Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skoolkurrikulum moet leerders met kennis en vaardighede vir 21ste eeu toerus
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/06/2022

Ons het 'n skoolkurrikulum nodig wat kan help om die ongelykhede in ons onderwysstelsel aan te spreek en wat ook leerders met die nodige kennis en vaardighede kan toerus wat hulle vir die 21ste eeu nodig het.

Dít was een van die standpunte van prof Michael le Cordeur, voorsitter van die departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, in 'n onlangse Stellenbosch Forum-lesing. Die onderwerp van die lesing, die derde in die reeks vir 2022, was “Bridging the gap from an unequal past to a future of equal opportunities: in search of an effective curriculum for South Africa" (“Oorbrug die gaping van 'n ongelyke verlede na 'n toekoms van gelyke geleenthede: op soek na 'n doeltreffende kurrikulum vir Suid-Afrika"). Le Cordeur is ook die Visedekaan vir Leer en Onderrig in die Fakulteit Opvoedkunde.

Die Stellenbosch Forum-lesingreeks het in 1990 begin en bied gereelde geleenthede vir US-personeel en -studente, asook lede van die publiek, om meer te wete te kom oor die navorsing van wêreldgehalte wat by die Universiteit gedoen word. Die lesings, wat op 'n toeganklike en verstaanbare manier aangebied word, bied aan beide akademici en nie-akademici 'n platform vir kritiese debat wat oor die grense van vakgebiede strek.

Le Cordeur het in sy toespraak gesê die huidige Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) fokus soveel op kennisverwerwing dat leerders se geluk afgeskeep word. Hy het bygevoeg dat dit ook nie daarin slaag om 'n goeie waardestelsels by ons leerders te vestig nie.

Volgens Le Cordeur, is die KABV-kurrikulum te swaar gelaai met inhoud wat verskeie uitdagings inhou, veral 'n gebrek aan begrip.

“Ons kan doen sonder die onnodige detail, want ons moet op geletterdheid en syfervaardigheid fokus.

“Die KABV-kurrikulum is te voorskriftelik en leerders word te veel geassesseer. Wanneer jy te veel assesserings het, is daar nie genoeg tyd om die kennis baas te raak nie. Handboeke is nie versoenbaar met die kurrikulum nie en leerders sukkel om met die temas in die handboeke te identifiseer."

Le Cordeur het verder gesê ons moet eers na die vaardighede wat ons leerders nodig het, kyk alvorens ons aan 'n nuwe kurrikulum dink.

“Leerders moet meer oor emosionele intelligensie, kritiese denke, leierskap en entrepreneurskap, morele waardes, omgewingstudie, hernubare energie en landbou leer. Ons moet op vakleerlingskappe fokus en meer aandag aan leerders met leerprobleme skenk. Aanlyn onderrig moet ook deel word van die kurrikulum.

“Die waarheid is dat die gehalte van onderrig in 75% van ons skole nie van so 'n aard is dat dit deure na enige soort werk sal open nie, wat nog te sê van enige soort tersiêre opleiding."

Hy het bygevoeg dat ons nie die welstand van onderwysers moet afskeep wat onverpoosd werk om die kurrikulum af te handel nie.

“Ons moet die oorweldigende klomp administratiewe werk van onderwysers verminder. Baie onderwysers word siek, baie benodig traumaberading, en baie ly aan uitbranding. Onderwyserafwesigheid is besig om die grootste afmetings ooit aan te neem. Ons moet ervare onderwysers aanstel wat kan help om die KABV-kurrikulum te hersien."

Le Cordeur het ter afsluiting gesê die KABV-kurrikulum kan slegs in skole werk waar daar opgeleide onderwysers met klein klasse en biblioteke is.