Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers help skryf aan internasionale boek oor wetenskapskommunikasie
Outeur: Corporate Communication & Marketing/ Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 14/09/2020

Twee navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US), drr Bankole Falade en Marina Joubert van die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie, is mede-outeurs van twee hoofstukke in 'n nuwe boek oor wetenskapskommunikasie wat op Maandag (14 September) vrygestel word (aanlyn-bekendgestelling op Dinsdag 15 September). Falade en Joubert is ook verbonde aan die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapskommunikasie wat by die US gesetel is.

Die nuwe boek, getiteld 'Communicating Science. A global perspective', beskryf hoe openbare wetenskaplikskommunikasie regoor die wêreld ontwikkel het. Dit beslaan 40 hoofstukke deur 108 outeurs en dek verskillende streke (39 lande) en kulture: ontwikkelde lande van Europa, Asië en die Amerikas, sowel as ontluikende ekonomieë soos Rusland, Jamaika, Estland, Iran en Pakistan.

Die hoofstuk oor Nigerië is geskryf deur Falade, Herbert Batta (Universiteit van Uyo) en Diran Onifade, wat bekend is vir sy televisiewerk, terwyl Joubert en Shadrack Mkansi (Suid-Afrikaanse agentskap vir die Bevordering van Wetenskap en Tegnologie) mede-outeur was van die hoofstuk oor Suid-Afrika.

Die Nigeriese hoofstuk beklemtoon die rol van wetenskapskommunikasie om die vele ontwikkelingsuitdagings wat Nigerië in die landbou, gesondheid, nywerheid en omgewing in die gesig staar, te oorkom. 

“Nigerië is 'n ontwikkelende ekonomie wat gekonfronteer word met 'n hoë vlak van godsdienstige oortuigings wat antiteties kan wees tot die verspreiding van wetenskaplike idees," sê Falade. Hy voeg by dat “ons die steun van regerings, godsdiensleiers, wetenskapsverenigings en akademici, institute en die burgerlike organisasies nodig het indien  die wetenskap ʼn positiewe impak moet maak."

Onifade is dit eens met Batta en Onifade dat daar debatte moet wees oor die vermindering van die behandelingskoste vir malaria, MIV/Vigs en ander siektes. Dit beteken dat gevestigde praktyke in die farmaseutiese industrie en wette wat dit beskerm, aangespreek moet word.

Die hoofstuk oor Suid-Afrika skets nie net hoe wetenskapskommunikasie gevorm is deur die land se onstuimige verlede nie, maar ook hoe die landskap vir wetenskapskommunikasie sedert die koms van demokrasie verander het. Dit gee erkenning aan sommige baanbrekers van wetenskapskommunikasie in Suid-Afrika en besin oor hoe navorsingsinstellings wetenskap toegankliker vir die samelewing maak. In die huidige konteks word die belangrikheid van inheemse kennissisteme erken, tesame met die noodsaaklikheid om pseudowetenskap te bestry.

“Wetenskapskommunikasie in Suid-Afrika het 'n lang pad geloop en word toenemend erken as 'n kerndeel van die verantwoordelikheid van wetenskaplikes en navorsingsorganisasies, sowel as 'n belangrike navorsingsveld," sê Joubert. “Ons moet egter baie meer uitdagings die hoof bied en oorkom om 'n kultuur van wetenskap en wetenskaplike dialoog tussen Suid-Afrikaners te kweek, en baie van hierdie uitdagings hou verband daarmee dat  wetenskapskommunikasie meer inklusief en divers gemaak word."

“Communicating Science. A Global Perspective" kan vanaf 14 September 2020 gratis afgelaai word  by ANU Press: https://press.anu.edu.au/publications/communicating-science  (harde kopieë word op aanvraag gedruk). Die aanlyn-bekendstelling vind op Dinsdag 15 September, via Zoom, om 14:00 Britse tyd in Londen (of UTC / GMT) plaas. Registreer by https://pcst.co/webinars/public/. Tydens die bekendstelling sal vyf outeurs meer oor hul lande of streke vertel: die VSA, Pakistan, Australië, Oos-Afrika en Rusland.