Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US spog weer eens met navorsers wat die meeste aangehaal word in die wêreld
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/11/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) spog weer eens met twee van sy voorste akademici wat as besonder invloedryke navorsers aangewys is volgens die Web of Science-groep se lys getiteld Highly Cited Researchers 2020 wat onlangs bekendgemaak is. Albei het dieselfde prestasie in 2019 behaal.

Professors Oonsie Biggs (oorkruis-gebiede) en Dave Richardson (Omgewing en Ekologie) is onder die lys van navorsers in die wêreld wat die meeste aangehaal word.

Biggs is die bekleër van die DWT/NNS Navorsingsleerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid by die Sentrum vir Kompleksiteitsisteme in Oorgang. Richardson is die Direkteur van die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie en 'n professor in die Departement Plant- en Dierkunde.

Die lys, waarna daar elke jaar met groot verwagting uitgesien word, identifiseer wetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat verskeie referate en artikels gelewer het wat in die boonste 1% volgens die aantal aanhalings in hul vakgebiede en jaar van publikasie verskyn en dus as uiters invloedryk onder hul eweknieë beskou word. Vanjaar se lys bevat sowat 3 900 hoogsaangehaalde navorsers in 21 wetenskaplike en sosiale wetenskaplike vakgebiede en sowat 2 500 hoogsaangehaalde navorsers wat buitengewoon oor verskeie gebiede presteer het.

Die metodiek wat die room van invloedryke navorsers bepaal, maak op die inligting en ontledings wat bibliometriese kundiges by die Instituut vir Wetenskaplike Inligting van die Web of Science-groep doen.

Die inligting word van 21 breë navorsingsrigtings binne Essential Science Indicators, 'n onderafdeling van InCites, verkry. Hierdie rigtings word deur stelle vaktydskrifte, en by uitsondering – in die geval van multidissiplinêre vaktydskrifte soos Nature and Science deur 'n artikel-per-artikel opdrag – gegrond op 'n ontleding van die aangehaalde verwysings in die referate/artikels geïdentifiseer. Hierdie persentiel-gebaseerde keuringsmetode verwyder ouer artikels se voordeel teenoor dié wat onlangs verskyn het, aangesien artikels binne dieselfde kohort teen mekaar opgeweeg word.

David Pendlebury, hoof van navorsingsontleding by die Instituut vir Wetenskaplike Inligting het in reaksie op die 2020-lys gesê menslike kapitaal is uiters belangrik in die wedloop om kennis: “Hierdie lys identifiseer en vier buitengewone individuele navorsers wat 'n groot invloed op die navorsingsgemeenskap het soos gemeet deur die koers waarteen hul werk deur ander aangehaal word.

Hy het bygevoeg dat die identifisering van hierdie sleutelspelers wat aan die voorpunt van hul gekose vakrigtings staan, bied 'n beslisde voordeel aan diegene wat navorsingsaktiwiteite befonds, monitor, ondersteun en bevorder – dikwels met beperkte hulpbronne en ingewikkelde, drukkende uitdagings.

Klik hier vir die volledige 2020 Highly Cited Researcher-lys en uitvoerende opsomming. Besoek hierdie webbladsy vir die metodiek.