Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geslagsgebaseerde geweld is ons almal se probleem
Outeur: Juliana Claassens
Gepubliseer: 25/11/2020

Die jaarlikse veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders vind vanaf 25 November tot 10 Desember plaas. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf prof Juliana Claassens van die Gender-eenheid in die Fakulteit Teologie dat ons in hierdie tyd moet besef dat geslagsgebaseerde geweld ons almal se probleem is.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Juliana Claassens*

Teen die einde van elke jaar word ons tydens gevra om vir 'n oomblik stil te staan en na te dink oor die voortslepende geweld teen vroue en kinders wat 'n donker vlek op hierdie pragtige land van ons is. Ondanks wetgewende- en beleidsmaatreëls wat ingestel is om vroue en kinders te beskerm, blyk dit dat daar geen einde is aan die baie geweldsdade wat by die dag verskrikliker word nie.

Vir diegene onder ons wat 'n bestaan maak uit lees en skryf, is literatuur 'n natuurlike bron om strategieë te bedink wat ons kan help om hierdie nimmereindigende plaag wat in November op ons radars verskyn, aan te spreek. In my onlangse boek Writing and Reading to Survive: Biblical and Contemporary Trauma Narratives In Conversation (Sheffield Phoenix Press, 2020), reflekteer ek oor die rol van trauma-narratiewe wat simboliese taal gebruik om pynlike herinneringe van verkragting en misbruik op so 'n manier weer te gee dat die karakters en hul lesers die verlede, wat hulle gyselaar hou, mag ontsnap.

In een van die hoofstukke bring ek die Bybelse verhaal van die Verkragting van Dinah (Genesis 34) en die roman Milkman van Anna Burns in gesprek met mekaar. Milkman het teen alle verwagtinge en tot groot verbasing van literêre kritici die 2018 Man Booker-prys gewen. Deur hierdie twee verhale wat die seksuele skending van twee jong vroue vertel saam te lees, kom daar interessante perspektiewe na vore wat ons gedagtes tydens hierdie 16 dae van aktivisme mag help rig.

Oor die jare heen het feministiese geleerdes 'n ruimte geskep waarin die stem van Dinah en ander slagoffers van seksuele geweld gehoor kan word. In 'n #MeToo-wêreld het dit nog dringender geword om bekommerd te wees oor die vrou se ervaring, om mét en nie óór die slagoffer te praat nie. Om Dinah se verlore stem aan te vul, stel ek voor dat die einste verteller van Milkman, wat haar herinneringe aan hoe sy die slagoffer van ʼn seksuele roofdier geword het deel, 'n kreatiewe manier bied om Dinah se ervaring as 'n slagoffer van seksuele geweld skerper in fokus te bring.

Een so 'n aspek het betrekking op hoe dit in beide die Verkragting van Dinah sowel as in Milkman onduidelik is wie die werklike oortreder is. Milkman vertel die verhaal van 'n naamlose jong vrou, bekend as middel-suster, wat terugkyk op die tyd toe sy as 18-jarige agtervolg is deur 'n karakter genaamd milkman, of later Milkman. Die verhaal van haar eie ervaring van seksuele bedreiging speel af in die konteks van wat sy in die 1970's as “die probleme" van, waarskynlik Noord-Ierland, beskryf. Twintig jaar later kyk die verteller terug na haar jonger self, en kan uiteindelik haar traumatiese herinneringe aan die voortdurende bedreiging, wat met dié van haar gemeenskap verweef is, in ʼn verhaal omskep.

Die interessantste is die dubbelsinnigheid wat Burns skep in terme van karakterisering, soos blyk uit die verwarring rondom die identiteit van die oortreder wat die verteller bedreig. Dwarsdeur die roman word in noukeurige besonderhede uitgebeeld hoe milkman die verteller bekruip en haar op pad huis toe van die Franse klas in sy onheilspellende wit bussie volg, saam met haar by die reservoir hardloop, en dreig om iemand – dalk ʼn kêrel – dood te maak.

