Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Virtuele Seminaar oor Leer- en Onderrigverryking: Dr Margaret Blackie (25 Maart 2021)
Outeur: Anthea Jacobs
Gepubliseer: 28/12/2020

Virtuele Seminaar oor Leer- en Onderrigverryking: 25 Maart 2021

U word uitgenooi na die eerste seminaar van die Virtuele Seminare vir Leer- en Onderrigverryking vir 2021, onder beskerming van die Viserektor (L&O), Prof Deresh Ramjugernath, en die Afdeling Leer- en Onderrigverryking.

 

Onderwerp

Kan en moet assessering ʼn gerigtheid op die samelewing en maatskaplike geregtigheid bevorder?

 

Aanbieder

Dr Margaret Blackie

 

Kort biografie

Dr Margaret Blackie is ʼn senior dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, waar sy dosent in chemie is. Sy het in 2020 die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut se Onderrigmedalje ontvang, en die US se Toekenning vir Voortreflike Onderrig in die kategorie ‘Uitgelese Dosent’. Sy is ook ʼn US-onderriggenoot. Haar navorsingsbelangstellings sluit sintetiese chemie en opvoedkunde in, en sy onderrig Chemie in die Departement van Chemie en Polimeerwetenskap, Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US.

 

Reklameteks

​Hierdie seminaar verken die verband wat getrek kan word tussen hoe ons studente in ‘STEM’-dissiplines (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) assesseer en die aankweek van ʼn gerigtheid op die breër samelewing, waarmee bedoel word ʼn sin van onderlinge verbondenheid tussen die self en ander. Uit die perspektief van kritiese teorie behoort opvoeding ʼn verskuiwing te fasiliteer van die begrip van die individu as outonoom, na die individu as lid van ʼn groter samelewing. Ons beskryf ʼn longitudinale studie onder voorgraadse studente in chemie en chemiese ingenieurswese aan universiteite in die Verenigde Koninkryk, Suid-Afrika en die VSA. Volgens die studente se respons op assesseringstake toon slegs ʼn baie klein aantal enige gerigtheid op die samelewing. Hierdie uitslag is verrassend en ietwat ontstellend, omdat die kurrikulums van die meeste programme wat nagevors is, ʼn aantal samelewingsverwante assesseringstake insluit. Dit is dus duidelik dat meer as die doelbewuste insluiting van samelewingsverwante aktiwiteite in die kurrikulum of as assesseringstake nodig mag wees om die ideaal te verwesenlik van hoër onderwys wat op die samelewing en maatskaplike geregtigheid ingestel is.

 

Hierdie seminaar is ʼn klein deeltjie van ʼn groot projek getiteld Die Begrip van Kennis en Studente-agentskap, ʼn internasionale gesamentlike onderneming gelei deur prof Paul Ashwin van die Universiteit van Lancaster. Margaret Blackie sal die seminaar aanbied, maar die referaat, wat tans ewekniebeoordeling ondergaan, is deur Jan McArthur, Margaret Blackie, Nicole Pitterson en Kayleigh Rosewell geskryf.

 

Tyd: 13:00 – 14:00, 25 Maart 2021 op MS Teams

 

Skakel vir die Microsoft Teams vergadering

Click here to join the meeting

 

Navrae: Anthea Jacobs (jacobsa@sun.ac.za)