Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jaar van die gestremde onder die loep by US-seminaar
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/09/2020

Hoewel die COVID-19-pandemie moontlik “die Universiteit Stellenbosch se Jaar vir Persone met Gestremdhede 'n bietjie oorskadu het", was en is die US ten volle daartoe verbind om die toeganklikheid van fisieke ruimtes te vergroot en om mense meer bewus te maak van die regte van mense met gestremdhede.

Dit was die boodskap van die hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede, dr Marcia Lyner-Cleophas, by 'n twee dae lange seminaar wat op 14 en 15 September 2020 gehou is om die Universiteit se 2020 Jaar van Gestremdhede te bespreek en dit in oënskou te neem. Die seminaar is deur die US se Eenheid vir Gestremdhede in samewerking met die Afdeling vir Studentesake en die in samewerking met die African Network of Evidence to Action (AfriNEAD) aangebied.

Die COVID-19-pandemie het baie universiteite gedwing om hul metodes van leer en onderrig te herskep ten einde studente in staat te stel om die 2020-akademiese jaar suksesvol te voltooi. Die US se Eenheid vir Gestremdhede kon die pandemie as 'n geleentheid gebruik om hul werkswyses te hersien en gapings te identifiseer, terwyl hulle ook studente met gestremdhede gehelp het om toegang tot hul akademiese werk te kry en hul studies aanlyn voort te sit.

Prof Gubela Mji, Direkteur van die Sentrum vir Rehabilitasiestudies aan die US wat Lyner-Cleophas bygestaan het om die seminaar te fasiliteer, het gesê dit het 'n “belangrike platform" vir personeel en studente geskep om sekere kwessies aan te spreek en om die weg te baan vir beter voorspraak vir mense met gestremdhede te doen.

Van die sprekers wat gedurende die twee dae opgetree het, was:

  • Prof Leslie Swartz, uitgelese professor in die departement Sielkunde,
  • Mnr Wentzel Barnard, Sportbestuurder by Maties ParaSport,
  • Dr Ronel Retief, Registrateur van die US,
  • Dr Martha Geiger, senior dosent by die US se Sentrum vir Gestremdhede en Rehabilitasiestudies,
  • Prof Quinette Louw, 'n fisioterapeut en hoof van die Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe,
  • Me Katlego Letlonkane, programbestuurder: diversiteitskapasiteitsontwikkeling in die eenheid vir Gelyke Indiensneming en die Bevordering van Diversiteit in die Afdeling Menslike Hulpbronne,
  • Mnr Bongani Mapumulo, 'n nagraadse student en voormalige hoof van Dis-Maties,
  • Mnr Jeff Ngobeni, 'n studente-aktivis en assistent-dosent in die Fakulteit Teologie,
  • Me Josie Joubert, 'n voorgraadse student aan die US,
  • Mnr Rudi le Roux, tegniese beampte by die US,
  • Me Hillary Lane, AfriNEAD-koördineerder,
  • Dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Afdeling vir Studentesake aan die US,
  • Mnr Ben Truter, 'n kliniese sielkundige en kliniese birekteur by die Neurodiversiteitsentrum,
  • Me Heather Osborne, ouer van 'n US-student met gestremdhede,
  • Dr Cindy Wiggett-Barnard, HUB by ChangeAbility, en
  • Dr Candace Vermaak, 'n biokinetikus wat in persone met gestremdhede spesialiseer.

Baie van die sprekers het teruggekyk op persoonlike en professionele ondervindings wat met mense met gestremdhede verband hou. Van die nagenoeg 32 000 studente aan die US, het 423 studente met gestremdhede hul gestremdhede bekendgemaak toe hulle by die US aansoek gedoen het.

Die meeste van die sprekers het gepleit dat meer gedoen moet word om diegene met “onsigbare gestremdhede", veral geestesiektetoestande en studente wat hulp soek vir psigososiale toestande, te help.

Volgens Lyner-Cleophas dui statistieke daarop dat meer studente gemaklik voel om na vore te kom oor hul behoefte aan ondersteuning vir geestesgesondheidstoestande, maar die werklikheid is ook dat die meeste gestremdhede onsigbaar is.

“Studente met spesifieke leergestremdhede, geestegesondheid- of ander gesondheidstoestande moet veilig voel om na vore te kom en om hulp by ons eenheid aan te klop. Hoewel die Eenheid vir Gestremdhede reeds 'n ver pad gestap het om die uitdagings aan te pak om die kampus meer toeganklik te maak, is daar nog soveel werk wat gedoen moet word," het Lyner-Cleophas gesê.

Dr Ronel Retief het by die seminaar van die werk uitgelig wat die US oor die verloop van jare gedoen het om meer inklusief te wees en toegang vir studente met gestremdhede te skep. Van die hoogtepunte wat sy genoem het, was onder meer die toegangsbeleid vir mense met gestremdhede, wat in April 2018 in werking getree het.

Retief het gesê elke jaar registreer meer en meer studente met gestremdhede by die US en die Universiteit doen alles in sy vermoë om 'n meer toeganklike en inklusiewe omgewing te skep; daar is egter nog talle uitdagings.

“Ons moet nog baie uitdagings oorkom en aanspreek. Daar moet deurlopende bewustheid wees en ons moet ons onbewustelike vooroordele sigbaar maak, ons aannames bevraagteken – veral rondom professionele liggame, ons moet voortdurend ons denkrigtings aanpas, ons moet beleide aanpas en ons bedryfsmetodes verander en ons infrastruktuur verbeter," het Retief gesê.

Vir meer inligting oor die Eenheid vir Gestremdhede, klik hier.

Ander belangrike kontakte:

disability@sun.ac.za – vir enige navrae wat met gestremdhede verband hou

Braille@sun.ac.za – vir die oorskakeling van klaskamermateriaal na leesbare formate

skryftyd@sun.ac.za – vir navrae oor bykomende skryftyd

Wentzel Barnard – ww2@sun.ac.za – vir enige navrae wat met sport verband hou​