Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel en studente deel geleefde ervarings by US Transformasie-indaba 2022
Outeur: Awethu Fatyela
Gepubliseer: 30/11/2022

​“Restitusie verby retoriek" (Restitution beyond rhetoric) was die tema van vanjaar se Transformasie‑indaba wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Transformasiekantoor op Donderdag 20 Oktober 2022 op Stellenbosch by Stias aangebied het. Personeel en studente van verskeie fakulteite en omgewings het die indaba bygewoon.

Lede van die rektoraat en studenteleiers het voorleggings gedoen oor die vordering met die US se transformasiereis en die US se posisie wat transformasie betref, terugvoering verskaf oor projekte en doelwitte, en persoonlike ervarings gedeel.

Sprekers het ook insette gelewer oor die US Restitusiestelling, die fundamentele betekenis daarvan, en die verantwoordelikheid wat dit nie net op die instelling plaas nie, maar ook op elke individu wat deel is van die US‑gemeenskap.

In sy programrede het prof Chris Brink, Rektor en Visekanselier van die US van 2002-2007, na aanleiding van die tema benadruk dat dit noodsaaklik is dat daar lig gewerp word op die historiese behoefte om die US te transformeer. Hy het gesê transformasie aan die US moet op 'n bewussynsverandering gegrond word. Prof Brink het uit sy ervaring as voormalige visekanselier aan die US gepraat en 'n ernstige beroep op die bestaande leierskap gedoen om opnuut oor die betekenis van woorde en simbole te reflekteer. Hy het gesê die US moet krities oor die restitusiestelling besin en deeglik oorweging skenk aan watter soort restitusie aangebied word.

“Die US Restitusiestelling lui dat die US 'sonder voorbehoud om verskoning vra aan die gemeenskappe en individue wat uitgesluit was van die historiese voorregte wat die US geniet het'. Maar wat van diegene wat vandag ook uitgesluit is," het prof Brink gevra.

In 'n hoofsessie wat deur me Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdienste en lid van die Institusionele Transformasiekomitee (ITK), gemodereer is, het die rektoraat die geleentheid gehad om aanbiedings te lewer in pas met die tema “Versnelde transformasie – narratiewe uit die rektoraat".

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het oor die US se verbintenis tot transformasie gesê: “Ons sal nooit die transformasieproses beëindig nie. Sedert die koms van demokrasie ondergaan die US 'n transformasieproses, en ons is vasberade oor ons verbintenis daartoe. Verandering is onvolmaak en onvolledig, maar ons bly vasberade daaroor."

Prof De Villiers het onder andere verwys na prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid aan die US en voormalige openbare beskermer van Suid-Afrika, se toespraak tydens die jaarlikse Russel Botman-gedenklesing, waarin prof. Botman, voormalige US-rektor, se lewe en sy visie vir opvoedkundige geregtigheid gevier word. Sy het gesê dat indien ons saam wil bestaan, ons aan mekaar se mensheid moet dink. “Dit is onmoontlik om gedurig die optrede van almal in die gemeenskap te polisieer, maar ons behoort alles te doen wat nodig is om die mensheid van elke individu te beskerm," het prof De Villiers gesê.

Masilo Silokazi, SR-voorsitter vir 2022/2023, en Neo Kgodisang, 'n student in visuele kuns, het oor studenteperspektiewe gepraat deur die konsep van behoort te ondersoek. Masilo het haar praatjie begin met 'n vertolking van Zamajobe se “Ndawo Yami", 'n liedjie wat handel oor die idee van tuishoort en 'n plek om jou eie te noem. Neo het 'n video gespeel waarin studente hulle ervarings en perspektiewe oor “behoort" aan die US gedeel het.

Prof Ronelle Carolissen van die Departement Sielkunde het tydens die sessie “Geleefde ervarings aan die US" 'n toespraak gelewer oor personeel se perspektiewe en kommentaar oor die Khampepe-verslag. Sy het gesê personeel (van kleur) se gevoel is dat die Khampepe-verslag niks oor die US gaan onthul wat nie reeds bekend is nie. Hoewel die Universiteit progressiewe reëls en beleid mag hê, is dit nie genoeg om om mense van kleur teen rassisme te beskerm wanneer hulle steeds daagliks mikro-aggressie ervaar nie. Prof Carolissen het aanbeveel dat die SU deurlopende gesprekke moet voer oor die Khampepe-kommissie se bevindinge, veral oor institusionele rassisme (en die gepaardgaande kruispunte) wat steeds voorkom. Sy het ook aanbeveel dat die US gedetailleerde navorsing doen oor hoe studente en personeel rassisme (en die kruispunte wat daarmee verband hou) ervaar. Sy het gesê die Universiteit moet probeer om te verstaan hoekom hierdie besonderhede nie deur middel van interne opnames oor institusionele kultuur na vore kom nie. Hoe word hierdie opnames saamgestel? Is opnames die doeltreffendste metode?

Aan die einde van die indaba het dr Zethu Mkhize, hoof van die US se Transformasiekantoor, 'n bywerking voorsien oor die eerste konsep van die US se Transformasiebeleid, die terugvoering wat hieroor ontvang is, en die impak wat dit op die Institusionele Transformasieplan het. Sy het ook terugvoering gegee oor die moniterings- en evalueringsraamwerk wat gebruik word as maatstaf by die bepaling van die tempo waarteen transformasie op alle vlakke geïmplementeer word en as moniteringsinstrument dien vir die vasstelling van die institusionele vordering met die vyf erkende transformasie‑aanwysers, naamlik:

  • Groter rassediversiteit onder senior akademici en senior professionele administratiewe steundienste- (PASD-) personeel;
  • 'n Diverse studentebevolking;
  • Transformasie-bevoegdhede;
  • Universele toegang; en
  • 'n Akademiese vernuwingsprogram.

Die Transformasie‑indaba het aan personeel en studenteleiers die geleentheid gebied om openhartig te praat oor hulle geleefde ervarings aan die US, die spesifieke uitdagings en struikelblokke wat hulle teëgekom het, asook hul verwagtinge op die pad vorentoe. Voorleggings deur die rektoraat oor die transformasie-inisiatiewe en ‑doelwitte binne hul onmiddellike verantwoordelikheidsentrums is ook verwelkom.

Universiteit Stellenbosch Restitusiestelling (soos aangekondig in 2018 tydens die US se eeufeesjaar)

Die Universiteit Stellenbosch (US) erken sy onlosmaaklike verbondenheid met die geslagte van die verlede, hede en toekoms. In die 2018 Eeufeesjaar vier die US sy talle suksesse en prestasies. Die US erken terselfdertyd sy bydrae tot die onreg van die verlede. Hieroor het ons diepe berou. Ons vra sonder voorbehoud om verskoning aan die gemeenskappe en individue wat uitgesluit was van die historiese voorregte wat die US geniet het en ons huldig die kritiese Matie‑stemme wat nie tot swye gebring kon word nie. In verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte, verbind die US hom onvoorwaardelik tot die ideaal van 'n inklusiewe wêreldklas-universiteit in en vir Afrika.