Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US onwrikbaar verbind tot menseregte, waardigheid, meertaligheid en inklusiwiteit
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 15/03/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) neem kennis van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oor taal in US-koshuise. “Menswaardigheid is ononderhandelbaar by die Universiteit en moet gerespekteer en gehandhaaf word. Die US is teleurgesteld oor die voorvalle wat aan die lig gekom het en neem kennis van die aanbevelings van die SAMRK-verslag oor taal by die US. Ek is op rekord dat die US almal om verskoning gevra het wat negatief deur hierdie voorvalle geraak is. Die US is steeds onwrikbaar verbind tot die bevordering van menseregte, meertaligheid en inklusiwiteit vir al sy studente, personeel en belanghebbendes en is deurlopend besig om te ontwikkel en te verander ten einde hierdie ingesteldheid en voldoening aan die US se Taalbeleid (2021) te benadruk."

Dit is die reaksie van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, op die SAMRK se bevindinge in die saak wat verband hou met bewerings dat die gebruik van Afrikaans gedurende die 2021-verwelkomingstydperk in sekere US-koshuise verban is.  

Die Universiteit slaan ag daarop dat die Kommissie daarop wys dat die Taalbeleid van 2016 [die vorige Taalbeleid] nie sou toelaat dat enige student verbied word om hulle gekose taal in koshuise te praat nie. Verder was daar volgens die SAMRK se verslag nie “'n flagrante en gekonsentreerde verbod op Afrikaans wat deur 'n daadwerklike poging van die respondent [US] en sekere individue in die Universiteitsbestuur geïnspireer en gemotiveer is om Afrikaans by die US uit te roei nie".

Nieteenstaande het die Rektor in sy verskoning daarop gewys dat “indien daar studente was wat opdrag gekry het om nie Afrikaans in 'n sosiale konteks te gebruik nie, 'dit verkeerd is', dat dit nie die Universiteit se beleid was nie en dat die US verbind is tot 'n voortgesette ondersoek en regstellingsproses. Verskeie positiewe stappe wat met die regstellende stappe ooreenstem wat deur die Kommissie aanbeveel is, is terloops reeds gedoen. Dit sluit die beklemtoning daarvan in dat die gebruik van geen taal, insluitende Afrikaans, in die gees van meertaligheid verbied mag word nie. Verdere stappe wat beplan word, sluit die voortgesette opleiding van koshuishoofde en studenteleiers in, wat ook met die regstellende stappe in die verslag ooreenstem.

“Ek is op rekord dat ek gesê het die US se meertalige reis is nie maklik nie. Foute is onvermydelik en ons sal daaruit leer in die proses om 'n progressiewe meertalige en inklusiewe Suid-Afrikaanse universiteit vir die 21ste eeu te skep. Die Universiteit het reeds binne hierdie konteks opgetree sedert die eerste bewerings oor taalgebruik in 'n spesifieke koshuis in 2021 onder ons aandag gebring is – die Kommissie het dit ook toegegee," sê prof De Villiers.

“Dít, tesame met ander inisiatiewe wat die Universiteit tans onderneem om die verwelkomende en inklusiewe aard van ons instelling te verbeter, sal baie daartoe bydra om die regte en voorregte van al ons belanghebbendes te beskerm," sê prof De Villiers.

“Die US erken dat transformasie verskeie fasette het en om dit ingebed, sistemies en doeltreffend te maak, moet dit op 'n veelvlakkige wyse aangespreek word. Hierdie reis duur al die afgelope twee dekades. Die proses is onnet, moeilik en vereis baie selfbesinning. Ons sal voortgaan op hierdie reis en waar nodig, daarop fokus om die gaping tussen beleid en praktyk, verbintenis en geleefde ervarings te verklein. Ons doelwit is om voort te gaan om tot oplossings by te dra wat die samelewing sal verbeter."

Die verskeie aspekte van transformasie wat die US aanspreek, sluit strukturele transformasie, 'n klem op waardes, institusionele kultuur, beleide en planne, die studente- en menslikehulpbronprofiel, navorsing en sosiale impak, vennootskappe en die gesondheid en welstand van personeel en studente in.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, huldig dieselfde siening as prof De Villiers. “Hoewel ons om in hierdie vroeë stadium nie noodwendig met al die feitlike bevindinge van die verslag saamstem nie, sal die Universiteit die Kommissie se bevindinge, voorgestelde regstellende stappe en aanbevelings nou verder in detail oorweeg en besin oor die stappe vorentoe.

“Die US is maar al te bewus van hoe belangrik dit is dat studenteleiers oor die Taalbeleid en die gebruik van taal op kampus en in koshuise en sosiale ruimtes ingelig moet wees. Ons neem kennis van die Kommissie se interpretasie van die verloop van die gebeure en hoe taal in koshuise gebruik word, terwyl ons deurlopend die gebruik van taal regoor die kampus evalueer en die implementering van die Taalbeleid verbeter," voeg prof Ramjugernath by. 

Lees die SAMRK-verslag hier



Foto: Anton Jordaan