Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Digitale konnektiwiteit gee vroue-agripreneurs in Afrika ’n vegterskans
Outeur: Mamello Nchake
Gepubliseer: 27/06/2022

Die jaarlikse Mikro-, Klein- en Medium-grootte Ondernemingsdag word op Maandag 27 Junie gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick skryf dr Mamello Nchake van die Departement Ekonomie dat digitale konnektiwiteit vroue in Afrika ʼn beter kans gee om kompeterend in die landbou te wees.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Mamello Nchake*

Elke jaar word Mikro-, Klein- en Medium-grootte Ondernemingsdag (MSME'e) op 27 Junie gevier om die belangrike bydrae wat klein sakeondernemings tot ekonomieë wêreldwyd maak, te beklemtoon. Dit is ook 'n goeie geleentheid om die lig te laat val op die uitdagings wat vroue-agripreneurs in Afrika ondervind en hoe digitale tegnologieë hulle kan help om suksesvolle sakeondernemings te vestig.

Die landbou en landbousakebedrywighede speel 'n sleutelrol in Afrika as die hoofbron van inkomste en werkskepping vir mense in landelike gebiede en die armes. In ooreenstemming met die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, bestaan 40–50% van die totale werksmag in landbou in Afrika uit vroueboere en is hulle verantwoordelik vir die produksie van 70% van die voedsel op die vasteland. Daar is egter bewyse van aansienlike geslagsgapings van 40% in landbouproduktiwiteit, -prestasie en -winsgewendheid in Afrika suid van die Sahara, waar vroue sowat 20–30% minder produktief is as hul manlike eweknieë.

Hierdie gapings kan aan verskeie finansiële en ekonomiese uitdagings en beperkings toegeskryf word, insluitende ongelyke toegang tot produktiewe hulpbronne soos grond, kapitaal, netwerke en krediet in vergelyking met mans. Vroue staar ook kennis- en inligtingsbeperkings in die gesig wat hulle daarvan weerhou om hul produkgehalte, verkope en lewering te verbeter. Dit is dus uiters belangrik om meer geleenthede aan vroue in die landbou en agrisake te bied deur weldeurdagte, pasgemaakte, vrouevriendelike strategiese intervensies.

Digitale oplossings in die landbou (digitale landbou) kan hierdie gapings oorbrug deur die nodige geleenthede aan vroue te bied wat hulle die voordele van landbou en waardetoevoeging sal gee. Kundiges wys daarop dat digitale tegnologieë kan help om vroue se toegang tot inligting te verbeter, hul sakeproduktiwiteit te verhoog en uitkontraktering, die deel van hulpbronne en netwerkgeleenthede te fasiliteer. Deur innoverende digitale strategieë soos sosialemediaplatforms te gebruik, kan vroue in die landbou en agrisake nuwe kliënte bereik en hul ondernemings laat groei. Selfs boere in die mees afgeleë plekke kan toegang tot geteikende landbou-inligting deur 'n eenvoudige teks- of stemboodskap kry, selfs al is daar nie internettoegang nie.

Digitale konnektiwiteit kan ook vroue se toegang tot belangrike landbou-inligting (byvoorbeeld markinligting en weervoorspellings) verbeter, wat kan help om hul opbrengste, inkomste en veerkragtigheid teen skokke te verhoog. Digitale konnektiwiteit kan ook MSME'e wat deur vroue besit word, toegang tot handelsgeleenthede bied wat verskaf word deur verskeie handelsplatforms soos die tariefvrye handelsgebied in Afrika, wat onlangs ingestel is. Digitale tegnologieë stel hierdie sakeondernemings in staat om hul produkte se naspeurbaarheid te verbeter met kritieke inligting oor logistiek en vervoer.

Ten slotte …

Die bevordering van geslagsgelykheid in landbou en agrisake in Afrika deur digitale landbou bly belangrik aangesien dit 'n noodsaaklike deel van lande se ekonomiese, sosiale en politieke ontwikkeling is. Daarom moet Afrika-ekonomieë sommige van die bestaande beste praktyke en strategieë aanpas om die struikelblokke te verwyder wat vroue verhoed om die geleenthede wat digitale transformasie inhou tot hul voordeel aan te wend en dus die geslagskeiding in landbou en agrisake vererger.

  • Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

*Dr Mamello Nchake is 'n senior dosent in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.