Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bring hulde aan Grondwet met nuwe kunsinstallasie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 04/11/2020

​Die onthulling van 'n nuwe kunswerk voor die Universiteit Stellenbosch (US) se Ou Hoofgebou in Ryneveldstraat is 'n uitbeelding van die Universiteitsgemeenskap se verbintenis tot eenheid en die uitbouing van die land.

“Ons wil die Universiteitsgemeenskap verenig met simbole wat die wonde van die verlede sal genees en wat ons sal help om saam vorentoe te beweeg. En hierdie installasie is deel van daardie voortdurende proses," het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, Dinsdag (3 November 2020) by die bekendstelling van die kunswerk gesê.

Die kunswerk, wat as die “Aanhef-kunsinstallasie" bekendstaan, bestaan uit drie afsonderlike metaalplate wat die aanhef tot die Grondwet in drie tale (Afrikaans, Engels en isiXhosa) uitbeeld. Die woorde van die aanhef is met watersnytegnologie op die plate uitgesny.

De Villiers het gesê die Universiteit is op 'n reis om sy institusionele kultuur te vernuwe. Dit sluit 'n proses in om met 'n vars blik na dít wat visueel sigbaar is in die ruimtelike uitleg te kyk, asook na visuele ikonografie en sigbare simbolisme op sy kampusse.

“Daar was 'n tyd toe Suid-Afrika geïsoleerd in die gemeenskap van wêreldlande gestaan het weens diskriminerende en onderdrukkende beleide, maar dit is nie meer die geval nie. Ons het 'n vreedsame, onderhandelde oorgang na demokrasie gemaak en het 'n nuwe Grondwet geskryf wat aan ons 'n goeie raamwerk verskaf wat ons ook as 'n universiteitsgemeenskap lei.

“Hierdie kunsinstallasie sal ons voortdurend aan daardie raamwerk herinner, 'n konstante herinnering dat ons 'n lang pad gestap het, 'n herinnering dat ons land, en ook ons Universiteit, 'n beter plek geword het. Dit beteken egter nie dat ons gearriveer het nie. Inteendeel. Dit is ons taak om die Grondwet te beskerm en seker te maak dat die beloftes wat dit bevat, nagekom word. Sosiale geregtigheid, menseregte, lewensgehalte, eenheid - of dit nou in die land of aan ons universiteit is - hierdie ideale moet nog bereik word."

Die 134-jaar oue Ou Hoofgebou is die tuiste van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid.

Prof Nicola Smit, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, het gesê die projek is in 2017 van stapel gestuur as deel van die US se breër visuele regstellingsproses.

“Besprekings het reeds voor die #Feesmustfall-protesoptogte begin, maar die behoefte aan dringender vordering met hierdie proses is beslis deur die studente gedurende hierdie protesoptogte beklemtoon.

“Ons herinneringe uit die verlede tesame met hierdie nuwe visuele herinnering aan die aspirasies van die mense van Suid-Afrika bied aan ons die geleentheid om herinneringe – uit die verlede en teenswoordige tyd, individueel en kollektief – te gebruik om ons verhoudings met alle mense op 'n inklusiewe en nadenkende manier te vestig, te handhaaf en te koester.

“Dit was uit die staanspoor belangrik dat die Aanhef tot die Grondwet as 'n fisieke skakel tussen die openbare ruimte buite die Ou Hoofgebou en die Fakulteit Regsgeleerdheid dien, terwyl dit 'n samelewing te simboliseer wat in 'n grondwetlike demokrasie geanker is en wat as simbool van die belangrikheid van toegang tot geregtigheid en die verwesenliking van sosiale geregtigheid vir almal sal dien."

Die kunswerk is deur die bekende landskapkunstenaar, Strijdom van der Merwe, ontwerp.

“Veertig jaar gelede was ek 'n eerstejaarstudent in hierdie einste gebou en het ek nooit kon dink dat ek deur my kuns 'n bydrae tot transformasie op Stellenbosch sou maak nie," het hy gesê.

Volgens Van der Merwe is van die kunswerk se dinamiese kenmerke die deursigtigheid en die vermoë om die seisoene weer te gee.

 Die werk is een van 'n reeks visuele regstellingsprojekte wat tans op die US se kampusse aan die gang is.


Aanhef

Ons, die mense van Suid-Afrika,
Erken die ongeregtighede van ons verlede;
Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;
Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en
Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.
Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde –
Die verdeeldheid van die verlede te heel en ʼn samelewing gegrond op demokratiese
waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;
Die grondslag te le vir ʼn demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is
op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;
Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te
ontsluit; en
ʼn Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ʼn soewereine
staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.
Mag God ons mense beskerm.
Nkosi Sikelel' iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.
God seen Suid-Afrika. God bless South Africa.
Mudzimu fhatutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika.\