Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die US se GAUC ambassadeurs vir globale verandering
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Faculty of Science)
Gepubliseer: 01/08/2022

​Vier nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US) sal Afrika verteenwoordig by die  eerste opleidingsprojek in klimaatsleierskap ter wêreld wat op die jeug gefokus is: 'Climate x' Leadership Training Pilot wat deur die Global Alliance of Universities on Climate (GAUC) van stapel gestuur word.

Yenziwe Mbuyisa, Nosipho Gqaleni, Kayleigh Murray en Olivia Jones, almal nagraadse studente in die Departement Plant- en Dierkunde, is gekies as GAUC ambassadeurs vir 2022. Hulle sal aan verskeie opleidingsgeleenthede deelneem in aanloop  tot die GAUC Global Youth Summit in Kaïro, en die Verenigde Nasies se Konferensie oor Klimaatsverandering (COP27) wat in Desember in Sharm el-Sheikh, Egipte plaasvind.

Ambassadeurs van ander lid-universiteite van GAUC, sal by hulle aansluit. Dit sluit studente in van SciencesPo in Frankryk, Tsinghua Universiteit in China, Imperial College London, en die London School of Economics and Political Sciences in die Verenigde Koninkryk, die Australian National University, die Indian Institute of Science en vier universiteite in die Verenigde State van Amerika: Columbia University, Yale University, Massachusetts Institute of Technology, en University of California, Berkeley.

Ons het die vier GAUC ambassadeurs uit Afrika uitgevra oor hulle navorsing, hulle verbintenis om klimaatsverandering te beveg, en hulle verwagtinge vir die res van die jaar.

Kayleigh Murray

Kayleigh Murray_Credit_Stefan Els (4).jpg

​Kayleigh is 'n MSc-student in die navorsingsgroep oor globale biologiese verandering in die Departement Plant- en Dierkunde. Sy gebruik nuwe metodes in genoomopeenvolging om die verspreiding en genetiese lewensvatbaarheid van verskillende populasies van die kokerboom, wat deur warmer temperature bedreig word, te ondersoek. Vir haar navorsing werk sy ook saam met die nuwe Skool vir Klimaatstudies by die US, asook saam met die taksonomielaboratorium by die Royal Botanic Gardens in Kew, Londen.

Oor die GAUCC ambassadeurskap sê sy dat beleid 'n vreemde konsep vir haar is: “Ons bevind ons in akademiese silo's van gespesialiseerde inligting en kyk na ander velde sonder werklike transdissiplinêre begrip. Ek hoop om te leer watter tipe bewyse nodig is om 'n invloed op beleid en besluitneming te hê, en hoe om hierdie gaping op die beste manier te oorbrug".

As wetenskaplike sal sy graag wil hê dat haar navorsing moet bydra tot aanpassingsbeplanning en -praktyk: “Ek wil uit my navorsingsveld 'n bydrae lewer tot 'n transdissiplinêre benadering tot die verstaan van klimaatsverandering, en in die proses ook by ander dissiplines in die geesteswetenskappe en ekonomie leer."

Kayleigh het in Gabarone, Botswana grootgeword en haar skoolloopbaan in Kaapstad voltooi.

​Yenziwe Mbuyisa

Yenziwe Mbuyisa_Stefan Els (3).jpg

Yenziwe is 'n MSc-student in die navorsingsgroep oor globale biologiese verandering, waar sy die potensiaal van die gebruik van inheemse spesies in die bebossing- en herstelinisiatiewe ondersoek, in teenstelling met die gebruik van eksotiese spesies wat baie water gebruik.

As GAUCC ambassadeur hoop sy om meer oor die bestuur, beleid en ekonomiese aspekte van klimaats- en omgewingsbewustheid te leer: “Ek stel belang in herstellende omgewingsgeregtigheid. Ek sal graag 'n rol in opvoeding wil speel en kwesbare en benadeelde mense wil help om klimaatsverandering te verstaan en hoe om dit te hanteer."

