Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers pryk in kinderboek oor Suid-Afrikaanse wetenskaplikes
Outeur: Division for Research Development
Gepubliseer: 30/11/2020

​Heelwat Stellenbosse navorsers tel onder meer as 100 Suid-Afrikaners wie se stories van vindingrykheid en breinkrag ingesluit is in 'n nuwe kinderboek, “Uitvinders, Planmakers en ander Slimkoppe van Suid-Afrika".

Die boek, geskryf deur vryskut-wetenskapskrywer Engela Duvenage, het in Oktober by LAPA verskyn. Sy is 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch, en het in 2001 'n MPhil in Joernalistiek (met spesialisasie in wetenskapjoernalistiek) behaal.

“In die boek word die verhale vertel oor verskeie eerstes, uitvindings en ontdekkings wat deur Suid-Afrikaners op die gebiede van die wetenskappe, gesondheidsorg, geologie, ruimtekunde, plant- en dierkunde en ingenieurswese, lugvaart, klimaatkunde en sterrekunde behaal is," vertel Duvenage. “Dit vier die lewenswerk van 'n hele paar wetenskapshelde wat danksy hul breinkrag en uithouvermoë deurdruk om van die wêreld 'n beter, interessanter plek te probeer maak."

Onderwerpe is gekies waarby kinders aanklank sal vind. Die boek sluit ook 'n seksie in oor vyf Nobelpryswenners in die wetenskappe wat almal in Suid-Afrika grootgeword en studeer het.

Onder die navorsers van die Universiteit Stellenbosch wie se verhale ingesluit is, is naaldekokerkenner prof. Michael Samways, mikrobioloog prof. Leon Dicks (wie se navorsing tot die probiotikum entiro gelei het), ingenieurs prof. Thinus Booysen (wat die Geasy selfoongebaseerde water- en elektrisiteitsmeter ontwikkel het, en sedertdien talle skole baie geld help spaar op hul munisipale rekeninge) en prof. Herman Steyn (wat 'n belangrike instrument help bou het wat mense toegelaat het om in 2014 die eerste keer 'n ruimtetuigie op 'n komeet te kon land), orgaanoorplantingspesialis en uroloog prof. Andre van der Merwe, prof. Savel Daniels (ontdekker van talle spesies fluweelwurms en krappe) en insekkundige prof. James Pryke.

Verskeie alumni van die US, onder wie ingenieur Henri Johnson (ontwerper van die Speedgun wat die spoed van 'n krieketbal meet) en Boeing-vlieënier Fatima Jakoet (wat die Sakhikamvu Stigting begin het om kinders oor die wetenskaplike beginsels agter lugvaart leer), is ook ingesluit. In die afdeling oor plantkenners verskyn die storie van hoe Phyllis Burger van die Landbounavorsingsraad, en 'n alumnus van die US Fakulteit AgriWetenskappe, 'n nuwe druiwekultivar genaamd Joybells ontwikkel het.

Tesame met stories oor uitvindings soos Pratley Putty en die Kreepy Krauly word ook vertel hoe vier ingeniersgraduandi van die US, broers Dewald en Schalk Nolte, Niel Müller, Altus van Tonder en Christiaan Brand die maatskappy Entersekt in Tegnopark begin het, en sedertdien sekuriteitsprogramme vir internetbankdienste skryf. Ook in die boek is die storie oor hoedat dr. Chris Leatt die Leatt-nekstut ter beskerming van motorfietsryers ontwikkel het. 

Uit die geskiedenis kan kinders (en hul ouers!) ook lees hoe Hendrik van der Bijl, wat aan die destydse Victoria College studeer het, gehelp het om Eskom, SASOL en YSKOR te help stig in die 1920's en 1930's. Hulle kan ook lees oor wyle prof. Abraham Perold, eerste professor in wingerd- en wynkunde aan die US, die vader van Pinotage-wyn en die man wat Barlinka-tafeldruiwe na Suid-Afrika gebring het.

“Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika" is in die kinderafdeling van die meeste boekwinkels beskikbaar of kan aanlyn by www.lapa.co.za bestel word.