Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TygerMaties betree internasionale arena met innoverende robotprojek
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 21/09/2021

​Quintin, die afstandbeheerde tele-teenwoordige robot wat help om virtuele kontak te bewerkstellig tussen pasiënte in Tygerberg-hospitaal se Covid-19 ISE en hulle families, gaan binnekort bekendgestel word in 'n innoverende studenteprojek wat daarop gemik is om dringende globale gesondheidsuitdagings aan te spreek. 

Twee mediese studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Stellenbosch Universiteit (SU) is gekies uit vele internasionale aansoekers om aan 'n projek deel te neem wat behels dat hulle Quintin se rol ontwikkel en uitbrei. 

Die studente – finalejaarstudent Azhar Adam Nadkar en vierdejaarstudent Jessica Davies – neem deel aan die Johns Hopkins School of Public Health's Innovate4Health Global Student Design Sprint – 'n inisiatief wat daarop gemik is "om innoveerders vir die toekoms te inspireer om die dringende uitdagings en ongelykhede in die gesondheidsbedryf met betrekking tot nuwe infeksies aan te spreek". 

Hulle span – met die naam CareBots – bestaan uit die twee van hulle, asook twee deelnemers uit Indië, Mokshada Sharma en Tapesh Dutt Nagaria. 

Quintin, 'n Double Robotics robot, is oorspronklik gebruik om ISE-spesialiste te help met die monitering van pasiënte tydens saalrondes gedurende die ergste uitbreking van die pandemie, maar sy rol het ontwikkel daartoe om ISE-pasiënte, wat nie toegelaat is om enige besoekers te ontvang nie, met hulle familie ste laat skakel deur middel van tegnologie. Tygerberg-hospitaal se Covid-19 psigososiale ondersteuningspan, onder leierskap van dr Kerry-Ann Louw van die Departement Psigiatrie, het begin om Quintin te begin gebruik as 'n voertuig om 'n tablet-toestel, wat vir WhatsApp video-oproepe gebruik kon word, na pasiënte se hospitaalbeddens te vervoer. 

Die robot het uiteindelik 'n uiters belangrike rol gespeel daarin om pasiënte met hulle families te verbind, terwyl dit ook terselfdertyd mediese personeel die vryheid gegee het om ander take in die ISE te verrig. Daar is vele hartroerende stories oor hoe die robot bygedra het tot die verligting van pasiënte se sielkundige trauma as gevolg van die feit dat hulle geen kontak met hulle families kon hê nie. 

Die span se plaaslike mentor, dr Riette Burger, 'n onkoloog en lid van die Covid-19 ondersteuningspan, het die studente gelei in die analisering van huidige gapings in die logistieke, tegniese en regulatoriese aspekte van Quintin se dag-tot-dag gebruik. Die implementering van 'n tegnologies gevorderde oplossing binne 'n opset met beperkte bronne verg gewoonlik kreatiewe benaderings. Dit is hierdie innoverende en vars oogpunt wat sy hoop die studentespan tot die projek sal bydra deur middel van hulle betrokkenheid by die projek. 

Innovate4Health is 'n ontwerp-inisiatief wat fokus daarop om studente uit gesondheids- en ander dissiplines te bemagtig om probleme op te los binne gesondheidsorgopsette en in die gemeenskap. Dit beoog om “plaaslike projekte wat met die alledaagse lewe te make het te identifiseer, en 'n bydra te lewer wat die potensiaal sou hê om 'n positiewe en merkbare impak op gemeenskappe te hê, deur voorspraak te lewer vir implementeerbare oplossings." Die ontwerp-projek se verloop sal drie tot vier maande wees. 

