Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘n Eerste vir Suid-Afrika: Universiteit Stellenbosch ontvang sertifikaat vir energie-doeltreffende gebou
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 26/02/2021

​Die Universiteit Stellenbosch het die heel eerste Elektriese Prestasiesertifikaat (EPC) vir enige gebou in Suid-Afrika ontvang. Dit is in ooreenstemming met die wysiging van die Nationale Energiewet van 1998 wat in Desember 2020 deur die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie afgekondig is. Dit vereis dat alle geboueienaars teen 2022 die elektriese verbruik per vierkante meter moet publiseer.

Die US se Admin B-gebou was die eerste gebou in die land wat 'n A-gradering vir elektriese verbruik van 48 kWh per m² gekry het. Die nuwe wetgewing maak dit verpligtend dat alle geboueienaars die elektriese verbruik vir alle kommersiële geboue groter as 2 000 m² moet monitor.

Volgens mnr. Nadeem Gafieldien, Direkteur Eiendomsdienste van die US se afdeling fasiliteitsbestuur, was hierdie gebou die eerste van vele geboue op die US se kampusse wat op hierdie manier geoudit en gesertifiseer word. "Dit is die beste gradering moontlik vir so 'n kantoorgebou in hierdie klimaatsone, volgens die SANS 10400 XA-standaarde vir EPC's vir geboue in SA."

“Sistemiese volhoubaarheid is een van die belangrikste kenmerke van die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2014. Hierdie eienskap omskryf die kwaliteite en eienskappe van die Universiteit. Ons werk hard daaraan om ons stelsels en prosesse na meer volhoubare energiebronne om te skakel en die impak op die omgewing te verminder. Die US is ook as lid van die Association of Commonwealth Universities daartoe verbind om die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te bereik."

Gafieldien het gesê dat die US al etlike jare lank data versamel deur elektroniese Elsta-meters te installeer wat van tyd tot tyd lewendige data van hierdie meters na die sentrale nutsbestuurstelsel stuur. “Ons het Mess Blue Dust Engineering Solutions, wat deur dr Frank Duvenhage verteenwoordig word, aangestel om die dataverifikasie te voltooi. Die verifikasieresultaat is aan Mess Energy Management and Validation Service (PTY) LTD oorhandig, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut (SANEDI) geakkrediteer is om die Elektriese Prestasiesertifikaat uit te reik. "​