Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
AfriNEAD spreek gebrek aan navorsing oor gestremdhede in Afrika aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division: Daniel Bugan
Gepubliseer: 01/12/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Jaar vir Persone met Gestremdhede het vandeesweek 'n hoogtepunt bereik met die sesde African Network of Evidence to Action (AfriNEAD)-konferensie, 'n toonaangewende internasionale netwerkgeleentheid wat deur die US aangebied word.

Die twee-dag lange konferensie wat virtueel gehou word, se tema is “Disability Unplugged: Beyond Charters and Conventions: What really matters to persons with disabilities in Africa", en sluit geleentheidsprekers, navorsingsbewyse en rondetafelgesprekke in waarby akademici, regeringsamptenare en verteenwoordigers van die burgerlike samelewing betrokke is.

AFRINead, wat in 2007 in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies (SGRS) tot stand gekom het, het ten doel om te verseker dat netwerke en navorsing tot 'n lewensgehalte vir mense met gestremdhede in Afrika bydra.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het in sy verwelkomingsboodskap daarop gewys dat AfriNEAD 'n belangrike fasiliteerder van die behoeftes van mense met gestremdhede in Afrika geword het.

“Dit is gedoen deur navorsing oor gestremdheid in betekenisvolle voorspraak, praktyke, produkte en beleid te omskep. En – wat baie belangrik is – deur goeie verhoudinge te bevorder.

“Dit resoneer goed met die Universiteit Stellenbosch se visie om 'kennis in diens van die samelewing' te bevorder. Daarom is een van ons strategiese temas om 'navorsing vir impak' te doen. Ons strewe daarna om relevant vir die mense van ons land, vasteland en die res van die wêreld te wees."

De Villiers het gesê 2020 is as die Jaar vir Persone met Gestremdhede by die Universiteit verklaar in ooreenstemming met sy verbintenis tot inklusiwiteit en bevordering van gelyke geleenthede vir almal.

Prof Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die US, het gesê die COVID-19-pandemie bied 'n geleentheid om na te dink, te herevalueer en weer te begin.

“Die gevolge van die pandemie was veral vir mense wat met gestremdhede saamleef, baie erg. Omdat hulle in baie samelewings gemarginaliseerd is, ondervind mense met gestremdhede erger isolasie en is dit vir hulle moeiliker om toegang tot noodsaaklike gesondheids- en maatskaplike dienste te kry. Hulle voel die uitwerking van 'n verlies aan inkomste baie erger as wat dit deur ander gevoer het."

Hy het gesê AfrikNEAD is besig om sy visie te verwesenlik om die gebrek aan navorsing oor gestremdhede in Afrika aan te spreek.

“AfriNEAD het daarin geslaag om 'n dinamiese netwerk van belanghebbers in Afrika en verder te vestig wat aktief idees en bewyse deel. 'n Nuwe oop-toegang vaktydskrif – die African Journal of Disability – is op die been gebring om navorsingsinligting oor kwessies oor gestremdheid in Afrika beskikbaar te stel.​​​

“AfriNEAD het ook 'n groot rol gespeel om die lewensverhale van mense met gestremdhede te vertel. Hierdie verhale beklemtoon kwessies wat uiters belangrik is om voorspraak oor menseregte te bevorder en beleidsvorming te beïnvloed."

Met verwysing na die tema van die konferensie het Volmink gesê: “Die tema vestig die aandag op die talle aspirerende verklaring oor menseregte wat daar is, soos die VN se Verklaring oor Menseregte en die VN se Handves oor die Regte van Persone met Gestremdhede. Maar ek dink die uiteindelike doelwit van die konferensie is ook om ons uit te daag om die belangrike vrae te vra: Hoe beweeg ons verder vanaf verklarings van intensies na regte transformasie? En hoe kan mense met gestremdhede in Afrika tot hierdie transformasie bydra?

“COVID-19 het die aandag gevestig op die behoefte daaraan om gesondheidstelsels te bou wat toegang tot hoëgehaltesorg vir almal sal bied. Dit het die behoefte aan die beskerming van die integriteit van die wetenskap beklemtoon, asook om nuwe kennis te skep en om bewysgebaseerde besluitneming te bevorder. Maar die wetenskap en die verskaffing van gesondheidsorg alleen is nie genoeg nie. Ons moet sosiale geregtigheid bevorder omdat dit die sleutel tot beter gesondheid en welstand is."