangrike vraag wat ons ons moet afvra is: Wat is die huidige vlak van verteenwoordiging van vroue in ons land se regstelsel, veral in senior leierskapsposisies? As 'n mens na die aanstelling van adjunk-hoofregter Mandisa Maya as die adjunk-hoofregte in die hoogste hof en die onlangse nominasie van regter Mahube B Molemela as die volgende regterpresident van die appèlhof kyk, kan 'n mens maklik sê dit is 'n rooskleurige prentjie. Daar bestaan geen twyfel dat regter Maya se aanstelling 'n belangrike mylpaal vir Suid-Afrikaanse vroue in die reg is nie. Regter Molemela se aanstelling (na afloop van die Regterlike Dienskommissie (RDK) se behoorlike proses) sal vroue se stem en verteenwoordiging in die vier mees senior poste in die regbank 'n betekenisvolle hupstoot gee.


Ten slotte …

Hoe kan ons vroue se verteenwoordiging in ons regterlike stelsel verbeter?

Nominasie- en aanstellingsgeleenthede moet deurlopend die geslagsbillikheid in ons senior hofstrukture en ander leierskapposisies verbeter. Dit beteken besluitnemende en raadgewende liggame (byvoorbeeld die RDK) moet ook verteenwoordigend wees. Dit is uiters noodsaaklik dat ons howe die hele samelewing verteenwoordig en dat dit gesien word as toeganklik en divers en bekwaam om op die belange van alle landsburgers te reageer. Vroueregters, insluitende dié in senior leierskapsposisies, versterk ongetwyfeld die regmatigheid van howe.

 

Ons moet ook in die opleiding van aspirant-vroueregters belê aangesien dit die poel vir die moontlike toekomstige aanstelling van vroueregters vergroot. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Regterlike Opleiding (SAJEI) is verantwoordelik vir die opleiding van regterlike beamptes ingevolge Artikel 180(a) van die Grondwet. Volgens die SAJEI se 2020/2021-jaarverslag het 38 aspirant-vroueregters in 2021 opleiding ontvang. Die Aspirant-vroueregtersprogram is weer in 2023 bekendgestel (met 'n kohort van 18 kandidate wat uit landdroste en regspraktisyns bestaan) en het ten doel om “intreevlak-onderrig en opleiding aan aspirerende vroulike regterlike beamptes te bied ten einde volhoubaarheid vir aanstellings in die regbank te verbeter".

 

Vorentoe sal die samelewing verder uit sy patriargie moet ontwikkel, universiteite sal moet aanhou om uitnemende vroulike gegradeerdes te lewer, regters sal 'n groter mentorrol vir toekomstige regterlike beamptes moet onderneem en besluitnemers sal baie vinnig gendertransformasie as 'n doelwit moet bevorder.

 

Ons moet ons daartoe verbind om die nodige strategieë en planne te ontwikkel en inwerking te stel, insluitende die uitwissing van hindernisse (soos voortdurende genderstereotipes, die hoë voorkoms van seksuele teistering volgens 'n onlangse Internasionale Balieraad-opname en onvoldoende reëlings vir praktisyns met kinderverantwoordelikhede) om die vooruitgang van vroue in regterlike regstelsels en verwante gebiede te verseker .

 

Kom ons vier die vordering wat reeds gemaak is, kom ons voed op en skep bewustheid oor die uitdagings wat vroueregters ondervind, ondersteun en doen voorspraak vir vroue se volle deelname aan die besluitnemingsproses in elke professionele sfeer van die regbank en die administrasie van die regstelsel. Die “klimaat van die era" vereis dat gendergelykheid in die regbank in ons tyd bereik moet word.

 

  • Klik hier om die artikel soos geplaas te lees.

 

*Prof Nicola Smit is Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch.