Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Ilse Feinauer ontvang Kanselierstoekenning vir navorsing
Outeur: Departement Afrikaans en Nederlands
Gepubliseer: 05/12/2022

​Prof Ilse Feinauer van die Departement Afrikaans en Nederlands het Maandag 5 Desember 2022 'n Kanselierstoekenning vir volgehoue uitnemendheid in navorsing ontvang. 'n Maksimum van 15 sulke prestige-toekennings word tydens die Desembergradeplegtighede vir navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste gemaak.

In haar 40 jaar as akademikus aan die US het prof Feinauer 'n uitstaande navorsingsprofiel opgebou, sowel nasionaal as internasionaal. Sy is een van die stigterslede van die African Society for Translation Studies (ATSA) en is 'n lid van die uitvoerende raad van die European Society for Translation Studies (EST). Haar betrokkenheid by internasionale organisasies en kongresse het daartoe gelei dat die EST-kongres in 2019 in Stellenbosch gehou is – die eerste keer wat dit buite Europa plaasgevind het.

Prof Feinauer bly baie aktief betrokke by plaaslike taalpraktyk en Afrikaanse taalkunde. Sy is die eerste bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk in die Departement Afrikaans en Nederlands en is die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.