Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bring hulde aan wyle Rachel Kachaje
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 11/09/2020

​“Die Universiteit Stellenbosch is diepbedroef oor die nuus van die afsterwe van die gestremdheidsaktivis, me Rachel Kachaje, en ons is spyt dat ons nie haar eregraad aan haar persoonlik sal kan oorhandig by ons gradeplegtigheid in Desember 2020 nie," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, gesê.

Me Kachaje, wat onvermoeid vir gelyke geleenthede en regte vir mense met gestremdhede in Malawi, die Afrika-streek en die buiteland geveg het, is genomineer om 'n eregraad van die Universiteit te ontvang. Me Kachaje se doktorsgraad in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, sal nou postuum aan haar toegeken word in Desember 2020.

In die negentigerjare was meKachaje die medestigter van Malawi se Federasie van Gestremdheidsorganisasies (FEDOMA) en daarna het sy FEDOMA in die Suider-Afrika Gestremdheidsfederasie (SAFOD) verteenwoordig. Gefokus daarop om die agendas van mense met gestremdhede in die algemeen, en veral vroue en meisies met gestremdhede, te bevorder, het sy daarna gestrewe om te bewys dat sukses afhang van 'n positiewe geestelike ingesteldheid.

Haar doeltreffendheid as gestremdheidsaktivis het nie ongesiens verbygegaan nie. Me Kachaje is as Minister van Gestremdheid- en Bejaardesake in Malawi aangestel en in 2004 ontvang sy ʼn Malawi-menseregtetoekenning asook 'n diversiteitsleier-toekenning. Sy het onder meer as voorsitter van die Statebondforum vir Gestremde Mense, Disabled People's International en SAFOD gedien en sy was uitvoerende direkteur en stigter van Disabled Women in Africa.

Hierbenewens was me Kachaje onder meer 'n raadslid van die Afrika-gestremdheidsalliansie en die EquitAble-projek van Trinity Kollege en die Universiteit Stellenbosch; medestigter van Disabled Women in Development; kommissaris van die Nasionale Vigskommissie en sekretaris van die raad van die Afrika-gestremdheidsforum.

Op internasionale vlak het Kachaje tot die baanbrekersonderhandelinge van die VN-konvensie oor die regte van mense met gestremdhede (UNCRPD) en die gesprekke vir die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte (MOD's) bygedra.

Ten einde die sigbaarheid van vroue met gestremdhede te verhoog, het me Kachaje as geleentheidspreker en as 'n paneellid by verskeie streeks- en internasionale konferensies opgetree. Dit sluit onder meer die Konferensie van Landspartye binne die Verenigde Nasies en die Afrika-Unie se Hoëvlak-dialoog oor Gender en Gestremdheid in.

“Die US eer me Kachaje vir haar uitsonderlike werk as voorstander vir die volle insluiting van mense met gestremdhede in Malawi, die Afrika-streek en die buiteland en ek wil namens ons Universiteit ons diepe medelye teenoor haar man, Gibson, en haar familie betuig" het De Villiers gesê.​