Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 11 April 2022)
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 20/04/2022

Cofa apha ukuze ufumane isiXhosa

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 11 April 2022 sy eerste van vier geskeduleerde vergaderings vir die jaar gehou. Dit was ook my eerste vergadering as voorsitter nadat ek in Desember die leisels by mnr George Steyn oorgeneem het. Soos ons nou reeds gewoond is, het ons weer in hibridiese vorm ontmoet. Party lede het aanlyn ingeskakel en ander het van aangesig tot aangesig op Stellenbosch byeengekom.

Ons het 'n doelgerigtheid op kampus ervaar: Studente en dosente haastig op pad klas toe, en personeel druk besig met navorsing of professionele akademiese en administratiewe steunpligte. Dit wil voorkom of ons, ná twee jaar met die swaard van Covid-19 oor ons kop, amper na normaal begin terugkeer.

Genadiglik dui alles daarop dat ons die pandemie stadigaan oorkom, of minstens die bedreiging van koronavirussiekte beter onder beheer het. Nietemin bly ons terdeë bewus van die nadelige impak van Covid-19 op ons universiteitsgemeenskap. Ons het meegevoel met die gesinne en geliefdes van diegene wat hul lewens verloor het, en wens diegene wat nog van die siekte herstel spoedige beterskap toe.

Die nasionale ramptoestand wat met Covid-19 verband hou, is op 4 April 2022 opgehef, maar sekere regulasies is behou, waaronder beperkings op hoeveel mense op een slag in lesingsale en ander lokale mag wees. Die Raad het kennis geneem dat die Universiteit vir eers met hibridiese leer en onderrig voortgaan, maar van plan is om so gou moontlik na die volle kontakvorm terug te keer.

Die Raad was ingenome om te hoor dat die US vir die tweede jaar na mekaar ondanks moeilike omstandighede besonder goed gevaar het. Die herfsgradeplegtighede het in die week voor ons vergadering plaasgevind, en ek was bevoorreg om twee van dié plegtighede by te woon wat vir die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie weer in lewende lywe by die Coetzenburgsentrum aangebied is. Geluk aan die graduati, en ons grootste waardering aan alle personeellede, waaronder bestuurslede, wat dít moontlik gemaak het.

Ons het by ons vergadering 'n finale verslag ontvang van prof Eugene Cloete, wie se tweede termyn as Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie op 31 Julie 2022 eindig. En ons het prof Sibusiso Moyo as sy opvolger aangewys, in wie ons die volste vertroue het.

Vind meer besonderhede oor ons vergadering hieronder.

Vriendelike groete

Ainsley Moos
Voorsitter: US Raad

Akademiese jaar suksesvol afgesluit

Die akademiese jaar 2021 is sedert die vorige Raadsvergadering met twee suksesvolle gradeplegtigheidsreekse (Desember 2021 en April 2022) afgesluit. Die US het altesaam 8 768 kwalifikasies verleen. Magistergrade het met 17% toegeneem, en doktorate met 3%.

By die Desember- en April-geleenthede is eredoktorsgrade aan regter Fritz Brand, mnr Andy Calitz, me Diana Ferrus, dr Marlene le Roux, dr Patrice Matchaba, me Nicky Newton-King, prof Marlene van Niekerk en prof John Volmink toegeken.

Aansoeke, registrasies en inskrywings vir 2022

In die Rektor se bestuursverslag (klik hier vir die volledige dokument, en hier vir 'n PDF van sy aanbieding) het prof Wim de Villiers daarop gewys dat die US 143% méér studieaansoeke vir 2022 ontvang het. Dít was nie net danksy ons werwers se voortreflike werk nie, maar ook die hersiene aansoekproses op die nuwe SUNStudent-stelsel. Altesaam 6 032 nuwelingeerstejaars het vanjaar ingeskryf – 13,4% meer as in 2021.

ʼn Dekade van uitnemendheid in Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie

Prof Eugene Cloete het sy laaste verslagdoeningsgeleentheid gebruik om die Raad 'n oorsig van sy twee ampstermyne te bied (klik hier vir sy bestuursverslag, en hier vir 'n PDF van sy PowerPoint-aanbieding). Hy het sy verslag gegrond op die ses strategiese fokusgebiede waarmee hy in 2012 begin het (klik hier vir 'n samevatting), en sowel huidige as voormalige kollegas deur ons hele instelling vir hul bydraes bedank.

Die Raad het eenparig 'n mosie aanvaar om prof Cloete geluk te wens met, en te bedank vir, sy twee suksesvolle termyne. Die mosie lui: “Hy laat 'n gesonde portefeulje agter en het uitmuntende werk gedoen om 'n voortreflike, toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te skep, belangrike vennootskappe te bou, en terselfdertyd nagraadse studie verder uit te brei as 'n belangrike volhoubare bousteen om dít alles te onderstut."

Nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie

Prof Sibusiso Moyo is as die US se nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aangewys. Die US Raad het hierdie besluit op Maandag 11 April 2022 geneem nadat die Institusionele​ Forum en Senaat vroeër ook hul steun aan haar toegesê het. Sy sal op 1 September die amp aanvaar as opvolger van prof Eugene Cloete, wie se tweede termyn op 31 Julie eindig. Prof Moyo, 'n ervare hoëronderwysbestuurder met 'n agtergrond in die wiskundige wetenskappe, is tans die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Skakeling by die Durbanse Universiteit vir Tegnologie. Klik hier vir verdere inligting.

