Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die wenner van Toekenning vir Voortreflike Onderrig: Dr Shantelle Weber
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/03/2021

Die feit dat sy een van die 2020-wenners van die Universiteit Stellenbosch (US) se Toekennings vir Voortreflike Onderrig 2020 in die afdeling vir ontluikende dosente was, beteken die deure het nie net vir haar geopen nie, maar ook vir diegene wat ná haar gaan kom.

“Om hierdie toekenning te ontvang, het my vertroue gegee in die pad wat ek sover gestap het, sowel as in dít wat nog voorlê. Dit beteken hierdie tipe eerbetuiging is wel vir vroue uit klein, gemarginaliseerde gemeenskappe en uit enkelouer-huishoudings beskore. Die toekenning het my ook aan my behoefte herinner om my eie ontwikkeling voort te sit, wat weer my verhouding met studente en my onderrig sal verdiep."

Die US het die jaarlikse stelsel van institusionele toekennings vir voortreflike onderrig in 2017 ingestel. Dit bestaan uit twee kategorieë, 'Uitgelese dosent' en 'Ontluikende dosent', gegrond op hul ondervinding en leierskap in die vakkundigheid van onderrig en leer.

Deelnemers moet 'n portefeulje saamstel om hul nadenke oor en bewys van vier hoofonderdele te lewer: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moet ook die lesse wat hulle geleer het op hul reis om uitstekende dosente te word, aandui.

Weber het 'n doktorsgraad in Praktiese Teologie aan die US behaal en is 'n senior dosent in die departement Praktiese Teologie en Missiologie. Haar navorsingswerk fokus hoofsaaklik op jeugbediening, -werk en -ontwikkeling in Suid-Afrika, asook die geloofsvorming van kinders, kultureel en intergeloof, sosiale geregtigheid en samelewingsverhoudings om 'n paar te noem.

Sy is ook die direkteur van Uzwelo Jeugontwikkeling waar sy haar passie uitleef vir die opleiding van jeugwerkers wat nie voltydse studie kan bekostig nie, en om as mentor op te tree vir jeugdiges en jong volwassenes met 'n passie vir die jeug in Suid-Afrika.

Weber sê onderrig en jeugwerk was nog altyd haar passie. Sy hoop dit sal studente wat met haar reis kan identifiseer, aanmoedig om die reis in hul onderskeie sfere van invloed en akademiese vakgebiede voort te sit.

“My vroeë opvoeding het nie kritiese denke bevorder of my bemagtig om aan verdere studie te dink nie, want op daardie tydstip was dit nie die gewone pad vir 'n bruin vrou nie. Ek glo ek moet as 'n akademikus in en van Afrika bereid wees om ondersoek in te stel na hoe Afrika-studente leer; hoekom dit die geval is (deur te kyk na die onderliggende geloofstelsels en invloede wat 'n impak hierop het); en hoe hierdie studente kritiese denkers kan word wat bemagtig voel om met wêreldwye menings in hul vakrigtings om te gaan.

“Ek glo my rol as dosent moenie geskei word van die konteks waarbinne ek onderrig gee of van die konteks waaruit my studente kom nie. Elke student vir wie ek klas gee, moet my klas en my as dosent as verwelkomend, deelnemend en van toepassing op die konteks waaruit hulle kom en toepaslik op die konteks waarbinne hulle hulself sal bevind nadat hulle afgestudeer het, ervaar."

Weber beplan om in die toekoms meer tyd aan haar navorsingspublikasie-uitsette te wy, om 'n onderriggenoot te word en om die pad saam met haar studente te stap om hulle te help om sukses te behaal.