Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-boekprojek wil onderwys gedurende en ná pandemie ondersteun
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 13/09/2021

As deel van 'n sosiale-impakprojek van die Universiteit Stellenbosch (US) word 'n reeks van vier boeke uitgegee wat ten doel het om leerders, onderwysers, ouers en skoolhoofde te bemagtig om die eise van onderrig en leer gedurende, sowel as ná die COVID-19-pandemie die hoof te bied.

Noudat die tweede boek in die reeks onlangs verskyn het, hoop prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Departement Opvoedingsbeleidstudies, dat die publikasies in die toekoms 'n sinvolle en volhoubare impak op die onderwys sal hê.

Learning-under-Lockdown-Voices-of-South-Africa’s-Children__5b8744b0a3d3fbe7ee080c9509097041 - Copy.jpg

Die eerste boek, Learning under lockdown: Voices of South Africa's children, het in September 2020 verskyn. Dit bestaan uit ongeveer 400 opstelle deur leerders tussen die ouderdomme van 9 en 19 oor hulle ervarings van skoolgaan en skoolwerk gedurende die inperking. Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Departement Opvoedingsbeleidstudie, en US-oudstudent Emily O'Ryan het die boek saamgestel nadat hulle deur 640 voorleggings van leerders van oor die hele land gewerk het. Die boek is by CNA-boekwinkels te kry.

Teaching in and beyond pandemic times, die tweede aflewering in die reeks, is in Julie 2021 uitgegee. Hierdie boek, met prof Jansen en Theola Farmer-Phillips, 'n onderwyseres van Mitchells Plain en 'n nagraadse US-student, as samestellers, is uit die onderwyser se oogpunt geskryf. Dit bevat verskeie onderwysers se verhale van die onderriguitdagings en -suksesse wat hulle gedurende die inperking beleef het.

9781928314493.jpg


Prof Jansen beskryf hierdie jongste vrystelling as 'n noodsaaklike hulpbron vir onderwysstudente sowel as praktiserende onderwysers om hulle onderrigvaardighede te verryk en hulself te bemagtig. In teenstelling met tradisionele akademiese publikasies, is dit déúr onderwysers vír onderwysers geskryf, oor huidige onderrigkwessies, in die eerste persoon.

Die onderwysers se monoloë was belangrik om lesers in staat te stel om die publikasie werklik hulle eie te maak, sê hy. “Met ander woorde, dit het nie hier gegaan oor akademici wat bo-oor onderwysers se stemme skryf nie. Die gedagte was om onderwysers 'n platform te bied om hulle angs en vrese, maar ook hulle hoop en drome vir die onderwys ná die pandemie te verwoord."

Die COVID-19-beperkings het bydraers gedwing om in die kuberruim met mekaar te skakel, wat inderwaarheid die reikwydte van die projek uitgebrei het. “Onderwysers het ook oor verskillende fases en grade heen met mekaar saamgewerk op 'n manier wat ongekend was voor die pandemie. Hierdie tipe momentum moet gehandhaaf word in die lig van die oneindige moontlikhede vir professionele leer en netwerkvorming onder skoolonderwysers," sê Jansen geesdriftig.

Die publikasie bevat ook praktiese inligting oor onderwerpe soos hibridiese onderrig ná die pandemie. “Die onderwysers se verhale toon hoe skole in benadeelde gebiede kan wegbeweeg van uitsluitlike afhanklikheid van gekopieerde materiaal of handboeke," sê Jansen. Daarbenewens is die boek 'n waardevolle hulpbron vir beleidmakers en onderwysbeplanners oor wat skole nodig het om die akademiese kloof tussen die wat hét en die wat nié het nie te oorbrug.

Die gedagte vir die projek het in 2020 by hom opgekom toe hy sien hoe onderwysers, leerders en ouers met skoolwerk en die impak van die pandemie op onderrig en leer sukkel, verduidelik Jansen. “Ek wou graag méér doen as om net navorsing te onderneem en tradisionele akademiese tekste te skryf. Ek wou die tipe boeke skep wat 'n praktiese bydrae lewer om die huidige krisis op my vakgebied die hoof te bied," sê hy. Dié idee het later uitgeloop op die konseptualisering van vier boeke wat oor onderskeidelik onderwysers, leerders, skoolhoofde en ouers handel.

Die US se komitee vir sosiale-impakfinansiering het geld vir die aanvangskoste van die eerste twee boeke bewillig. “Danksy die ruim finansiering van die Universiteit kon ons die reeks bekend stel om leer, onderrig, ouerskap en leierskap gedurende die inperking van nader te bekyk," sê Jansen.

Werk aan die derde en vierde boeke is goed op dreef, en publikasie word vir volgende jaar beplan. Die skrywers onderhandel ook met die Wes-Kaapse onderwysdepartement om eksemplare van die tweede boek aan skole te voorsien sodat onderwysers maklik toegang tot hierdie waardevolle hulpbron kan verkry.

Bowenal is prof Jansen bly dat die projek daarin slaag om die kampus en gemeenskappe met mekaar te verbind. “Hierdie soort sosiale impak is sinvol en langdurig, sowel binne as buite hoëronderwysinstellings," sê hy.

​​