Milkman die agtervolger, van wie vroeg in die verhaal gesê word dat hy nie melk aflewer nie, word verwar met die regte milkman, wat eintlik melk aflewer en blyk haar ma se kêrel te wees. In 'n verrassende wending aan die einde van die roman, blyk dit, volgens nuusberigte van sy gewelddadige dood deur paramilitêre troepe, dat die agtervolger se regte  naaam Milkman was! Dus, in 'n boek sonder eiename, bied die titel van die boek die enigste eienaam  ̶  die van 'n seksuele roofdier. Só word die tema van seksuele skending, wat sentraal staan in hierdie boeiende roman, beklemtoon.

Die verwarring oor wie die werklike oortreder is, word verder uitgebrei, soos blyk uit die eerste sin van die roman: “Die dag toe Somebody McSomebody 'n geweer teen my bors gedruk het en my 'n kat genoem het en gedreig het om my te skiet, was dieselfde dag toe die milkman gesterf het." Somebody McSomebody, wat by meer as een geleentheid saam met die verteller wil uitgaan, en op die ou end deur haar moeder as 'n geskikte huweliksmaat beskou word, blyk 'n werklike bedreiging vir die verteller te wees, en verkrag haar amper in die badkamer van die klub wat sy besoek het, was dit nie vir 'n groep vroue wat hom in 'n daad van vroulike solidariteit van haar weggepluk het nie.

Somebody McSomebody se naam is betekenisvol. 'Mc' of 'Mac' is ʼn tipiese keltiese voorvoegsel wat 'seun van' beteken en die karakter “… simply 'somebody the son of somebody" maak soos Claire Hutton opmerk ('The Moment and Technique of Milkman', p. 360). Deur die identiteit van die agtervolger te verwar en die naam van die amperse verkragter te verwyder, slaag Milkman daarin om te wys hoe algemeen seksuele geweld in hierdie samelewing is, soos ook elders. Dit is nie net Milkman nie, maar ook die Somebody McSomebodies van die wêreld wat vroue se welwees bedreig.

Ook in die verhaal bekend as die Verkragting of Dinah in Genesis 34 is dit nie altyd duidelik wie die oortreder en wie die slagoffer is nie. Dinah se broers, Levi en Simeon, wat geskend word deur die geweld teen hul suster, verander in oortreders wanneer hulle al die mans in die gemeenskap gewelddadig doodmaak, die stad plunder en die vroue van Sigem gevange neem en hulle vermoedelik ook tot seksuele verhoudings dwing.

In hierdie slagting raak Dinah verlore. In teenstelling met die verteller in Milkman, is Dinah heeltemal stil. Boonop word haar ervaring gekoöpteer as die baie persoonlike verhaal van wat die middag gebeur het toe sy die dogters van die land gaan sien het. Op 'n simboliese vlak blyk te wys op iets wat verder as haar eie skending strek, en dien om 'n gemeenskap se verval in chaos en verbrokkeling vas te vang.

Die verhale van geweld teen vroue wat in verhale soos die Verkragting van Dinah en Milkman vertel word, vestig ons aandag in hierdie 16 dae van aktivisme op die vele dade van geslagsgebaseerde geweld wat in die media gedokumenteer word, en wat helaas meer verspreid is as wat ons wil glo. Die feit dat hierdie trauma-narratiewe met al hul onduidelikhede en ingewikkeldhede die geweld verteenwoordig wat teen soveel vroue en kinders regoor die wêreld gepleeg word, in die verlede en die hede, vra ons om te besef dat geslagsgebaseerde geweld ons almal se probleem is.

*Prof Juliana Claassens is professor in Ou Testament en hoof van die Gender-eenheid in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Bronne

Burns, Anna. Milkman (Londen: Faber en Faber, 2018).

Hutton, Claire. “The Moment and Technique of Milkman," Essays In Criticism 69/3 (2019), pp. 349-371.