Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ukwanda: FGGW se droom van twee dekades gelede word vervul
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Tyrone August
Gepubliseer: 16/03/2023

Die totstandbrenging 20 jaar gelede van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) was ʼn visioenêre stap die toekoms in. Dit het voortgespruit uit ʼn behoefte om aan ʼn diverse reeks behoeftes te voldoen.

Prof Helmuth Reuter, eerste Direkteur van die Ukwanda-sentrum en tans Hoof van die FGGW se Departement Geneeskunde, onthou: “In 2002 het ʼn kollega, dr Etienne van der Walt, my gevra om saam met hom aan ʼn model vir ʼn landelike gesondheidsentrum te werk. Aan die einde van die jaar is ek gevra om die projek as die Direkteur van Ukwanda oor te neem.

“Ek het dit maar alte graag gedoen omdat ek tot gelykheid in gesondheidsorg toegewy is. Die belangrikste aspekte van die model het gemeenskapsgebaseerde en interdissiplinêre onderrig en leer vir voorgraadse studente in gebiede met onvoldoende dienste en landelike gebiede in die Wes-Kaap ingesluit."

Die huidige Direkteur, prof Ian Couper, brei uit: “Die Ukwanda-sentrum het tot stand gekom omdat die Fakulteit besef het daar is ʼn behoefte aan menslike hulpbronne wat gesondheid in landelike gebiede betref. Te min gesondheidswerkers het in landelike gebiede gewerk.

“Dit het uit bewyse in ander lande geblyk dat mense wat in landelike gebiede opgelei word, meer geneig is om daar te werk omdat hulle daarvoor toegerus is. Dit was die hoofmotivering vir die vestiging van die Sentrum."

Ukwanda groei én ontwikkel

Die Ukwanda-sentrum het beslis oor die afgelope 20 jaar sy naam gestand gedoen – dit beteken “om te groei" of “ontwikkel" in isiXhosa. “Daar was ʼn geleidelike opbou van en toename in die omvang van blootstelling van studente aan landelike gebiede en landelike gesondheidsorg," sê Couper.

“Dit was redelik ad hoc voor die Sentrum se ontstaan, maar dit het nou deel van die stelsel geword dat studente die geleentheid kry om in elkeen van die voorgraadse gesondheidsprogramme aan landelike gesondheidsorg blootgestel te word."

Die volgende groot stap in hierdie proses was die totstandbrenging in 2011 van die Ukwanda-sentrum se Landelike Kliniese Skool, die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Vyf van die FGGW se voorgraadse programme bevat nou ʼn aansienlike komponent van landelike opleiding.

In drie van die programme – geneeskunde, arbeidsterapie en menslike voeding (dieetkunde) – kan studente kies om hul hele finale jaar by ʼn landelike instelling deur te bring. “Dis ʼn eerste in Suid-Afrika en ons het daardie groep in geneeskunde stelselmatig vergroot," sê Couper.

Daar is ʼn effense verskil by die ander twee programme: alle spraakterapiestudente moet ʼn rotasie by Ukwanda doen, terwyl fisioterapiestudente kan kies om rotasies daar te doen. Maar die doelwit bly dieselfde: “Om studente se blootstelling aan landelike gesondheid na te streef."

Gemeenskapsgebaseerde onderrig

Die vestiging van die Ukwanda-sentrum het saamgeval met die FGGW se fokus op meer gemeenskapsgebaseerde onderrig. “Sedertdien is besluite op Fakulteitsvlak geneem dat alle programme meer gemeenskapsgebaseerd in hul benadering moet probeer wees," sê Couper.  “Die landelike gesondheidskomponent het een deel daarvan uitgemaak."

Die Ukwanda-sentrum en sy Landelike Kliniese Skool het merkbare sukses op hierdie gebied behaal: “Studente is by verskeie gemeenskapsprojekte of by gehalteverbeteringsprojekte in gesondheidsorgfasilitieite betrokke.

