Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TMF/IJCDS Seminaarreks
Outeur: Claire Kelly
Gepubliseer: 14/09/2021

Op Donderdag 23 September sal die US Transformasiekantoor die derde aflewering van die Transformasiebestuurdersforum en die International Journal for Critical Diversity Studies se seminaarreeks, Die Ontwikkeling van ʼn Kritiese Praktyk van Transformasie, aanbied.

Die seminaarreeks is 'n samewerking tussen die Transformasiebestuurdersforum, Universiteite Suid-Afrika, die Sentrum vir Kritiese Diversiteitstudies by die Wits Universiteit, die Eenheid vir Institusionele Verandering en Sosiale Geregtigheid by die Universiteit van die Vrystaat, die Transformasiekantoor by Nelson Mandela Universiteit en die Universiteit Stellenbosch Transformasiekantoor. 

Die seminaarreeks is ʼn verlenging van ʼn twee-uitgawe spesiale edisie van die International Journal for Critical Diversity Studies wat fokus op die ontwikkeling van kritiese praktyk van transformasie in Suid-Afrikaanse hoër onderwys. Dr Claire Kelly, wat die Programbestuurder in die US Transformasiekantoor en gasredakteur is vir hierdie spesiale uitgawe, verduidelik: 

As ʼn gemeenskap van hoëronderwystransformasiepraktisyns is ons besig om ʼn ruimte te skep vir kritiese refleksie oor ons werk en die gereedskap (teoreties, sowel as prakties) wat ons gebruik om dit te benader. Hierdie seminaarreeks verteenwoordig ʼn poging om ʼn leerruimte vir onsself en enigiemand anders wat in die praktyk van transformasie in hoër onderwys belangstel te skep.'

Die reeks het in Julie aan die Universiteit van die Vrystaat afgeskop, met twee sessies wat gefokus het op teoretiese lense wat die transformasiewerk in Suid-Afrika inspireer. Die tweede aflewering het gefokus op regering en transformasie en is aangebied deur NMU. 

Die derde en komende sessie wat deur die US aangebied word, sal fokus op hoe ons ʼn feministiese lens van interseksionaliteit na die werk van transformasie in hoër onderwys kan bring. Die Direkteur van Hers-SA, me Brightness Mangolothi en prof Peliwe Mnguni van die Unisa Besigheidskool sal voordra oor afknouery in die werkplek en die implikasies daarvan vir gendertransformasie vanuit ʼn interseksionaliteitsperspektief. Nader aan die huis sal die US se eie prof Ronelle Carolissen en prof Nadine-Bowers du Toit ʼn dekoloniale feministiese herbesoek bring aan die “bruin vroue"- artikel. Ten slotte sal Jaco Brink van die US se Gelykheidseenheid ʼn paar perspektiewe oor institusionele beleid vir die tempering van geslagsgebaseerde geweld aanbied. Die sessie se moderator is professor Amanda Gouws, US Professor en SA Navorsingsvoorsitter in Genderpolitiek. 

Die vierde en finale sessie sal fokus op dekoloniseringspraktyk en sal aangebied word deur die Wits Sentrum vir Kritiese Diversiteitstudies. 

Die eerste uitgawe van die spesiale edisie van die International Journal for Critical Diversity Studies: Developing a Critical Praxis of Transformation in South African Higher Education sal vroeg in 2022 beskikbaar wees.