Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verleen eregraad aan voorste geestesgesondheidskenner
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/12/2022

Prof Vikram Patel, 'n vooraanstaande geestesgesondheidskenner van internasionale aansien, is met 'n eregraad deur die Universiteit Stellenbosch (US) by sy Desembergradeplegtigheid vereer. Hy het die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, Maandag (5 Desember 2022) by 'n kontakgradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.

Patel is vereer vir sy voortreflike bydrae tot die psigiatrie en sielkunde, sy toewyding aan gemeenskapsdiens deur die bevordering van geestesgesondheidsinisiatiewe in die ontwikkelende wêreld, en die ruimhartige deel van sy kennis om studente, akademici en praktisyns op sy vakgebied te ontwikkel.

Patel het in sy aanvaardingstoespraak sy diepe dankbaarheid teenoor die Universiteit betuig vir sy besluit om hom met hierdie eredoktorsgraad te vereer.

“U ruimhartigheid laat my baie nederig voel en ek is veral verheug om op Afrika-bodem deur 'n Suider-Afrikaanse universiteit vereer te word, want ek het meer as drie dekades gelede my eie professionele pad in hierdie streek begin stap om te begryp hoe om mense wat met geestesgesondheid sukkel, te ondersteun."

Patel het bygevoeg dat die eregraad 'n bewys daarvan is dat “ ʼn mens 'n mindergewilde pad kan volg wat na aan jou hart lê en nog steeds 'n vervulde lewe met doelgerigtheid, betekenis en erkenning kan lei".

Hy het die pasgegradueerdes aangemoedig om by die kwessies van ons tyd betrokke te raak ten einde hulle toekoms en dié van die komende geslagte te verseker.

Meer oor Patel

Prof Vikram Patel, 'n psigiater en geestesgesondheidskenner, is 'n vooraanstaande figuur in die globale geestesgesondheidsbeweging, en 'n belangrike bydraer tot die bevordering van geestesgesondheid en die voorkoming van geestesongesteldheid in lae- en middelinkomstelande.

​Hierdie uitnemende vakkundige is die Pershing Square Professor in Globale Gesondheid in die Departement Globale Gesondheid en Sosiale Geneeskunde van die Blavatnik-instituut aan Harvard se mediese fakulteit. Sy werk draai om die las van geestesgesondheidsprobleme, die verband tussen geestesongesteldheid en maatskaplike benadeling, en die gebruik van gemeenskapshulpbronne om geestesgesondheidskwessies te voorkom en te behandel. Patel het ook sterk bande met die Universiteit Stellenbosch en het al saam met etlike navorsers van die Universiteit gepubliseer en navorsing onderneem.

Hy is in 2015 as een van die tydskrif Time se 100 invloedrykste persone aangewys, en vervul 'n kernrol om regerings en internasionale agentskappe te oortuig dat aandag aan geestesgesondheid 'n hoeksteen van alle ontwikkelingswerk wêreldwyd moet wees.

Patel is 'n medestigter van die Beweging vir Globale Geestesgesondheid, die Sentrum vir Globale Geestesgesondheid aan die Londense Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde, sowel as die Geestesgesondheidsinnovasienetwerk. Daarbenewens het hy Sangath, 'n Indiese organisasie sonder winsoogmerk, help stig, wat die Wêreldgesondheidsorganisasie se toekenning vir beste openbare gesondheidskampvegter in Indië ontvang het.

Foto: Prof Vikram Patel by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els.