Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kollegas van Nederland besoek die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Anneke Müller
Gepubliseer: 26/06/2022

Nederlandse kollegas van verskillende opvoedkundige instellings het die Universiteit Stellenbosch (US) gedurende die eerste week van Junie 2022 besoek.

Die besoek was die afsluiting van SEAD-SA, ʼn afkorting wat staan vir die versterking van onderwys en agribesigheidsinteraksie vir volgehoue indiensneming en landbou-ontwikkeling in Suid-Afrika. Die doel van dié projek, wat vanaf 2018 tot 2021 geduur het, was kapasiteitsbou in die landbou-opleidingsektor. Loodsprojekte in die pluimvee-, suiwel- en varksektore in KwaZulu-Natal en die landbousektor in die Wes-Kaap was veral daarop gemik om vaardigheidstekorte aan te spreek.

Die besoekende span is gelei deur me Jeannette van de Steeg, senior lektor en ʼn lid van die internasionale voedsel- en agribesigheid (IFA) bestuurspan van die HAS Universiteit (Nederlandse Hogeschool) van Toegepaste Wetenskappe, en mnr Toon Keijsers, ook ʼn senior lektor daar. HAS is ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling in 's-Hertogenbosch in Nederland, wat in hul opleiding spesialiseer in voedsel, landbou, tuinbou, natuur en die omgewing.

Die SEAD-SA-projek het opvoedkundige instellings van verskillende vlakke en industrievennote saamgebring in een leergeoriënteerde netwerk. Elangeni Tegniese en Beroepsonderwys- en Opleidingskollege was die leidende vennoot in Suid-Afrika en ook verantwoordelik vir die koördinering en administrasie van aktiwiteite in KwaZulu-Natal.

Kollegas van dié provinsie het die Nederlandse besoekers na Stellenbosch vergesel vir gesprekke met verskillende kollegas in die Fakulteit AgriWetenskappe by die US, met onderwyspersoneel by Elsenburg Kollege, asook Boland Kollege in Worcester. Moontlike verdere samewerking is bespreek. Studente in die US se meestersgraadprogram in volhoubare landbou het ʼn gaslesing deur me van de Steeg en mnr Keijsers bygewoon.

Deur die SEAD-SA- inisiatief het studente praktiese onderrig en blootstelling aan verskillende sektore gekry om hul indiensneembaarheid te verhoog. Terselfdertyd het dit gepoog om die geleenthede van die bedryf te vergroot om gepaste werknemers te kan oorweeg. Die sleuteldryfveer was om die volgehoue sukses van die Suid-Afrikaanse landboubesigheid- en indiensnemingsektore te ondersteun.

Die vennootskap het verder ten doel gehad om die Nederlandse “groen onderwyskolom" met iets soortgelyks in Suid-Afrika te verbind, om gesamentlik opvoedkundige modelle te ontwerp en ʼn bydrae te lewer om opvoedkundige instellings van verskillende vlakke te help om die vaardighede van studente ten beste te kan uitbou.

Ook deel van die afvaardiging was kollegas van die volgende Nederlandse onderwysinstellings:

  • Die Aeres Universiteit van Toegepaste Wetenskappe in Wageningen, wat fokus op die ontwikkeling van professionele persone en hul vermoëns om verantwoordelike, volhoubare besluite in ʼn komplekse wêreld te neem.
  • Wageningen Universiteit, wat trots is daarop dat al sy "studieprogramme ʼn skakel het met gesonde kos- en leefomgewings". Hul opleidingsfokus is op voedsel, voer en biogebaseerde produksie, natuurlike hulpbronne en lewende omgewings. en die samelewing se welstand.
  • Yuverta bied landbouberoepsopleiding en opleidingskursusse (op NQF-vlak 1-4) in Europa. Hulle ontwikkel ook kundigheid onder professionele persone in die landbou- en omgewingsektore.

Photo 1 Dutch colleagues visiting.png​Die Nederlandse besoekers het ook Kromco, Laastedrift-plaas in Ceres en Skyvines-wynplaas naby Worcester besoek om met bedryfsvennote te praat en om verskillende nywerhede in die sektor in aksie te sien.

Kromco was een van bedryfsvennote in die Wes-Kaap waar studente van Elsenburg internskappe gedoen het. Dit is een van die grootste sagtevrugte-verpakkingsfasiliteite in Suid-Afrika, waar berging, gradering, verpakking, bemarking en verspreiding van vrugte alles op een perseel gebeur. Van die nuutste voorafsorteertegnologieë word hier vir appels gebruik.

ʼn Samewerkingsooreenkoms is tussen die US en HAS is aan die einde van die week-lange besoek onderteken.

Vir meer besonderhede, kontak asseblief me Julia Harper, bestuurder van die US se Voedselsekerheidsinisiatief, by jrs@sun.ac.za.

= = =

ONDERSKRIFTE:

HEELBO: 

Mnr Keijsers en me van de Steeg saam met meestersgraadstudente van die US. FOTO: ANNEKE MÜLLER

BO: By die ingang van Kromco, van links na regs, is mnr Hennie Claasens (marktoegangsbestuurder,  Kromco), me Angelique Pretorius (tegniese bestuurder, Kromco), mnr Riaan Meyer (produksiebestuurder, Kromco), mnr Ernst Moller (dosent by Elsenburg/Wes-Kaap Departement van Landbou) en mnr Sebastian Schippers (Kromco se bestuurder van menslike hulpbronne). Die gaste uit Nederland is mnr Harm Holleman (Aeres Universiteit van Toegepaste Wetenskappe, Wageningen), mnr Toon Keijsers (HAS), me Maatje Müskens en me Karin Elferink van Yuverta, en me Jeannette van de Steeg (HAS). FOTO: ANNEKE MÜLLER