Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-akademici en -alumnus ontvang ATKV-Woordveertjies
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 22/09/2021

​Drie akademici en 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs met ATKV-Woordveertjies vir hul uitmuntende letterkundige bydraes vereer. Die Woordveertjies word jaarliks ter erkenning van uitsonderlike prestasies in die Afrikaanse woordkuns toegeken.

Stephanus Muller en Stephanie Vos

Prof Stephanus Muller en dr Stephanie Vos van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het die 2021 ATKV-Woordveertjie vir niefiksie vir hul boek Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949-1981 uit die stal van Protea Boekhuis ontvang.

Die boek bevat die geannoteerde briefwisseling tussen Van Wyk en Hartman, twee invloedryke figure op die terrein van Suid-Afrikaanse Westerse kunsmusiek. Die publikasie dra aansienlik by tot die vakgebied van Suid-Afrikaanse musiekgeskiedskrywing, sowel as tot Afrikaner- en apartheidgeskiedskrywing. Benewens die briewe, bevat die boek ook belangrike foto's, afskrifte van fakse, telegramme en ander vorme van korrespondensie.

“Erkenning is belangrik vir skrywers en akademici, maar in hierdie geval strek die erkenning verder, tot by die inhoud van die boek," sê Muller, die direkteur van die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie, 'n onafhanklike instituut by die US.

“Dit is belangrik dat hierdie toekenning 'n mate van prominensie verleen aan die briefwisseling tussen hierdie twee musiekkenners waarin hulle oor hul vakgebied gesels. Ons het groot waardering vir die ATKV se inisiatief om hierdie tipe pryse toe te ken. Dít beteken dat die inhoud van die boek in die openbare diskoers opgeneem is op 'n ander manier as wat andersins die geval sou wees."

Vos, 'n dosent in die Departement Musiek, is ewe geëerd deur die erkenning wat hul boek ontvang. “Dit gebeur selde dat iets wat eintlik as 'n akademiese projek begin het hierdie tipe openbare blootstelling ontvang en op dié manier 'n groter leserspubliek bereik," sê sy.

“Baie mense het die boek 'n werklikheid help maak. Spesiale erkenning gaan aan Hanna Botha, wat 'n kernrol vervul het om die argief bymekaar te kry waarop die projek gegrond is, en aan ons uitgewer, Protea, vir hul toewyding daaraan om die boek die beeldskone voorwerp te maak wat dit is." Die boek is opgedra aan Botha, wat jare lank aan die hoof gestaan het van Spesiale Versamelings by die US Biblioteek.

Muller het al wyd gepubliseer in sowel plaaslike as internasionale verband en het in 2015 die US se Kanselierstoekenning vir Navorsing ontvang. Sy boek Nagmusiek van 2014 is met die Eugѐne Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Jan Rabie-Rapport-prys, die kykNET-Rapport-prys sowel as die UJ-debuutprys vir kreatiewe skryfkuns in Afrikaans bekroon.

Vos was op haar beurt van 2016 tot 2020 die projekleier van die Interdissiplinêre Forum vir Populêre Musiek by Africa Open voordat sy in haar huidige pos aangestel is. Haar bydrae tot Sulke vriende is skaars is gelewer uit 'n navorsingsoogpunt wat dissiplinêre grense oorsteek, en teen die agtergrond van 'n musiekpraktyk (Suid-Afrikaanse jazz) wat eng begrippe van genre en idees oor 'die populêre' te bowe gaan.

Willem Anker

Dr Willem Anker, 'n dosent in Kreatiewe Skryfkuns in die Departement Afrikaans en Nederlands, het die 2021 ATKV-Woordveertjie vir prosa gewen vir sy derde roman, Skepsel, wat deur Queillerie uitgegee is. Die toekenning verleen erkenning aan die beste populêre Afrikaanse prosa van die afgelope kalenderjaar.

“Hierdie prys is 'n groot eer en sal hopelik ons departement, en veral ons Kreatiewe Skryfkuns-komponente en die MA-program in Kreatiewe Skryfkuns, goeie blootstelling bied," sê Anker.

Anker het die afgelope paar maande heelwat eerbewyse vir Skepsel ontvang. Die roman het hom vroeër vandeesmaand 'n tweede kykNET-Rapport-prys besorg nadat hy dieselfde toekenning in 2015 vir sy roman Buys gewen het. Die nasionale kykNET-Rapport-prys erken en beloon uitnemendheid in Afrikaanse skryfkuns. Skepsel is ook op 31 Maart met die UJ-prys vir 2021 bekroon.

Pieter Odendaal

US-alumnus Pieter Odendaal het die 2021 ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks vir Droomwerk ontvang.

Odendaal se Afrikaanse debuutdigbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, het in 2018 by Tafelberg Uitgewers verskyn en in 2019 die gesogte Ingrid Jonker-prys gewen. Hy is ook die medesamesteller van die meertalige poësievertaalbundels Talle tonge (2013) en ConVerse (2018).