Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch-dokter lei deurbraak-navorsing om pre-eklampsie, ʼn dodelike swangerskap-komplikasie, te beveg
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Ilse Bigalke
Gepubliseer: 23/09/2021

​ʼn Potensieel lewensreddende deurbraak in die behandeling van premature pre-eklampsie, ʼn gevaarlike komplikasie van swangerskap, is deur ʼn span Suid-Afrikaanse en Australiese navorsers onder die leiding van die Universiteit Stellenbosch (US) behaal.

Die opwindende bevindings van dié studie onder leiding van prof Cathy Cluver, Mede-professor in die Departement Verloskunde en Ginekologie van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is pas in die British Medical Journal (BMJ) gepubliseer.

“Pre-eklampsie eis elke jaar die lewe van 500 000 ongebore babas en 70 000 verwagtende ma's wêreldwyd. Dit is een van die grootste oorsake van moeder- en neonatale sterftes in Suid-Afrika," sê Cluver. “Pre-eklampsie wat tydens vroeё swangerskap ontwikkel, bekend as premature pre-eklampsie, is ʼn hoogs gevaarlike variant van die siekte waartydens die risiko vir die baba en ma veral hoog is."

Volgens Cluver is die enigste bestaande behandeling vir pre-eklampsie om die baba en die plasenta te verlos. “Dit is redelik veilig om ʼn baba laat in ʼn swangerskap te verlos, maar as die verlossing prematuur is, kan dit ernstige komplikasies geassosieer met vroeggeboorte en selfs die baba se dood meebring."

Vorige pogings om middels te vind wat veilig gedurende swangerskap toegedien kan word en swangerskapsduur by premature pre-eklampsie kan verleng, was nie suksesvol nie. “Die idee om metformin as ʼn moontlike behandeling vir pre-eklampsie te gebruik het gespruit uit laboratoriumstudies deur dieselfde navorsingspan by die Mercy-hospitaal vir Vroue in Melbourne.

“Onlangs is metformin tydens prekliniese laboratoriumstudies van die Toegepaste Verloskundegroep in Melbourne, onder leiding van prof Stephen Tong, as ʼn moontlike behandelingskandidaat vir pre-eklampsie geïdentifiseer. Ons het toe begin evalueer of orale metformin swangerskapsduur kan verleng by vroue wat in die Tygerberg-hospitaal hier in Kaapstad met premature pre-eklampsie gediagnoseer is," sê Cluver.

In hierdie studie, wat by die Tygerberg-hospitaal onderneem is, het die navorsers 180 vroue met premature pre-eklampsie gewerf wat tussen 26 en 32 weke swanger was. Die vroue is tussen Februarie 2018 en Maart 2020 gewerf. “Die ma's moes stabiel genoeg wees om in die hospitaal swangerskapbestuur vir premature pre-eklampsie te ondergaan. Die helfte van hulle het daagliks 3 g orale metformin geneem, terwyl die ander 90 ʼn nagemaakte pil (plasebo) gekry het. Nie een van die deelnemers of die navorsers het geweet wie die aktiewe middel geneem het totdat die studie voltooi is nie.

“Veral opwindend is dat die vroue wat metformin gekry het, 7,6 dae langer swanger gebly het vergeleke met dié wat ʼn plasebo gekry het. ʼn Volle week. Waar hierdie vlak van prematuriteit ter sprake is, is ʼn ekstra week in die ma se baarmoeder bes moontlik ʼn baie belangrike wins wat lewenslange gesondheidsvoordele vir die baba kan meebring.

“Dit is die eerste keer dat ʼn behandeling wat aan ma's met premature pre-eklampsie gegee is om hulle ʼn week langer swanger te hou, moontlik gewerk het," verduidelik ʼn verheugde Cluver. “Dit kan beteken dat premature pre-eklampsie nou behandel kan word en dat ons die progressie van die siekte heelwat kan vertraag."

Voordele van metformin sluit in dat dit reeds algemeen gebruik word om diabetes tydens swangerskap te behandel en dus waarskynlik veilig is, veral as dit vir ʼn beperkte tydperk toegedien word. Nog ʼn voordeel is dat metformin nie duur is nie, wat beteken dit kan algemeen gebruik word in lae-en-middelinkomstelande (LMIL'e) soos Suid-Afrika, waar die toestand die algemeenste voorkom. Voorts is geen ernstige newe-effekte waargeneem van die middels wat tydens die studie gebruik is nie.

Cluver voeg by dat die verlenging van swangerskap van die deelnemers langer kon gewees het as hulle langer behandel is as 34 weke van swangerskap, maar babas van vroue met premature pre-eklampsie wat by die Tygerberg-hospitaal bestuur word, word op 34 weke verlos.

Volgens haar is die volgende stap ʼn groter studie, met 500 deelnemers, om die bevindings te bevestig. “As die bevindings bevestig word, beteken dit metformin kan gebruik word om die lewe van duisende ma's en hul babas red." 

*Die studie is deur die US se Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad goedgekeur. 

Befondsers was: Die Preeclampsia Foundation, Peter Joseph Pappas-navorsingstoekenningsprogram en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Merck Healthcare het die medikasie vir die studie goedgunstelik verskaf, maar het geen rol in die studie gespeel nie.