Sy glo dat daar 'n wanpersepsie bestaan oor hoe hierdie groepe die omgewing waardeer en verstaan. Dit beteken dat hulle behoeftes en prioriteite maklik opsy geskuif word in beleid en bestuursbesluite: “Ek hoop om hierdie geleenteheid te gebruik om so veel as moontlik inligting in te samel wat my in staat sal stel om terug te gee aan diegene wat dikwels uitgesluit word. Ons benodig geregverdigde klimaatsaksie wat kwesbare gemeenskappe beskerm en dien.

Yenziwe is van KwaZulu-Natal en 'n Ladysmither in murg en been, waar sy ook in 2015 aan die Hoërskool Ladysmith gematrikuleer het.

Olivia Jones

Olivia Jones_Credit Stefan Els (2).jpg

Olivia is a'n HonsBSc-student in die navorsingsgroep oor globale biologiese verandering en beplan om 'n klimaatveranderingsekoloog te word: “My langtermyn doelwit is om tot navorsing in hierdie veld by te dra, asook om aktief betrokke te wees in die implementering van klimaats- en bewaringsinisiatiewe. Op 'n tydstip waar uitsonderlike gebeure alreeds plaasvind en gevaarlike uiterstes ons bedreig, glo ek dat klimaatveranderingsekologie tans een van die relevantste en belangrikste velde van werk is.

Haar navorsingsprojek fokus op 'n  populasie van versamelvoëls (Philetairus socius) wat in die Suidelike Kalahari voorkom. Hierdie voëls word as belangrike ekosisteemingenieurs beskou, aangesien hulle die enigste bekende voëls is wat groot neste in bome bou wat dikwels tot 'n honderd voëls van verskillende generasies huisves. As gevolg van die grootte en permanente struktuur van die neste, maak 'n groot getal organismes staat op hierdie neste vir skuiling en kos. Die veranderende reënvalpatrone in die gebied kan egter 'n invloed hê op die aantal neste, en dus ook die biodiversiteit van organismes wat daarmee geassosieer word.

Benewens die feit dat die GAUCC program 'n uitstekende netwerkgeleentheid is, glo sy dat sterk netwerke van enersdenkende mense die enigste manier is om die skuif te bewerkstellig wat nodig is om klimaatsverandering om te keer en die vlak van netto nul-emissies te bereik.

“Ek wil regtig graag hê dat die samelewing mense as intrinsieke deel van die natuur sal beskou en die noodsaaklikheid sal sien om daarvoor te sorg, om die delikate balans van lewe op aarde in stand te hou. Daar is geen enkele oplossing vir klimaatsverandering nie, dus het ons baie mense nodig om in baie sektore en oor kulture, ras en geslag heen te werk."  

Olivia is in Zimbabwe gebore, maar het as vierjarige na Suid-Afrika verhuis. Sy het haar skoolloopbaan in 2018 aan die Springfield Convent School voltooi. 

Nosipho Gqaleni

Nosipho Gqaleni_Stefan Els (6).jpg

Nosipho is 'n MSc-student in die navorsingsgroep oor globale biologiese verandering in die Departement Plant- en Dierkunde. Sy bestudeer die seisoenale reënvalpatrone in die Nama- Karoo, en hoe dit verband hou met die grondvog en die doeltreffend waarmee ekosisteme water gebruik.

Sy sê sy hoop die program sal haar help om die kompleksiteite van klimaatsverandering en die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te navigeer: “Ek wil in staat wees om daardie areas in my invloedsfeer te identifiseer waar impakvolle verandering gemaak kan word."

In die laaste instansie, voeg sy by, is dit as gevolg van óns aktiwiteite dat die ekologiese balans versteur is: “Ons moet seker maak dat ons omgewingshulpbronne nie oorbenut nie, maar eerder bewaar en daardeur die tempo van klimaatsverandering vertraag".

Nosipho het in Libode, 'n dorpie in die Oos-Kaap grootgeword en aan die St John's College in Mthatha gematrikuleer.