Studentespanne, wat bestaan uit twee tot vier studente, is gevra om met 'n visie vorendag te kom wat dalk 'n spesifieke probleem kan oplos. Hulle moes die konteks verskaf, en beskryf presies hoe hulle die projek sou implementeer. Die studentespanne wat gekies is om deel te vorm van hierdie jaar se ontwerpprojek sal saam met globale gesondheidsleiers werk om drie dinge te bereik: om hulle innoveringsprojek te ontwerp, om hulle te help om hulle idees te ontwikkel van die teorie tot by die implementering, en om strategieë te ontwikkel om voorbrand te doen vir die aanvaarding van hulle spesifieke benaderingskeuse. 

So wat het gelei tot hierdie aansoek, en hoekom het hulle gekies om op Quentin te fokus? 

“Covid-19-verwante morbiditeit en sterftes het onder pasiënte, families, en gesondheidswerkers van regoor die wêreld 'n nuwe soort psigososiale angs en rou meegebring. Die onvermoë om met 'n geliefde te kan kommunikeer wanneer hulle op hulle mees kwesbaar is, en wat nog erger gemaak is deur die onverwagse lewensverlies as gevolg van hierdie siekte, is vir baie mense eenvoudig net te moeilik om te hanteer," het Nadkar gesê. 

“Toe ek die advertensie gesien het vir die Innovate4Health Global Student Design Sprint, het ek geweet dat 'n geleentheid vir my was om myself te bemagtig en om vaardighede op te doen deur deel te neem aan die ontwikkeling en implementering van 'n volhoubare oplossing wat daarop gemik is om pasiënte daartoe in staat te stel om op 'n virtuele platform met hulle geliefdes te skakel gedurende 'n tydperk waartydens direkte menslike kontak nie moontlik is nie. 

“Ek het hierdie projek gekies, aangesien ek werklik glo dat met die hulp van die Innovate4Health Global Student Design Sprint se fasiliteerders, ons span sal kan voortbou op die fondamente wat daargestel is by die Tygerberg-hospitaal deur dr Kerry Louw en die Covid-19 ondersteuningspan. Die doel is om oudiovisuele konsultasiesisteme te ontwikkel en te implementeer deur middel waarvan pasiënte, familielede en lede van die multi-dissiplinêre spanne tydens die Covid-19-epidemie kan kommunikeer. Dit kan ook gebruik word in ander gesondheidsopsette waar fisieke kontak beperk is." 

Nadkar en Davies het voorheen op verskeie projekte saamgewerk, beide binne studentegemeenskappe en student-gedrewe akademiese ondersteuningsprogramme. Hulle meld dat hulle gelei word deur dienslewering aan ander en deur hulle toewyding aan leer en groei binne en buite die mediese kurrikula. 

Nadkar het gesê hy voel “geëerd en bevoorreg" om aan hierdie ontwerp-projek te kan deelneem. 

“Die Design Sprint het my 'n unieke geleentheid gegee om te begin werk met die oog op die verwerkliking van die positiewe verandering wat ek graag sou wou sien in reaksie op die uitdagings wat ons binne die gesondheidstelsel ervaar. As 'n finalejaar mediese student wat binnekort as dokter sal kwalifiseer, is dit belangrik dat ek myself toerus met die kennis, benadering en vaardighede wat ek sal nodig kry om uit te blink as 'n gesondheidswerker binne die Suid-Afrikaanse opset." 

Davies, wat altyd gedroom het daarvan om 'n mediese dokter te word, en wat hoop om te spesialiseer in chirurgie, het gesê dat sy verheug was dat sy die geleentheid gegee is om deel te neem aan hierdie inisiatief. 

“Dit is so 'n voorreg om deel te kan wees van hierdie ontwerp-projek vir studente, en dit het my alreeds so baie geleer vir die dinge wat waarskynlik vorentoe op my pad gaan kom," het sy gesê. 

“Die pandemie het 'n geweldige gaping in ons gesondheidstelsel blootgelê – naamlik die gebrek aan kommunikasie tussen pasiënte en hulle geliefdes – en Quintin, wat afstandsteenwoordigheid 'n moontlikheid gemaak het, het 'n unieke oplossing gebied met betrekking tot hoe ons nader kan kom aan 'n oplossing vir hierdie probleem," het Davies gesê.