Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe konsortium beoog om primêre gesondheidsorg te versterk
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Sue Segar
Gepubliseer: 16/09/2020

Professor Bob Mash, hoof van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg is aangewys as die voorsitter van ʼn nuwe globale konsortium, die Primêre Gesondheidsorg Navorsingkonsortium (PHCRC), wat ten doel het om gehalte primêre gesondheidsorg (PGS) oor die wêreld heen te bevorder deur middel van gefokusde en relevante navorsing.

Die PHCRC, wat deur die Bill en Melinda Gates-stigting befonds word, sal, onder andere, belangrike navorsing wat verband hou met PGS ondersoek, met ʼn fokus op lae- en middel-inkomste lande (LMIL).

Die konsortium beoog om “geprioriseerde en beleid-relevante navorsing te doen wat plaaslike en globale pogings sal ondersteun om PGS stelsels van hoë gehalte te bou in die strewe na universele gesondheidsdekking en die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte".

Die konsortium sal hierdie doelwitte bereik deur die ontwikkeling en behoud van ʼn globale PGS-navorsingsnetwerk wat deur organisasies in LMIL gelei word.

In ʼn onderhoud het Mash gesê dat die vorming van die konsortium ʼn "uitstekende" verwikkeling is aangesien befondsers histories liewer hulle geld "vir siektetoestande gegee het in plaas van navorsing oor PGS as ʼn stelsel."

"Dit is baie belangrik om toegewyde befondsing hiervoor te hê aangesien suksesvolle gesondheidstelsels op sterk PGS gegrond is. Dit is wonderlik om hierdie befondsing te hê in plaas van gefragmenteerde programme vir verskillende siektetoestande," het hy gesê.

"Die huidige navorsing oor hoe om sterk PGS-stelsels in LMIL te bou is gefragmenteerd en fokus op die meting van gapings. Strategieë om kern PGS-funksies te verbeter, soos bestuurs-, dienslewering-, gehalte sorg- en finansiële modelle is minder bekend. Daar is ʼn dringende behoefte om die uiteenlopende navorsingspogings te koördineer en om kapasiteit en hulpbronne toe te wy aan die prioriteitsvraagstukke van landsleiers waarvoor beter bewyse nodig is om die lewering van regverdige, hoë gehalte PSG te bewerkstellig."

Die konsortium sal belanghebbendes se behoeftes vir kennis identifiseer, bewysgaping-analises doen, prioriteitsvrae aanspreek en vergelykings tref tussen verskeie lande om kennisverkryging oor verskeie omgewings te maksimaliseer.

Ter verduideliking hoe die konsortium tot stand gekom het, het Mash gesê dat ʼn groep mense oorspronklik byeen gebring is deur die Ariadne Labs in die Verenigde State.

"Hierdie groep het die globale navorsing hersien en met vier sleutelareas opgekom waarna hulle in diepte wil kyk. Hulle het ʼn beroep op navorsers gedoen om na die kennisgapings in daardie areas te kyk. Die lede van die konsortium is diegene wat op die beroep gereageer het en die aanvanklike werk gepubliseer het in die BMJ Global Health as ʼn bylae."

Die Primêre Sorg en Huisartskunde Netwerk (Primafamed) vir Afrika suid van die Sahara, waarvan Mash die koördineerder is, het op die beroep gereageer.

"Nadat die aanvanklike werk voltooi is, het ons sowat ʼn jaar gelede as ʼn konsortium ontmoet by die Departement Huisartskunde om te besluit oor die volgende stap en hoe die konsortium moet lyk.

"Ons het besluit dat die konsortium se befondsings- en administratiewe kernorganisasie by die George Instituut in Delhi, Indië gehuisves sal word.

"Ons het ʼn bestuurskomitee gestig en vroeër vanjaar ʼn byeenkoms in Delhi gehad (net voor die Covid-19 uitbreking) en ek is gekies as komiteebestuurder vir die konsortium."