Covid-inentingsreël

Prof Stan du Plessis, Bedryfshoof, het die Raad in sy hoedanigheid as voorsitter van die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) terugvoer gebied oor die ontwikkeling van 'n Covid-19-inentingsreël. 'n Konsepreël is in Desember vir openbare kommentaar gepubliseer en sowat 1 400 bydraes is teen die sperdatum in Januarie ontvang.

Intussen het 'n nuwe variant van die koronavirus kop uitgesteek wat die bestuur van die pandemie verder kompliseer, en dus is die US se Mediese Advieskomitee vir hul kommentaar op grond van die jongste mediese data gevra. Volgens prof Cloete, wat as voorsitter van dié struktuur dien, reken die komitee dat US-personeel en -studente hetsy deur inenting of natuurlike infeksie reeds aansienlike immuniteit teen Covid-19 opgebou het.

Die Raad het kennis geneem dat ʼn aanbeveling aan die IKBV gemaak sou word (klik hier) dat die proses vir die ontwikkeling van 'n inentingsreël vir eers gestaak word, maar vinnig hervat kan word indien dit sou nodig wees. Die finale besluit sal steeds by die Raad berus, en 'n spesiale vergadering kan na gelang van behoefte belê word.

Verslag van die Taalkomitee

Die Raad het 'n verslag ontvang van sy Taalkomitee, wat op 2 Maart vergader het om fakulteite en studentegemeenskappe se taalimplementeringsplanne te oorweeg, en het ook die terugvoer van die Taalbeplanning-en-bestuurskomitee oorweeg. (Hierdie verslae het gehandel oor die tweede semester van 2021, toe die US se Taalbeleid van 2016 nog van toepassing was. 'n Hersiene weergawe van die beleid, wat in Desember 2021 goedgekeur is, het op 1 Januarie 2022 in werking getree – klik hier vir verdere inligting.)

Die Taalbeplanning-en-bestuurskomitee het fakulteite en studentegemeenskappe geloof “nie net vir hul moeite om wyd oorleg te pleeg om terugvoer te bekom nie, maar ook vir die innoverende maniere waarop hulle meertaligheid in hul omgewings bevorder". Nietemin het van die taalimplementeringsplanne besonderhede kortgekom. Die templaat sal dus gewysig word om vollediger en konsekwenter verslagdoening te verseker.

Die Taalkomitee het verslag gedoen dat die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie daarvan bewus is dat die US Afrikaans as 'n inheemse taal beskou, en dat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding bereid is om “verdere voorleggings in hierdie verband" te oorweeg. Dít kom nadat die Raad in Junie 2021 met kommer kennis geneem het dat die Taalbeleidsraamwerk van 2020 nie meer Afrikaans by die lys inheemse tale insluit nie.

Twee dekane weer aangestel

Die Raad het kennis geneem van die heraanstelling van prof Danie Brink as Dekaan: AgriWetenskappe en prof Nicola Smit as Dekaan: Regsgeleerdheid wanneer hul eerste termyne op onderskeidelik 30 Junie en 31 Julie verstryk. Die voorsitter van die Senior Aanstellingskomitee het die twee dekane se heraanstelling met die ondersteuning van hul onderskeie fakulteitsrade goedgekeur. Prof Brink sal vir 'n verdere 3½ jaar dien, en prof Smit vir vyf.

Personalia

Nuwe lede

  • Dr Therese Fish, deur die Senaat verkies (vir die tydperk 1 Januarie tot 31 Desember 2023)
  • Prof Nico Koopman, deur die Rektor aangestel as die Viserektor wat in die Raad sal dien (1 Januarie tot 31 Desember 2022)
  • Mnr Willie Liebenberg, deur die Konvokasie verkies (2 April 2022 tot 1 April 2026)
  • Dr Nicky Newton-King, deur US-skenkers verkies (2 April 2022 tot 1 April 2026)
  • Dr Leon Schreiber, deur die Konvokasie verkies (2 April 2022 tot 1 April 2026)
  • Prof Nicola Smit, deur die Senaat verkies (1 Januarie tot 31 Desember 2023)
  • Me Penny van der Bank, deur die US se permanente administratiewe en steunpersoneel verkies (6 April 2022 tot 5 April 2024)

Herkies

  • Mnr Hubert Brody, deur US-skenkers herkies (2 April 2022 tot 1 April 2026)
  • Adv Gesie van Deventer, deur die munisipale raad van Stellenbosch herkies (4 April 2022 tot 3 April 2026)

Komitees

  • Dr Nicky Newton-King is vir die tydperk 12 April 2022 tot 11 April 2024 in die Uitvoerende Komitee van die Raad aangestel.
  • Me Sindi Lingela en me Penny van der Bank is vir dieselfde tydperk in die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee van die Raad aangestel.
  • Me Viwe Kobokana is met die oog op die aanstelling van 'n Senior Direkteur: Bedryf in die Senior Aanstellingskomitee aangewys (vir die duur van die aanstellingsproses).

Gelukwensing

  • Dr Therese Fish het in Desember 2021 die Kanselierstoekenning ontvang vir bykans twee dekades se bydraes tot die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
  • Prof Nicola Smit was medeskrywer van Liber Amicorum Manfred Weiss, wat in 2021 uitgegee is.
  • Me Viwe Kobokana het op 6 April 2022 die graad BSc (Menslike Lewenswetenskappe) ontvang.

Meegevoel

Die Raad het sy meegevoel betuig teenoor Raadslid mnr Jannie Durand met die afsterwe van sy pa, prof Jaap Durand, wat van 2001 tot 2004 in die Raad gedien het nadat hy deur die destydse Minister van Onderwys aangestel is.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die US Raad vind op 20 Junie 2022 plaas.