Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leer- en onderrigreëlings vir die tweede semester
Outeur: Prof Deresh Ramjugernath: / Viserektor: Leer en Onderrig
Gepubliseer: 29/06/2022

Beste studente en kollegas

Noudat ons gereed maak vir 'n welverdiende halfjaarreses, wil ek julle graag op hoogte bring van die reëlings vir leer, onderrig en assessering vir die tweede semester, wat op Maandag 18 Julie 2022 begin.

Ons het by die laaste vergadering van ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) (op 12 April) aangedui dat ons, as 'n residensiële universiteit, van plan is om so gou moontlik na volle kontakonderrig en -leer terug te keer. Ná die onlangse herroeping van Covid-19-regulasies soos dié oor maskers en beperkings op byeenkomste, is die Universiteit gereed om met die aanvang van die tweede semester weer met volle kontakleer en -onderrig te begin.

Dít impliseer egter veranderinge aan die roosters waaraan studente en personeel dalk gedurende nood- en aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA en ARTLA) gewoond geraak het. Ons vra dus dat studente asseblief hulle moduleraamwerke en SUNLearn nagaan vir die jongste aankondigings oor tweedesemesterroosters.

Hoewel Covid-19 'n enorme uitdaging was en ons werksaamhede beïnvloed het, het ons ook waardevolle lesse oor hibridiese leer en onderrig geleer. Fakulteite kan dus voortaan kontakleer en -onderrig met aanlyn materiaal aanvul in 'n gemengde benadering.

Kom ons hou in gedagte dat, hoewel ons stadigaan na 'normaal' terugkeer, Covid-19 nog nie verby is nie. Die pandemie het ons waardevolle higiënepraktyke geleer en ek moedig jou aan om so ver moontlik daarmee vol te hou. Die Universiteit sal voortgaan om gepaste gesondheid- en veiligheidsmaatreëls te voorsien, waaronder handontsmetmiddel en maskers. Boonop moedig ons alle lede van ons kampusgemeenskap aan om die inenting te kry. 

Dankie aan elke student en personeellid vir julle aanpasbaarheid, harde werk en uithouvermoë, en julle toewyding aan die akademiese program. Dít het ons in staat gestel om die akademiese jare 2020 en 2021 suksesvol te voltooi en ook nog vele ander institusionele hoogtepunte te bereik.

Bly veilig en geniet die ruskans.

Saam vorentoe.

Prof Deresh Ramjugernath 

Viserektor: Leer en Onderrig​