Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Historiese ooreenkoms tussen US, provinsiale regering ‘sal ook gemeenskappe, pasiënte baat’
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 13/11/2020

Ná agt jaar van onderhandeling is ʼn historiese bilaterale ooreenkoms tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid (DvG) bereik, wat die verhouding tussen hierdie opleidings- en diensleweringsvennote rig.

Hierdie ooreenkoms is op 31 Maart 2020 – net toe Suid-Afrika die grendeltyd betree het – onderteken deur die voormalige Hoof van die DvG, dr Beth Engelbrecht, en die US se Rektor en Vise-kanselier, prof Wim de Villiers.

“Ek wil ons kollegas gelukwens met hulle toewyding tot die finalisering van hierdie ooreenkoms, wat die belangrikheid van regverdigheid en gelykheid in ons vennootskap erken. Die onderliggende beginsels van die ooreenkoms sal die werksverhouding tussen die betrokke partye verder versterk en sal die pasiënte en gemeenskappe wat ons dien ook baat," het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê.

Hierdie versterkte vennootskap het werklik tot sy reg gekom tydens die Covid-19-pandemie en die ondertekenaars bemagtig om talle uitdagings in hierdie tyd suksesvol aan te pak, het dr Therese Fish, Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak van die FGGW, gesê. Fish het die onderhandelinge tussen die onderskeie partye saam met dr Dimitri Erasmus, voormalige uitvoerende hoof van die Tygerberg-hospitaal, gelei.

“Daar was baie hindernisse langs die pad en uitdagings wat ons te bowe moes kom, maar dit was ʼn belangrike proses vir ons om deur te gaan omdat ons van mekaar afhanklik is en saam moet werk," het Fish gesê.

Die US maak op die DvG staat om te voldoen aan sy statutêre vereiste om studente in ʼn kliniese omgewing op te lei, terwyl die DvG op die Universiteit staatmaak om vaardige gesondheidsorg-beroepslui op te lei en gesondheidsnavorsing te produseer ten einde bewysgebaseerde sorg te lewer.

“Die ooreenkoms bepaal die verhouding wat betref ons personeel- en befondsingsreёlings, ons toegang tot kliniese omgewings vir opleiding, asook vir navorsing," het Fish verduidelik. Die ooreenkoms maak onder meer voorsiening vir kundiges om in beide ʼn akademiese en ʼn kliniese kapasiteit as gesamentlike personeellede van die US en die DvG te werk; vir die opleiding van mediese en gesondheidswetenskappestudente in gesondheidsfasiliteite oor die provinsie heen; asook vir navorsing wat in gesondheidsorgfasiliteite gedoen word.

ʼn Bygewerkte ooreenkoms vir veranderende tye

Die bilaterale ooreenkoms vervang ʼn 43 jaar oue ooreenkoms wat in 1977 tussen die Universiteit en die provinsiale DvG bereik is, en neem die transformasie wat die US, die gesondheidsorgsektor en die land sedertdien ondergaan het, in ag.

Die behoefte aan ʼn bygewerkte ooreenkoms is in 2012 vasgemaak in ʼn multilaterale ooreenkoms tussen die Wes-Kaapse regering en sy vier universiteits-opleidingsvennote in die provinsie – die US, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kaapse Skiereiland- Universiteit vir Tegnologie.

“Dit het ons agt jaar geneem om die bilaterale ooreenkoms af te handel. Die rede hoekom dit ons so lank geneem het, was omdat daar wantroue tussen die partye was, asook kwessies wat opgelos moes word rondom die gebruik van hulpbronne wat regverdig vir al die partye was. Ons moes weer gaan dink oor ons verhouding met mekaar," het Fish gesê.

Dr Terrence Carter, ʼn voormalige uitvoerende hoof van die Tygerberg- en Groote Schuur-hospitale, is gevra om die onderhandelinge te fasiliteer en het gehelp om talle van die gesprekke oor historiese ongelykheid en verskille te stuur. Onder sy leierskap het die partye moeilike, maar dapper gesprekke gevoer en 12 stigtingsbeginsels ontwikkel waarop die bilaterale ooreenkoms berus (sien onder).

“Daar was baie moeilike gesprekke en heelwat water moes onder die brug deurvloei voor ons in ʼn posisie was om die ooreenkoms te onderteken. Hierdie ooreenkoms plaas ons nou in ʼn posisie waar ons saam as vennote kan werk tot voordeel van ons gemeenskappe, tot voordeel van ons studente en toekomstige graduandi, en tot voordeel van die US en die Wes-Kaapse Regering," het Fish vervolg.

Volgens Erasmus is die ondertekening van die bilaterale ooreenkoms “inderdaad ʼn historiese en betekenisvolle gebeurtenis. Dit vestig die vennootskap rondom ʼn gedeelde visie van uitnemendheid in gesondheidsorg en in die onderrig en opleiding van gesondheidsberoepslui, terwyl dit ook ʼn ondersteunende omgewing skep om die grense in mediese navorsing te verskuif.

“Nou begin die werk aan die institusionalisering van die ooreenkoms deur die omarming van ʼn nuwe manier om saam sake te doen."


12 stigtingbeginsels van die bilaterale ooreenkoms

  1. Bou van vertroue deur openheid en deursigtigheid
  2. Verbintenis tot regverdigheid, in die lig van historiese ongelykheid
  3. Die volg van ʼn bemagtigende benadering
  4. Verbintenis tot die gees van vennootskap
  5. Verbintenis tot die bou van ʼn positiewe organisatoriese kultuur
  6. Verbintenis tot kollektiewe veranderingsbestuur
  7. Realistiese verwagtinge in die lig van hulpbronbeperkings
  8. Verbintenis tot aanpak van magswanbalans en -beheer
  9. Erkenning van die “mediese model-vooroordeel" in die multilaterale ooreenkoms
  10. Verbintenis tot die gees van die multilaterale ooreenkoms
  11. Deel van tegniese kundigheid tussen partye
  12. Verbintenis tot fundamentele transformasie en gelykheid

Onderskrif: Drs Therese Fish en Dimitri Erasmus. Foto deur Stefan Els