Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om ’n nuwe taal te leer bring mense uit verskillende kulture byeen
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/09/2021

​*Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid skep, bied die Afdeling Leer- en Onderrigverryking op 30 September ’n Taaldagkonferensie aan. As deel van hierdie viering van meertaligheid, vestig ons die aandag op van die projekte wat die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum onderneem.

Met ’n vriendelike klop aan ’n virtuele deur en ’n liedjie vol klikke verwelkom dr Zandile Kondowe haar klas Universiteit Stellenbosch- (US-)personeellede by hulle volgende sessie van Masabelane ngesiXhosa (“Kom ons gesels in Xhosa”). In die 16 sessies van hierdie kortkursus vir beginners help leer en oefen sy deelnemers Xhosa-uitdrukkings en -woorde.

Die sessies, wat deur die US Taalsentrum aangebied word, word twee maal per week oor die etensuur aangebied.

“Jy sal nie net ’n nuwe taal leer praat nie, maar ook meertalige en multikulturele vaardighede verwerf,” sê dr Kondowe geesdriftig oor die waarde van die kursus. “Jy sal ná die kursus met studente en kollegas in basiese Xhosa kan gesels. Boonop sal jy agterkom dat jy Xhosa as ’n streekstaal én sy status as ’n amptelike taal in Suid-Afrika na waarde begin skat. Om ’n nuwe taal te leer bring mense uit verskillende kulture byeen en skep ’n ruimte waar hulle kan groei.”

Een van haar studente het dít vroeër vanjaar in ’n e-pos bevestig. “Jy was reg toe jy gesê het my mede-Suid-Afrikaners sal dit waardeer as ek selfs net ’n bietjie Xhosa probeer praat,” het die e-pos gelui.

“Jy het geen voorafkennis van Xhosa nodig om tot die kursus toegelaat te word nie,” verduidelik dr Kondowe, wat oor jare se Xhosa-onderrigervaring aan die US en Nelson Mandela Universiteit beskik. Deelnemers ontvang ook opnames en voorafopnames. Klein toetse word afgelê, en natuurlik mondelinge, as ’n beproefde manier om ’n nuwe taal te snap.

Masabelane is voorheen in kontakvorm aangebied, maar weens die COVID-19-beperkings moes sy aanpas en vernuwend begin dink. Die taalkortkursus vind sedert 2021 aanlyn via MS Teams plaas. Drie aflewerings is tot dusver vanjaar aangebied, en nóg een word vir 6 Oktober tot 10 November beplan.

Dr Kondowe, wie se empatiese, energieke geesdrif as opvoeder groot lof van studente ontlok, verlang beslis na die persoonlike interaksie van tradisionele onderrig, maar sy doen steeds haar bes om te sorg dat haar studente die grootste moontlike woordeskat aanleer en ’n afgeronde ervaring het. “Ek geniet dit om my studente te help deel word van ’n groter Xhosakultuur in ’n bevorderlike leer- en onderrigomgewing.”

Virtuele onderrig het egter ook sy voordele. So byvoorbeeld het dit personeellede van verskillende US-kampusse en -liggings in staat gestel om die kursus saam te volg. “Deelnemers van Tygerberg, Stellenbosch, Ceres, Worcester en die Militêre Akademie in Saldanha het almal saam ingeskakel. Is dit nie wonderlik nie? Daar was van fakulteitsleiers en akademici tot administratiewe personeellede,” sê sy.

’n Vorige student se terugvoering vat die waarde van die kursus goed saam: “Dit help baie om selfvertroue in gespreksverband te bou, jou ‘vrees’ vir ’n nuwe taal te bowe te kom, en daaraan

gewoond te raak om woorde en sinsnedes te sê. Dit het my ook aangespoor om meer te lees en te praat én vrae te vra.”

Nóg ’n voormalige Masabelane-student, dr JP Bosman, direkteur van die Sentrum vir Leertegnologieë, is ewe beïndruk met die kursus: “Ek het voorheen basiese Xhosavaardighede op my eie probeer aanleer, maar sonder veel sukses. Die spreekwoordelike ‘saadjies’ wat nodig was om my taalverwerwingsvaardighede te laat ontkiem was gewoon nie daar nie. Maar nou het dit begin groei danksy hierdie kursus, wat dr Zandile besonder knap aanbied. Die beeldskone Xhosataal is beslis besig om in my wortel te skiet. Daar is nog baie om te leer, maar ek voel reeds gemakliker om my Xhosakollegas te groet en ’n kort geselsie aan te knoop.”

Hy sê die kombinasie van praktiese taalvaardighede en woordeskatopleiding tesame met inligting oor die Xhosakultuur het die kursus “lewendig gemaak”. Vir dr Bosman was dit byvoorbeeld fassinerend om te leer dat die maande van die jaar in Xhosa hulle name te danke het aan wanneer sekere plante in die Oos-Kaap blom. September is byvoorbeeld EyoMsintsi – die maand van die kuskoraalboom.

Die kursus, wat oor ses tot agt weke strek, kos R2 500. Om te registreer, gaan na die webtuiste van die US se Afdeling Kortkursusse. Deelnemers ontvang ’n bywoningsertifikaat. Vir verdere inligting, kontak dr Kondowe by kondowe@sun.ac.za.​