Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om tegniese uitdagings in die mynindustrie die hoof te bied
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Die grootste vreugde wat ek uit my werk put, is wanneer mense uit verskillende myndissiplines saam sit en dit regkry om van die tegniese uitdagings wat die mynmaatskappy in die gesig staar, die hoof te bied. " Byron Diergaard, MSc in Geologie (2013)

Byron Diergaard werk vir SASOL as 'n hoof geoloog en is die hoof van die geologiedepartement by 'n steenkoolmyn. Hy het in 2007 sy BSc in Aardwetenskappe-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. In 2008 verwerf hy 'n HonsBSc in Geologie en in 2013 'n MSc in Geologie.

In sy rol as hoof geoloog, is Byron die bestuurder van 'n junior geoloog en twee geologie-assistente. Veiligheid en produksie is twee belangrike aspekte van sy werk en dit behels die identifisering van geologieverwante veiligheids- en produksierisiko's. Dit word gedoen deur die boor van vertikale en horisontale …….., ondergrondse kartering en die daaropvolgende skep van geologiese modelle. Hy is verantwoordelik vir die kwaliteit van die myn se steenkool, vir die skep van die ertsliggaammodel en reserweskattings. “Ek moet ook die myn help in sy skedulering ten einde die beste kwaliteit steenkool te myn en geologiese inligting verskaf oor areas wat in die toekoms gemyn moet word," verduidelik hy. “Ek verskaf ook geologiese inligting vir groot projekte soos die ontwikkeling van nuwe vertikale of skuins skagte of ontwikkeling deur groot geologiese diskordansies."

Dit is belangrik dat 'n geoloog bykomend tot wetenskaplike kennis, ook goeie sosiale vaardighede moet hê. “Die meeste werk by die myn is mensgeoriënteerd," sê Byron. “Daar is nie veel wat jy kan doen as jy nie in staat is om verskillende mense op verskillende vlakke te kan beïnvloed nie. Die grootste vreugde wat ek uit my werk put, is wanneer mense uit verskillende myndissiplines saam sit en dit regkry om van die tegniese uitdagings wat die mynmaatskappy in die gesig staar, die hoof te bied. Ek kan tegniese werk doen in samewerking met mense van diverse agtergronde. Ek werk oor die algemeen in 'n tegniese dienste-departement. Dus behels die helfte van my werk om te verstaan watter inligting die kliënt wil hê of benodig; en om dít dan te verduidelik of te verskaf op 'n wyse wat eenvoudig verstaanbaar of prakties is."

Byron sê die Universiteit Stellenbosch het hom tegnies baie goed toegerus, veral met betrekking tot kritiese denke en probleemoplossing. Gedurende sy studies het hy egter meer geleer as slegs sy kennis van geologie. “Die koshuislewe en kulturele aktiwiteite op Stellenbosch berei jou goed voor vir die wêreld van werk en om mense te verstaan. Dit is nie noodwendig iets wat die akademie jou gaan leer nie en kan 'n tekortkoming by sommige wees," sê hy. “Ek sal studente aanmoedig om oop te wees vir leer en om mense te probeer verstaan. Jy kan tegnies dalk sterk wees, maar as jy nie met mense kan werk nie, gaan jy nie veel in 'n maatskappy gedoen kry nie." 

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Op die foto: Byron Diergaard. Foto verskaf