Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opgee was nooit 'n opsie nie, sê voormalige SciMathUS-student
Outeur: ​Amory Le Roux-Arries
Gepubliseer: 22/09/2021

Amory Le Roux-Arries

SciMathUS-klas van 2004

Graadprogram:  MEng (Siviele Ingenieurswese)

Ek is Amory Le Roux-Arries en ek is oorspronklik van die Strand in die Wes-Kaap. Vandat ek 12 jaar oud was wou ek 'n siviele ingenieur wees en ek kon my nooit voorstel dat ek enigiets anders sou doen nie. 

​In my matriekjaar het alles goed verloop tot my finale eksamen. My Wiskunde-punte was nie meer genoeg om toelating tot die ingenieursprogram te kry nie. Dit was vir my hartverskeurend om te sien hoe my drome voor my oë verdwyn. Maar ek het 'n hardkoppige ma gehad wat nie wou toelaat dat ek opgee nie ...  

Ek het uiteindelik by SciMathUS aansoek gedoen, en die res soos hulle sê is geskiedenis. Vandag leef ek my droom uit en is verantwoordelik vir alle siviele en strukturele werk op die uitbreiding van die grootste radioteleskoop ter wêreld, die MeerKAT, naby Carnarvon in die Noord-Kaap. Ek is ongelooflik opgewonde om deel te wees van hierdie baanbrekerswerk in die sterrekunde.

Aan die begin van my SciMathUS-jaar het ek gevoel asof ek my ouers teleurgestel het en myself gefaal het. Ek het egter deurgedruk en was vasberade om die jaar suksesvol te voltooi sodat ek weer aansoek kan doen vir die graadkursus van my keurse. Die ondersteuning en toewyding van die Scimathus-personeel was vir my so 'n groot hupstoot. Die vriende wat ek tydens my SciMathUS-jaar gemaak het, het my ook gehelp om gefokus te bly.

Nadat ek die SciMathUS-program voltooi het, kon ek uiteindelik my studies in ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch aanpak. Sedertdien het ek al so baie nuwe ervarings beleef — ek het na Johannesburg verhuis; het al as deel van die ontwerpspan op 'n 80km pad projek in die Demokratiese Republiek van Kongo gewerk; ek het 'n projekbestuurkursus voltooi; in 2018 my meestersgraad in siviele ingenieurswese verwerf en soos genoem is tans by die MeerKAT-uitbreidingsprojek betrokke.

My raad aan elke student wat moedeloos voel met hul situasie ... Dit is nie einde nie, jy is nie 'n mislukking nie, hierdie is net 'n klip in die pad. Rol daardie klip weg en gaan voort!

​Ek sou nie my drome kon bereik sonder die hulp van elkeen wat deel is van SciMathUS nie en daarvoor sal ek hulle ewig dankbaar wees.