Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskaplike navorsing: van laboratoriumeksperimente tot praktyktoepassings
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Jou loopbaan is jóúne. Hoe vinniger jy jou passie ontdek, hoe makliker sal die geleenthede kom wat reg aan jou passie sal laat geskied" – Dr Nonkululeko Radebe, MSc in Polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch en 'n PhD in Chemie van die Karlsruhe Instituut van Tegnologie, Duitsland (2021).

Dr Nonkululeko Radebe behaal in 2014 haar BSc-graad in Chemie en Polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. In 2015 volg sy dit op met 'n HonsBSc in Polimeerwetenskap en in 2017 behaal sy haar MSc in Polimeerwetenskap. Toe verhuis sy na Duitsland waar sy in 2021 haar PhD in Chemie aan die Karlsruhe Instituut van Tegnologie (KIT) verwerf. Dr Radebe werk tans by die Instituut vir Chemiese Tegnologie en Polimeerchemie by KIT as wetenskaplike navorser in die Polimeermateriaalnavorsingsgroep.

“My werk is nogal dinamies en verander dikwels," sê Nonkululeko. “Vir my PhD het ek hoofsaaklik gefokus op die ontwikkeling van metodes. Ek het 'n nuwe kombinasie van 'n reometer en 'n FTIR- spektrometer ontwikkel deur gebruik te maak van paraboliese spieëls. Dit het 'n reeks stelseloptimering- en foutopsporingstake van daardie twee instrumente behels. Aangesien my projek interdissiplinêr was − met aspekte van fisika, chemie en ingenieurswese, het ek saam met kollegas van 10 ander tegniese universiteite binne die raamwerk van die Duitse Navorsingstigting (Deutschen Forschungsgemeinschaft (DFG)) gewerk. Hiervoor het ek deelgeneem aan aanlyn en van aangesig tot aangesig vergaderings en moes ek aanbiedings doen oor my vordering."

Nonkululeko geniet dit om aan 'n wye verskeidenheid van wetenskaplikes van reg oor die wêreld blootgestel te wees. Hulle inspireer haar nie net nie, maar is ook aktief betrokke by haar ontwikkeling as vrou in die natuurwetenskappe. “Ek geniet werklik die intellektuele stimulasie en om te sien hoe idees ontwikkel  – van laboratoriumeksperimente tot die uiteindelike praktyktoepassings."

Sy waardeer ook die geleentheid wat sy het om te kan reis en internasionale konferensies en vergaderings by te woon.  

Volgens Nonkululeko het die Universiteit Stellenbosch haar geleer om dapper en standvastig in haar doelwitte te wees: “Die belangrikste les was dat jou loopbaan jóúne is. Hoe vinniger jy jou passie ontdek, hoe makliker sal die geleenthede kom wat reg aan jou passie sal laat geskied. Die beste raad wat ek kan gee is om 'n mentor of twee te kry. Om konstant in kontak te wees met iemand wat reeds is waar jy graag wil wees, is een van die beste bronne van inspirasie en motivering. Vra hulle om werklik eerlik te wees oor die voorspoed en teëspoed wat hulle beleef sodat jy so voorbereid as moontlik kan wees. En as jy steeds belangstel, gee net jou beste!"
Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Op die foto, Dr Nonkululeko Radebe. Foto verskaf