Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof English gaan sleutelrol in globale gesondheid speel
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 25/02/2021

​Prof René English is onlangs gekies as 'n lid van die Subkomitee vir Meesters en Voorgraadse Programme in Globale Gesondheid (SMUDGH) van die Consortium of Universities for Global Health (CUGH). 

"SMUDGH vorm deel van CUGH se Onderwyskomitee. Hierdie subkomitee analiseer tendense en innoverings in kurrikula met betrekking tot die ontwerp, die tipe onderrig, en die eksperiënsiële tipe leer vir voorgraadse-, meesters- en doktorsgraadprogramme in globale gesondheid. 'n Kerngedeelte van die organisasie se aktiwiteite bestaan daaruit om universiteite by te staan om hoë-gehalte voorgraadse en nagraadse globale-gesondheidsprogramme te ontwerp, en om hulle te implementeer," verduidelik English. 

Dit is belangrik, voeg sy by, omdat die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) globale gesondheid as 'n belangrike dissipline geïdentifiseer het. 

"Hierdie Afdeling het 'n hele reeks globale gesondheidskursusse op nagraadse vlak ontwikkel, en is steeds betrokke by die verdere ontwikkeling hiervan. Die doel is om aspekte van globale gesondheid in die voorgraadse kurrikulum te inkorporeer, en om seker te maak dat studente die vermoë besit om 'globaal te dink, en plaaslik op te tree'," voeg English by. 

Toe sy gevra word wat hierdie aanstelling vir haar op 'n persoonlike vlak beteken, het English gesê dat sy baie opgewonde is om deel te kan wees van hierdie baie belangrike subkomitee, wat onder leiding staan van Kathryn H. Jacobsen van die George Mason Universiteit (Verenigde State) en Caryl Waggett van die Allegheny Kollege (Verenigde State), wat beide oor uitgebreide ondervinding op hierdie gebied beskik. 

"Ek hoop om te kan help verseker dat die groep ook oorweeg om globale gesondheid deur 'n uniek Suid-Afrikaanse lens te beskou."

​Sy hoop om te kan voortgaan om in verband met hierdie aspek 'n bydra te lewer, aangesien sy die enigste lid van hierdie subkomitee is wat van Afrika suid van die Sahara afkomstig is. 

"Ek hoop regtig dat die leer en die werksaamhede van hierdie groep die universiteite se programme sal versterk, en ook dat dit die internasionale debat in verband met leer en onderrig op hierdie gebied sal beïnvloed," sê sy. 

English het in 2019 die hoof geword van die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid by die FGGW. Sy het 'n luisterryke loopbaan tot dusvergehad: sy is 'n mediese dokter, en het gespesialiseer in openbare gesondheid. Sy het beide 'n MMed en 'n doktersgraad in haar veld. Vir laasgenoemde het sy navorsing gedoen oor die geldigheid van 'n respiratoriese riglyn vir verpleegsters in Suid-Afrika, en baie van die aanbevelings wat sy gemaak het, het intussen nasionale beleid geword. 

Sy het ook gedien op Suid-Afrika se Ministeriële Taakmag vir Gesondheid wat gemoeid was met Menslike Hulpbronne in die Gesondheidsektor, en was ook die Voorsitter van die Information, Monitoring and Evaluation Workstream. Sy het ook gedien op die Suid-Afrikaanse Lancet Nasionale Kommissie aangaande Hoë-Kwaliteit Gesondheidsisteme.


Foto-erkenning: Wilma Stassen