“Daar is baie gemeenskapsgebaseerde aktiwiteite in verwante gesondheidsprogramme, soos werk in dagsorgsentrums of aan projekte vir gestremde mense. Dis regtig ʼn bonus om in hierdie konteks saam met nieregeringsorganisasies, organisasies sonder winsbejag, skole en so meer te werk."

Couper lig nog ʼn belangrike vernuwing uit: “Een van die goed waaroor ons werklik opgewonde is, is wat ons kollaboratiewe sorg noem: waar studente oor dissiplines heen byeenkom en saam planne beraam om pasiënte te help. Hulle doen dalk saam ʼn huisbesoek, verwys die pasiënt na spesifieke fasiliteite en so meer. In heelwat gevalle is pasiënte gehelp wat andersins nie behoorlike aandag sou gekry het nie."

Daar is reeds talle bewyse van die impak van die Ukwanda-sentrum en die Landelike Kliniese Skool. “Ons sien studente wat as gegradueerdes terugkeer om in landelike gebiede te werk," sê Couper. “Die uitdaging is dat daar nie altyd poste beskikbaar is as hulle in ʼn spesifieke plek wil gaan werk nie.

“In sommige distrikshospitale het ons gegradueerdes wat nou studente mentor wat deur die stelsel kom. Daar is ook van hulle wat in ander landelike fasiliteite werk – nie ons s'n nie, maar dis net so ʼn goeie uitkoms."

Die Ukwanda-sentrum het ook op ander maniere sukses behaal. “Die fokus was lank op opleiding, maar as deel van my aanstelling in 2016 moes ek die Sentrum geformaliseer kry en aan van die ander aspekte werk," sê Couper.

“Gevolglik het ons navorsingsuitset bestendig toegeneem. Ons is by heelwat navorsingsaktiwiteite betrokke en die getal publikasies het bestendig toegeneem. Ons probeer relevante navorsing doen wat op landelike gesondheid en landelike gesondheidsorg fokus."

Die Ukwanda-sentrum werk voorts daaraan om landelike nagraadse opleiding te ontwikkel. ʼn Nagraadse diploma van 18 maande in landelike geneeskunde – ʼn eerste in Suid-Afrika – word binnekort van stapel gestuur. Toekomsplanne sluit in werk aan meesters- en doktorale programme om die navorsingsbasis vir landelike gesondheid op te bou.  

Welstand van landelike gemeenskap

Couper beskou die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, en veral die Kaapse Wynlande-distriksdepartement van Gesondheid waar Worcester geleë is, as sleutelvennote in die sukses wat behaal is: “Die samewerking is belangrik. Sonder hulle sou ons nie die Landelike Kliniese Skool tot stand kon bring nie.

“Dis ʼn simbiotiese verhouding. Ons het opleidingsfasiliteite vir studente nodig en die teenwoordigheid van studente in daardie fasiliteite help in die opsig dat pasiënte ondersoek word. Hulle bring dikwels meer tyd by pasiënte deur as wat gekwalifiseerde beroepslui kan. Pasiënte waardeer en geniet dit."

Couper voeg by: “Wat ons graag vorentoe sou wou sien, is die besef dat gesondheid met veel meer as gesondheidsorg verband hou. Mense se gesondheid word nie deur gesondheidsorg teweeg gebring nie; gesondheidsorg is nodig wanneer mense nie gesond is nie.

“En om gesondheid vir landelike gemeenskappe te bevorder het ons onderwysers, ingenieurs, regslui, landboukundiges en dies meer nodig. Ons hoop is dat ʼn selfs wyer groep mense saam met ons sal werk – en ons saam met hulle – om die gesondheid en ontwikkeling van landelike gemeenskappe te probeer ondersteun." 

Onderskrif: Prof Ian Couper en die US se Worcester-kampus.

Foto-erkenning: Stefan Els