Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​US verwelkom grensverskuiwende entstofinisiatief
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 23/09/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom die aankondiging vandag deur pres Cyril Ramaphosa van ʼngrensverskuiwende COVID-19- en kanker-entstofinisiatief in Suid-Afrika, sê prof Eugene Cloete, die waarnemende Rektor.

Die US gaan ʼn leidende rol speel in hierdie ambisieuse inisiatief om die ontwikkeling van 21ste eeuse immunoterapie vir kanker en aansteeklike siektes te versnel, en Suid-Afrika as ʼn naaf vir wetenskaps- en geneeskundevernuwing vir die hele Afrika deur middel van ʼn uitgebreide samewerkende netwerk te posisioneer.

Die inisiatief is die geesteskind van die Suid-Afrikaans-gebore dr Patrick Soon-Shiong en NantWorks, ʼn Kaliforniese konglomeraat en wêreldleier in die digitale revolusie in gesondheidsorg, tegnologie en media.

Die samewerkende netwerk bestaan onder meer uit die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR); die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR); die Sentrum vir Epidemiese Navorsing en Innovasie (Seri), wat vandag amptelik bekend gestel is en waarvan die US se prof Tulio de Oliviera die stigtingsdirekteur is; asook die US en die Universiteite van Kaapstad, die Witwatersrand en KwaZulu-Natal.

Die totstandbrenging van Seri, in samewerking met die SAMNR, die US en die Universiteit van KwaZulu-Natal, sal versnelde genomiese waarneming van en reaksie op virusmutasies in Afrika moontlik maak.

Volgens De Oliviera sal dié Sentrum, wat met die steun van die Chan Soon-Shiong-familiestigting en die Rockefeller-stigting tot stand gebring is, dit moontlik maak om genomiese tegnologieё intyds te gebuik om epidemies en pandemies na te speur en daarop te reageer. 

“Ons is regtig opgewonde oor die vennootskap met dr. Soon-Shiong om die grootste genomiese fasiliteit op die Afrika-kontinent tot stand te bring," het hy gesê.

Die Rockefeller-stigting het die amptelike bekendstelling van Seri verwelkom en gesê die Sentrum “sal help om genomiese volgordebepaling reg oor Afrika suid van die Sahara te verbeter en die volgende generasie Afrika-wetenskaplikes op te lei".  

Die US sal ook in samewerking met die SAMNR betrokke wees by die totstandbrenging van kliniese sentra van uitnemendheid vir die behandeling van kanker en aansteeklike siektes, soos COVID-19, MIV/vigs en TB.

Volgens De Oliviera is die US opgewonde oor sy leiersrol in hierdie belangrike inisiatief. “Danksy die gevestigde navorsingsuitnemendheid van onder meer sy DWT/NNS-sentrum vir Uitnemendheid van Biomediese TB-navorsing en die Afrika-kankerinstituut, is die Universiteit goed geposisioneer om ʼn betekenisvolle bydrae tot die inisiatief te maak."

  • Klik hier vir ʼn mediaverklaring van NantWorks, die Presidensie, die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die WNNR.
  • Klik hier vir ʼn verklaring van die Rockefeller-stigting.