Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers en plaaslike filmmaatskappy skep bewustheid oor boggelrugdolfyne
Outeur: Department of Botany and Zoology
Gepubliseer: 03/03/2021

Een van Suid-Afrika se mees onbekende, maar mees bedreigde dolfynspesies, die boggelrugdolfyn, is die fokus van 'n kort dokumentêre film wat op Wêreld-natuurlewedag (3 Maart 2021) aanlyn vrygestel is deur Homebrew Films.

Die film “The Sound of Hope" sal die ryk en diverse Suid-Afrikaanse kuslyn belig, en ook terselfdertyd die aandag vestig op die benarde situasie waarin die boggelrugdolfyne in hierdie waters hulleself bevind. Volgens onlangse skattings is daar minder as 500 individue in Suid-Afrikaanse waters oor.

Sasha Dines, 'n PhD-student in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch, het in 2020 saam met filmmaker Claudio Velasquez van Homebrew Films gewerk om die  aandag te vestig op die betreurenswaardige situasie van Suid-Afrika se boggelrugdolfyne.

“Hierdie streek is bekend vir sy oorvloedige mariene natuurlewe, maar min is bekend oor hierdie enigmatiese kusdolfyn. Met minder as 500 van hulle oor in Suid-Afrika, wou ek hê dat die film dekking moes gee van die wonder van hierdie kuslyn tot by die groot bedreigings en probleme wat hierdie dolfyne in hierdie selfde gebied tans in die gesig staar," verduidelik sy.

Sasha is besig met haar PhD by die Universiteit Stellenbosch onder die studieleiding van Dr Tess Gridley en Dr John Measey. As deel van haar navorsing werk sy saam met Sea Search, 'n wetenskapsorganisasie wat spesialiseer in mariene bewaring in die suider Afrika substreek, onder direkteurskap van Dr Gridley en Dr Simon Elwen is, en in Muizenberg setel.

Die film fokus ook op Sea Search se ontwikkeling van nuwerwetse akoestiese moniteringmetodes  om bedreigde dolfynspesies te help beskerm.

Sasha sê sy het besluit om op boggelrugdolfyne te fokus, aangesien hulle Suid-Afrika se mees bedreigde mariene soogdier is, maar die meeste mense nog nooit eers van hierdie spesie gehoor het nie. Alhoewel boggelrugdolfyne naby aan die kus hou in water van ongeveer 20 meter diep, is hulle baie skaam en swem hulle slegs in klein groepe wat dit moeilik maak om hulle op te merk.

Aangesien hul egter so naby aan die kus leef, maak dit hulle ongelukkig ook baie kwesbaar vir besoedeling, oorbevissing, kuskonstruksiewerk, om deur bote getref te word en in haainette verstrengel te raak.  

Die film bevat beeldmateriaal van Claudio se werk langs die Suid-Afrikaanse kuslyn, asook onderwater beeldmateriaal van boggelrugdolfyne wat Sasha in Februarie geskiet het tydens veldwerk in Mosambiek.

“Ons het planne gehad om saam uit te gaan en meer film te skiet, maar die inperkingsregulasies het tot gevolg gehad dat dit nooit gematerialiseer het nie. Ons moes dus werk met wat ons gehad het.  Ek het met die insette van Claudio en my studieleiers die teks geskryf, terwyl Claudio en die span van Homebrew die materiaal saamgevoeg en geredigeer het. Ek moes my beste David Attenborough wees toe ek ingebring is om die stemopname aan die einde van die produksie te doen!"

Die film is op 3 Maart 2021 om 19:00 SAST op die Sea Search Research se YouTube-kanaal vrygestel. Na afloop hiervan het 'n paneel deskundiges wat deur die span van Sea Search saamgestel is, 'n interaktiewe vraag- en antwoordsessie gelei en boggelrugdolfyne in Suid-Afrika bespreek.   

Sasha se navorsing vir haar PhD maak deel uit van 'n groter projek wat deur Sea Search bestuur word, naamlik die ontwikkeling van nuwerwetse akoestiese metodes om hierdie dolfyne te monitor deur gebruik te maak van 'n passiewe luistersisteem. “Aangesien hierdie dolfyne elk unieke fluite genereer - amper soos name in die menslike samelewing - kan ons hierdie fluite gebruik om individuele dolfyne te identifiseer en te bestudeer soos wat hulle tussen 'n reeks van onderwater luisterstasies rondbeweeg. En omdat hierdie toestelle 24 uur per dag vir weke aaneen werk, sal hulle ons in staat stel om baie meer inligting te kan insamel as wat ons kan doen met bootopnames," verduidelik sy.

Klik hier om die video te kyk.

Foto's: Tess Gridley en Bridget James