Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe ontwikkelings by die Afrikasentrum vir Akademieskap
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/12/2022

Enkele opwindende nuwe ontwikkelings by die Afrikasentrum vir Akademieskap sluit in nuwe personeel wat by die Sentrum aangesluit het, die Inisiatief vir Opkomende Akademici binne die Gesamentlike Skole-program, en die Afrika Doktorale Akademie (ADA) se eerste Somerskool sedert Covid-19 wat ten volle van aangesig tot aangesig sal plaasvind.

Nuwe personeel is in Afrikasentrum vir Akademieskap (ASA) aangestel ter bevordering en ondersteuning van akademieskap‑ontwikkeling op die Afrikavasteland. Dr Mmampho Gogela-Smith is die nuwe Senior Programbestuurder vir Akademieskap‑ontwikkelingsinisiatiewe, terwyl dr Natalie Kowalik in die pos van Programbestuurder van ADA aangestel is. Die nuwe Kortkursus- en Finansiële Administrateur, mnr Edgar Rinquest, is verantwoordelik vir ADA en die Inisiatief vir Opkomende Akademici. Verder is die UNITWIN‑UNESCO-leerstoel vir Interkulturele Vaardighede aan die Universiteit Stellenbosch toegeken. Hierdie program word ook in ASA gehuisves en word deur dr Darla Deardorff gelei.

Verdere ontwikkelings by die Sentrum sluit in die onlangse aanbieding van aanlyn opleiding en die eerste been van 'n tweedelige, gesamentlike skool wat deur die Inisiatief vir Opkomende Akademici in samewerking met die Makerere Universiteit in Uganda aangebied is.  Die Inisiatief vir Opkomende Akademici is daarop gemik om bande met vennootinstellings te smee en navorsingskapasiteit vir doktorale kandidate en opkomende akademici in Afrika te ontwikkel. Die eerste deel van die aanlyn skool het vanaf 26 tot 30 September 2022 plaasgevind, terwyl die tweede deel van die skool in 2023 persoonlik by Makerere Universiteit gehou sal word. Meer as 100 aansoeke is vir die eerste deel van die skool ontvang, terwyl 40 afgevaardigdes genomineer is en vir bywoning geregistreer het. Die groot aantal aansoekers dui op 'n behoefte aan en 'n aptyt vir navorsingsopleiding. Die geleentheid was 'n belangrike stap in die rigting om navorsingskapasiteit te bou en tot die ontwikkeling van opkomende Afrika-akademici by te dra.

Laastens, met die doel om uitnemendheid in doktorale opvoeding dwarsdeur Afrika te versterk, vind die Afrika Doktorale Akademie se eerste Somerskool sedert Covid‑19 ten volle van aangesig tot aangesig plaas, en wel vanaf 18 Januarie tot 3 Februarie 2023. Die Skool wat deur dr Natalie Kowalik bestuur word, word by die Universiteit Stellenbosch se hoofkampus aangebied. Die 2023 Somerskool bied 16 kursusse aan wat toegespits is op hoë‑impaknavorsing en metodologie-opleiding vir voornemende en bestaande doktorale kandidate, hul studieleiers, asook navorsers uit verskillende velde en op verskeie fases van die PhD-reis. Drie nuwe kursusse word by die 2023 Somerskool aangebied, te wete “Insig in die etiese besluitnemingsproses vir beplanning en uitvoering van navorsing", “Die uitvoer van 'n literatuuroorsig: Die sleutel tot 'n suksesvolle proefskrif" en “Goeie praktyk in nagraadse navorsingsleiding opkampus en afkampus". Die Skool verwelkom sowel nasionale as internasionale aanbieders wat kundiges in hul navorsingsvelde is.

Besoek gerus die webwerf https://www.sun.ac.za/english/SUInternational/ADA/home vir meer inligting oor die 2023 Somerskool of vir die indien van aansoeke, wat op 15 Desember 2022 sluit.

Met hierdie ontwikkelings wil die Afrikasentrum vir Akademieskap tot die uitbou van die Afrikakontinent en sy mense bydra deur in nuwe en opkomende akademici in Afrika te belê.
Picture2.jpg

Die nuwe personeel by ASA is vlnr: Mnr Edgar Rinquest; Dr Mmampho Gogela-Smith; Dr Natalie Kowalik