Mash het gesê dat die gapings wat hulle geïdentifiseer het in die globale kennis van wat werk in PGS sluit die volgende in: organisasie- en sorgmodelle; gehalte-, veiligheid- en prestasiebestuur; beleid en bestuur; en finansiering van primêre sorgstelsels.

Hy het bygevoeg dat deur middel van konteks-spesifieke ontwerp en verspreidingsbane, die PHCRC en sy lede die impak van navorsingsbevindings kan verbeter, en sodoende is dit meer waarskynlik dat die kennis wat opgedoen is, in aksie oorgesit sal word.

Mash het gesê dat dit "wonderlik" is om deel van ʼn globale konsortium te wees.

Buiten Mash, bestaan die bestuurskomitee uit lede van die VSA, Bangladesj, Nieu Seeland, Australië en Libanon.

"Ons hoop dat deur die kennisgapings aan te spreek, kwessies oor verskeie omgewings ook aangespreek sal word ... en om vrae op ʼn globale manier te beantwoord," het Mash gesê.

Mash het gesê dat deur sy werk met die konsortium, het hy besef dat daar baie mense binne die fakulteit is wat navorsing doen oor PGS "in hulle eie silo's en borrels".

Dit het daartoe gelei dat hy gemotiveer het vir die skepping van ʼn interdepartementele, interdissiplinêre benadering tot samewerking met PGS-navorsing.

"Ons moet mense binne die fakulteit verbind om te sien hoe ons kan saamwerk op kern navorsingsvrae."

Hy het gesê dat die fakulteitsbestuur daartoe ingestem het om PGS ʼn nisarea te maak vir die fakulteit.

"Ons het met die departemente ontmoet wat belangstel in PGS, insluitend Verpleeg- en Verloskunde, Globale Gesondheid, en ander, en ons het areas geïdentifiseer waar daar baie oorvleueling is, insluitend in die onderrig en opleiding van PGS-verskaffers en menslike hulpbronne vir gesondheidsbeleid; asook oor effektiewe diens dekking. 

"ʼn Beplande werkswinkel waar ons die navorsingsvrae sou identifiseer wat ons as ʼn groep wou aanpak is uitgestel wees Covid-19, maar ons sien uit daarna om verder hieraan te werk," het Mash gesê. 

Die BMJ Global Health bylae oor die aanvanklike werk en kennisgapings kan hier gelees word https://gh.bmj.com/content/4/Suppl_8 en verdere inligting oor die PGS-nisarea in die fakulteit is hier beskikbaar https://www.sun.ac.za/english/faculty/healthsciences/Pages/Primary-Health-Care.aspx


Onderskrifte

Bannier-foto: Prof Bob Mash. Foto deur Stefan Els.

Artikel-foto 1: Agterste ry van links na regs - Saif-Ur-Rahman (International Centre for Diarrhoeal Disease Research, Bangladesj); Racha Fadlallah (American University of Beirut, Lebanon); Jocelyn Fifield (Ariadne Labs, VSA); David Ponka (Wonca, Kanada); ​Wolfgang Munar (George Washington University, VSA); David Peiris (George Institute, Australië); Praveen Devarsetty (George Institute, Indië). Voorste ry van links na regs - Amanda Howe (Wonca, VK); Felicity Goodyear-Smith (Wonca, Nieu Seeland); Bob Mash (Primafamed, RSA); Lisa Hirschhorn (Ariadne Labs, VSA); Shabir Moosa (Wonca, Afrika and RSA).

Artikel-foto 2: Praveen Devarsetty (George Institute, Indië); Saif-Ur-Rahman (International Centre for Diarrhoeal Disease Research, Bangladesj); Lisa Hirschhorn (Ariadne Labs, VSA); Felicity Goodyear-Smith (Wonca, Nieu Seeland); Bob Mash (Primafamed, RSA)